Skerp sekuriteitsman vang ‘reeksoortreders’

Die polisie het gehelp om die verdagtes aan te keer. (Foto: Verskaf)

Vier vermeende diewe is danksy die skerp geheue van ʼn lid van ʼn sekerheidsmaatskappy in Gauteng vasgetrek. Dít nadat die lid op pad huis toe toevallig verby die verdagtes se motor gery het.

Die gemeenskapsbedryfbestuurder van Fidelity ADT het geweet dit is ʼn verdagte motor, aangesien dit vantevore by die toneel van ʼn winkeldiefstalvoorval opgemerk is.

Van die verdagtes word reeds gesoek vir misdade wat verband hou met diefstal, roof en verkragting.

Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie van die sekerheidsmaatskappy Fidelity ADT, sê twee mans en twee vroue het hulself op 27 November as paartjies voorgedoen toe hulle by ʼn Makro in Strubensvallei, Roodepoort, ingegaan het.

“Die verdagtes het twee skootrekenaars wat uitgestal is, ontkoppel. Dit het veroorsaak dat ʼn alarm afgaan,” sê sy.

“Terwyl die verkoopspersoon probeer het om die alarm van een van die skootrekenaars te herstel, het die verdagtes met ʼn ander skootrekenaar ter waarde van R20 000 op die vlug geslaan.”

Die verdagtes het in ʼn blou Volkswagen Polo gevlug en ʼn saak van diefstal is later by die polisie aanhangig gemaak. Die motor se nommerplaat is ook op die stelsel gelaai.

Sheldon Grobler, ADT se gemeenskapsbedryfbestuurder aan die Oos-Rand, was vandeesweek op pad huis toe, toe die gesoekte motor verby hom gery het.

“Hy het dadelik omgedraai en die motor agternagesit. Die Wes-Rand se honde-eenheid het ook kort daarna opgedaag en die motor help onderskep,” sê sy.

Al vier verdagtes wat by die vermeende diefstal betrokke was, is in hegtenis geneem.

Hattingh sê ná verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat minstens drie van die verdagtes sake van diefstal uit winkels, verkragting en roof teen hulle aanhangig het.

Die verdagtes sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Misky ·

Hierdie mense werk so hard om hierdie kriminele gevang te kry en die howe gee borg en die skurke gaan maar net voort. Kyk net daai ernstige aanklagtes alreeds. Bou ekstra tronke en hou die tipe mense uit die samelewing.

Skappie ·

Mooi so man. Net jammer as hulle saak klaar voorgekom het, kry hulle borgtog, om maar net weer dieselfde te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.