Skerp verhoging in melkpryse verwag

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Verbruikers sal na verwagting van volgende maand aansienlik meer vir melk moet opdok, aangesien produksietekorte melkboere reeds in die gesig staar.

Paul Makube, senior landbouekonoom by FNB, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê suiwelverwerkers betaal reeds gemiddeld 60% meer per liter vir melk om genoegsame voorraad vir die winter te verseker. Volgens Makube dra swak weiding weens die droogte en hoër graanpryse by tot die verhoging in produksiekostes op plase.

“Die pryse sal in Mei styg en sal ook die koste van die hele melkproduksieketting laat styg, wat kleinhandelaars met geen ander opsie gaan laat om die prys wat verbruikers vir melk en ander suiwelprodukte betaal, te verhoog nie,” het Makube gesê.

Hy het verduidelik dat suiwelboere nie die prys van melk vasstel nie, maar dat dit deur vraag en aanbod bepaal word. “Wanneer daar voorraadprobleme is, verhoog suiwelverwerkers dikwels die prys wat hulle aan suiwelboere betaal om voorraad te verseker aangesien hulle aan plaaslike sowel as uitvoermarkte moet voorsien,” het Makube gesê. “Die uitdaging wat ons tans het, is dat die meeste suiwelboere nog probeer om te herstel van die droogte en nie op die korttermyn genoeg melk sal kan produseer nie.” Die verhoging in die elektrisiteitstarief wat van April in werking getree het, sal nog meer druk op boere plaas wat swaar steun op elektriese toerusting.

Hy verduidelik hoewel Suid-Afrika seker suiwelprodukte uit ander lande invoer, help dit nie om die pryse te verlaag nie aangesien die rand oor die afgelope paar maande so verswak het dat produkte wat ingevoer word steeds duurder is ten spyte van die laer internasionale pryse.

“Op ʼn positiewe noot sal die reën wat dele van die land oor die afgelope paar weke gekry het baie help om die weidingtoestande op die kort termyn te verbeter,” het Makube gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Nou wonder ek ewe skielik hoekom is daar so min melkboere in die bedryf. Ja nou onthou ek, die arme ouens kry feitlik niks vir hulle melk nie, kry ook laat hulle geld en hulle oorhoofse kostes is deur die dak hoog. Erens ruik ek alweer iets wat stink. Help eerder die plaaslike melk produsente, alvorens daar meer ingevoer word en betaal hulle wat hulle toekom.

Pieter dp ·

Ek stem saam met Jan. Ek dink dis hoogtyd dat die vergoeding vir die melk boer ondersoek word. Hul kry maar n skamele vergoeding. Dis n leen as die verspryder beweer hy betaal 60% meer vir die melk.

Johann ·

Dit is ‘n verhoging van 60 SENT per liter en NIE 60 PERSENT nie.

TDW ·

Ons goewerment grou hul gat net al hoe dieper! Daar word ingevoer want dit is goedkoper, hoekom? Want Suid-afrika se arbeidsloon is te hoog. Daar is geen ondersteuning aan die boere (ons kos voorsieners). Boere se produk pryse verhoog om gelyk te breek. Goewerment voer nog in, dit beteken daar is geen werkskepping. Boere vind hul swoeg is nie winsgewend (en lewensgevaarlik ), hulle hou op boer. Geen werk oor, maar loon word verhoog. Wat help ‘n hoër loon as daar nie werk is nie? Dis ‘n bose kringloop. Die apartheidsregime het dit reg gehad, sorg vir jou boere dan is jy verseker van kos.

Marina Otto ·

Baie boere het reeds klomp koeie geslag omdat ons nie genoeg kos vir die winter kon produseer met die min reën nie.Met die geld moet ons kos aankoop wat ook die hoogte in geskiet het.Tefbale wat altyd R350 was kos nou R800 per baal en lusern wat R2500 was kos nou R4000.Ek het in 1995 begin jerseys melk en het 95c per liter gekry.Diesel was 93 c en lusern R450.Na twintig jaar kry ons melkboere nog net R4.70 per liter en ons dra meeste vd risikosDie groot boere gaan net groter en die klein boere verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.