Skerp teenkanting teen beoogde nuwe Weskus-windplaas

Die ligging van die beoogde windplaas. (Grafiek: CES)

Deur John Yeld, GroundUp

Die regering gaan na verwagting binne die volgende twee weke sy besluit aankondig oor ʼn enorme nuwe windplaasprojek langs die Weskus.

Die voorgestelde 140 MW-Boulders-windplaas gaan uit 45 turbines bestaan wat 165 m hoog is. Die Duitse ontwikkelaar beoog om dit op ʼn plaas in die omgewing van Paternoster, Britanniabaai en Vredenburg op te rig.

Indien die windplaas goedgekeur word, gaan die fasiliteit bestaan uit ʼn ontwikkeling op sowat 44 ha. Die plaas is in totaal 5 100 ha groot. Dit sal geleë wees langs die effens kleiner West Coast One-windplaas wat sedert Junie 2015 in bedryf is. Dié windplaas bestaan uit 47 turbines en kan 94 MW opwek. Dit sal beteken die gebied is een groot, hernubare kragfasiliteit op die hoogste punt van die Weskus-skiereiland.

Die twee plase gaan egter afsonderlik besit en bestuur word.

Kritici van die projek sê omdat baie van die nuwe turbines op heuwels opgerig gaan word, gaan dit in sommige gevalle selfs so hoog soos die Eiffeltoring in Parys, Frankryk wees, of meer as twee keer die hoogte van die Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty) in New York. Dit gaan glo ʼn enorme sigbare uitwerking hê wat van die Weskus Nasionale Park in die suide tot anderkant die kusdorpie Dwarskersbos in die noorde gesien sal kan word. Dit is ʼn gebied wat oor sowat 90 km strek.

Hulle voer aan die projek gaan ook ʼn negatiewe uitwerking op toerisme en eiendomswaardes hê in dié gebied wat beskryf word as ʼn streek met “uitsonderlike natuurlike skoonheid en ʼn sterk inheemse karakter”. Daarmee saam is daar vrese dat die windplaas ʼn negatiewe uitwerking op onder meer die voëllewe, vlermuise en erfenishulpbronne gaan hê.

Die konsultasiemaatskappy Coastal and Environmental Services (CES) het op 16 September die finale omgewingsimpakverslag oor die Boulders-projek by die regering ingedien en meen die vrese is ongegrond.

Hy het voorgestel dat die nuwe projek goedgekeur word, ondanks die feit dat hy nege verskillende sigbare uitwerkings as “hoë negatief” geklassifiseer het. Die moontlike gesamentlike uitwerking van verskeie windplase op vlermuisvrektes is ook as “hoë negatief” aangedui.

“In die geheel is daar verskeie moontlik negatiewe uitwerkings (omgewing en maatskaplik) wat met die Boulders-windplaas verband hou. Die grootste koste kan egter tot ʼn aanvaarbare vlak verminder word deur versagtende maatreëls in te stel. Dit geld nie vir die sigbare impak nie, omdat dit gewoonlik moeilik is om iets daaraan te doen,” lui die verslag.

West Coast One is ‘n bestaande windplaas in die omgewing. (Foto: Windlab)

Ten spyte van die negatiewe aspekte, glo die maatskappy nie enigiets moet die projek stuit nie.

“Daar is tevore al gewys dat die sigbare steurnisse geen beduidende uitwerking op eiendomswaardes en toerisme het nie. Die behoefte aan en wenslikheid van die Boulders-windplaas word nie net uit ʼn beplanning- en beleidperspektief op nasionale vlak gesteun nie, maar ook op provinsiale, distrik- en plaaslike vlak.”

Die maatskappy voer aan die projek gaan plaaslike sosio-ekonomiese voordele inhou wat ooreenstem met die ontwikkelingsdoelwitte van die staat se program vir die verkryging van hernubare energie van onafhanklike verskaffers (REIPPPP).

Peter Pickford, ʼn bekroonde wildlewefotograaf wat in die omgewing woon, is een van diegene wat die projek teenstaan.

Pickford, wat saam met sy vrou, Beverly, reeds tien boeke gepubliseer het, het aan omgewingskonsultante gesê hy doen voorleggings nie as ʼn individu nie, maar as ʼn verteenwoordiger van drie huiseienaarsverenigings langs die kus.

Hulle is bekommerd oor die sigbare uitwerking van die projek en ook omdat die ontwikkelaar van die projek, Vredenburg Windfarm (Pty) Ltd, glo aansienlik minder streng standaarde hier toepas as in Duitsland.

Hulle bevraagteken ook die geldigheid van die openbare deelnameproses wat CES bestuur het.

Pickford het benadruk dat hy en verskeie van sy medebeswaardes omgewingsaktiviste is en dus ten gunste van alternatiewe energie, soos windkrag, is.

“Ons is wel gekant teen ʼn ontwikkeling wat oorhaastig en ondeurdag is en gaan dit nie steun as dit duidelik is dat die gevolge moontlik aaklig gaan wees en alternatiewe daarvoor bestaan nie,” het hy gesê.

Tydens ʼn onlangse openbaredeelnamevergadering om ʼn afsonderlike projek wat met die windplaas verband hou te bespreek (ʼn voorgestelde 132 KV-kraglyn om die voorgestelde windplaas te bedien), het Pickford voorgestel dat ʼn mosie van wantroue in die omgewingskonsultante aanvaar word vir hulle beweerde gebrek aan onpartydigheid en objektiwiteit met dié projek, asook hulle Boulders-bevindings.

Die uitslag was 1 361 stemme ten gunste van die mosie, met net tien mense wat CES gesteun het.

“Dit is noemenswaardig dat uit dié stemme, die meerderheid afkomstig was van grondeienaars wat finansieel uit die voorgestelde ontwikkeling wil baat,” het Pickford gesê.

“Ek sal selfs verder gaan en sê die uitslag weerspieël die plaaslike gemeenskappe van die Weskus-skiereiland se groot kommer dat ʼn windkragfasiliteit hier misplaas is wanneer jy in ag neem dat toerisme verreweg die voorkeurontwikkelingsroete vir die gebied met sy besonderse geografiese kenmerke is.”

CES se besturende direkteur, dr. Ted Avis, het die kritiek verwerp en gesê die maatskappy het wetgewing streng gevolg.

“Groot klem is geplaas op die openbaredeelnameproses om te verseker dat alle belangstellende en geraakte partye die kans kry om met die omgewingskonsultante in gesprek te tree. Ons is van mening dat die omgewingsimpakstudie ʼn objektiewe en opregte ontleding gee van die omgewing-, maatskaplike en ekonomiese gevolge van die windplaas.”

Volgens Avis het hul verslag die aandag gefokus op die sigbare uitwerking van die projek, maar tot die slotsom gekom dat die negatiewe kwessies nie die moontlike voordele van die projek oorheers nie.

“Mnr. Pickford en andere het nie die gevolgtrekking aanvaar nie en glo ons het nie die kommentaar ernstig genoeg opgeneem nie. Die mosie van wantroue was bloot ʼn poging om die maatskappy en die omgewingsimpakproses te diskrediteer. Ons is vol vertroue dat ons professioneel opgetree het en verslae van ʼn hoë standaard gelewer het.”

Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewing, visserye en bosbou, het gesê die departement het Pickford se mosie van wantroue in die konsultante ontvang.

Die departement het ook die “rekord van protes” ontvang oor die omgewingsimpakstudie van die kragdraadprojek, maar het nie daarop gereageer nie omdat hy besig was om die windplaasaansoek te hanteer, het Modise gesê.

“Die departement het 107 dae om ʼn besluit te neem oor die aansoek en onderneem om dit binne die spertyd te doen.”

Die besluit moet dus teen 1 Januarie geneem word.

GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

adk ·

Wil net sê dat die kriminele element in Paternoster n groter impak op toerisme het as die windplaas. Op een dag was ons en 6 ander gesinne slagoffers van misdaad,, soveel so dat n Duitse groep hul vakansie kort geknip het nadat hulle 2 keer in een oggend deurgeloop het. Dit is die enigste rede dat ons nie weer Paternoster besoek nie, dis stunning en rustig, maar ek wil nie alles bêre en oor my skouer kyk heeltyd nie, dit beleef ek daagliks.

Dries du Toit ·

Dis mos hoe hierdie greth toenberge se tipe is.Niks,en ek meen NIKS,sal hulle ooit tevrede stel nie.Dit gaan duidlik vir hulle nie oor GROEN nie,maar net om activists te kan wees.Hulle haat steenkoolkrag,dan maak regerings planne soos die windturbines,dan tjank hulle oor “views”.Pleks hulle eerder tjank oor crime en losbandigheid en drugs.Maar o wee,o nee,nooit n liptrek daaroor nie.Die tipe sal nooit ooit tevrede wees nie.Ek wag nog vir gretatjie om haar sel weg te goou,nie te vlieg of trein te ry of enigiets te gebruik wat n footprint los nie.Maar ek hoop tevergeefs nê

André André ·

Dries, dit is jammer dat sy misbruik word, gaan Google haar oor haar mediese toestand, beloer ook daardie video van haar van September 2019, dan sal jy verstaan wat ek beduie.

André André ·

Trump het nou die dag oor haar humeur wat sy moet beteuel getwiet en baie mense/die media het hom daaroor verguis, maar dis een van die simptome.

Se maar net ·

Mmmmmm….. as hul wil huil oor hoe dit lyk oordryf hulle regtig erg..
Windterbunes is vir my, al ons vriende en familie vreeslik mooi…..

Aa dit werklik vlermuise en voels in hul 100de doodmaak is dit ‘n ander saak maar selfs dit klink vir my hoogs onwaarskynlik.

SAMPIE ·

Dis ook die mense wat die eerste kla en die meeste geraas maak oor beurtkrag

John ·

…. ‘n Duitse konsortium… Wat voel hulle? In Kaliforniè het navorsing getoon dat baie voèls deur die blaaie gedood word wat aaklig is om te aanskou. Moet die torings so hoog wees? Uit die oog sal beter wees vir toerisme. Die Weskus is gewild omrede die ongeskonde natuurskoon. Is sonkrag nie ‘n ander opsie nie. Sekerlik soek ons nie nog ‘n Koebergie nie wat die hede en toekoms kan benadeel. Maar die regering sal die uitlanders eerder plesier… money talks mein herr.

JHC ·

Ek stem saam Dries, niks gaan hulle gelukkig maak nie. Hulle is negatief gebôre

André André ·

Ek is self ‘n groene, lees wat ek hier bo vir Dries oor die 16 jarige dame beduie…

André André ·

John/Dries, Google haar gerus, dalk kom julle op verdere inligtig oor haar af, dit lyk my nie ek word hier toegelaat om te sê nie. Ek het wel die inligting en skakels, ook dit sal nie geplaas word nie.

ALLAN ·

Ja, Dries, ek gee ook op…….. hulle kla elke dag oor beurtkrag, maar as jy ‘n oplossing gee dan bevuil hulle hulle self.
Maw hulle moet kies of die wind turbines of beurtkrag…. NOU KIES NOU

Charles ·

Ons land sukkel met krag opwekking so gee hulle ‘n kans

marous ·

Nog nie een groene voor ‘n steenkool trok in Mpumalanga gesien le of ‘n riool pyp wat in die Vaal rivier loop nie .

Danie ·

You have to brake some eggs to make an omelette.
So iemand gaan ongelukkig wees maak nie saak hoe groen dit is nie.
Solank dit meer voordele as nadele het is dit beslis goed om dit te doen. Ek sê gaan voort!…..en well done aan die mense wat die groen goed beplan en doen!

Hendrik ·

Die windmeulens is vir my ‘n monument wat getuig van ons groeiende besef om die aarde op te pas. Mense moet anders hieroor begin dink – ‘n windplaas voorkom baie langtermyn skade aan die omgewing. Geen oplossing is sonder nadele nie – windplase is tans die beste oplossing, tot ons leer om die krag van die golwe van die oseaan ekonomies in te span.

Sandra ·

Daar staan reeds Paar turbines oppad na st Helena se kant toe. Jy moet Baie goed kyk om dit raak te sien. Niemand het nog gekla oor die wind plaas by Darling nie, hoekom Dan nou?

Strandloper ·

En as dit wind stil is kan hul die ouens wat die nat steenkool droog geblaas het gebruik… n win win vir almal!

Suzanne ·

Strandloper Ek stem saam met jou. DIt is sommer n WAAIER of soos n DAKWAAIER (FAN) vir die mense wat warm kry. GRATIS Sit net op julle stoepe julle sal die wind voel. Ons het in De Aar ook van hulle ons sit elke aand op die stoep en hulle waai so lekker ons koel sommer af as dit warm is. En jy betaal nie eers vir die krag wat hy op jou waai nie.

Oljetter ·

Die geraas van die lemme deur die wind kan ondraaglik wees vir kilometers ver, afhangend van die windrigting. Ek het 2km vanaf n ry van 5 eenhede wat op n rant gebou is gewoon en daarmee was die landelike vrede en stilte daarmee heen. Die aanhoudende gedruis is genoeg om van weg te hardloop. Dit lyk pragtig grasieus solank jy ver is.

Heinrich van Zyl ·

Eerste prys sou wees as die wêreldbevolking BAIE minder was, of as jy mense kan oortuig om nie kinders te kry nie.
Maar omdat 99.9999% van mense ‘n obsessie het met ‘n nageslag (ek uitgesluit natuurlik), gaan ons ongelukkig die omgewing skade berokken, ongeag watse tegnologie gebruik word. En hoe meer mense, hoe groter die impak.

Karolis ·

Let op: sodra die groenies nie self finansieel baat by ‘n saak nie, dan staan hulle dit teen.

Hansie slim ·

Ek weet nie wiein hierdie proses bevoordeel word en wie nie?? Al wat ek weet dis vrek duur krag per KW in vergelyking met die ander metodes!! As die wêreld vol windlaaiers staan sonder steenkool om die prys te subsidieer, wie gaan betaal?
Die laaiers is ook gladnie so lelik nie. In Amsterdam het hulle dit mooi “gerangskik”….

Louis Jackman ·

Hier is wel baie groot langtermyn voordele om in ag te neem teenoor die debatteerbare nadele.

barend v d westhuizen ·

hulle staan dit teen maar wil hulle dan eerder in steen kool of kern krag sentrale daar op gerig he dom mense hoe meer hoe meer wind en soler hoe beter is dit vir ons as mens dom

Pieter Fourie ·

As daar nie elektrisiteit is om vir toeriste ‘n koue drankie of ‘n warm bord kos te gee nie, sal daar nie toerisme wees nie.

JPV ·

Lyk my ons moet maar eerder verstik aan Co2 . Almal skree vir hernubare energie solank jy dit net nie deur jou eie venster kan sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.