Skerpioen-angel gou terug, belowe Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Parlement

In ʼn week vol onverwags positiewe aanduidings oor die stryd teen korrupsie het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering die sterkste aanduiding tot dusver gegee dat ʼn teenkorrupsie-eenheid geskoei op die ontbinde Skerpioene deur die regering ingestel gaan word.

Die Skerpioene was die sterkste mag teen korrupsie in Suid-Afrika sedert 1994, veral omdat dit aanklaers en ondersoekers laat saamwerk het, maar die ANC het in 2007 die eenheid laat ontbind nadat dit verskeie hoëprofiel-ANC-leiers aan die pen laat ry het.

Donderdag het Ramaphosa egter in antwoord op ʼn mondelinge vraag van John Steenhuisen, instaanleier van die DA, gesê die tyd is ryp vir die land om ʼn teenkorrupsie-eenheid soos die Skerpioene op die been te kry.

In ʼn verdere aanduiding dat ʼn deel van die EFF-leierskap besig is met ʼn toenadering tot die populistiese staatskapingsdeel van die ANC het die EFF-leier, Julius Malema, vir Ramaphosa daaraan herinner dat die ontbinding van die Skerpioene destyds ʼn besluit van die ANC se nasionale konferensie was, en dus net op so ʼn manier herroep kan word.

Malema se uitspraak sal na verwagting met blydskap aangegryp word deur Ramaphosa se teenwigte in die ANC soos die organisasie se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Terselfdertyd het Malema gesê die korrupsie in ANC-munisipaliteite is so erg dat dit die bewerings van korrupsie teen Ramaphosa se eie woordvoerder, Khusela Diko, heeltemal na die kroon steek.

John Steenhuisen rig ‘n vraag aan pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Parlement

Steenhuisen en die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy die belange van die ANC bo die belange van die land stel, maar Ramaphosa het dit ontken.

In ʼn sterk aanduiding van die omvang van die korrupsie-opstootjie wat tans in die ANC woed, het Ramaphosa reguit geantwoord toe Steenhuisen die korrupsie-bewerings teen die voormalige burgemeester van die Ethekwini-metroraad in Durban, Zandile Gumede, ophaal.

Gumede, die invloedryke leier van die grootste ANC-streek in die land, is onlangs as burgemeester verwyder, maar toe deur die ANC in die KwaZulu-Natalse wetgewer aangestel.

Ramaphosa het reguit gesê dat Gumede se aanstelling in die provinsiale wetgewer vir baie mense verontrustend is en dat die strukture van die ANC tans herbesin daaroor – ʼn duidelike aanduiding dat Gumede se toekomspad nie noodwendig met roosblare besaai gaan wees nie, maar ook dat hy nie bang is om ʼn vyand te maak van die kragdadige voormalige Durbanse burgemeester nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Persheks Adri ·

Cyril jy hou aan met woorde van hoe erg jy korrupsie “teen” staan, maar ons sien nog steeds nie 1 van jou eie kaders in oranje pakkies nie! Bewys aan ons dat jy ernstig is. Wanneer word kopdoek en haar kinders in oranje pakkies gesit huh??? Kom kom ons wag

Anoniem ·

Ramaphoza bly die woorde gebruik “we are going to” .. “in future we will” .. “from now on” .. “if anyone is aware of any corruption please let us know so that we can take the necessary action”. Hy weet presies wat aangaan in die land en dat die koffers deur die anc totaal en al leegemaak is. Jakob zuma het lankal gewaarsku dat indien hy in die hof sou moes getuig weens sy deel, sal hy beslis alle name noem wat saam met hom korrupsie gepleeg het. Dit is daarom dat cyril praat van “in future we will……”

Nette ·

En terwyl hulle huil oor korrupsie is daar ‘n onskuldige kind in Eldoradopark dood geskiet deur mense wat vir Cyril werk. Wat was die doel daaragater? As hierdie man wakker word is sy koffie koud, en net hy en sy miljoen rand beeste is oor op sy spog plaas in Suid Afrika.

Grassie ·

Ek wonder of daar nog geskikte ondersoekers oor is om die nuwe skerpioene te beman. Die goeies is al reeds laaankal verwilder. Dit help nie ‘n mens sit vir ‘n donkie ‘n splinternuwe saal op en verwag dat hy die July moet wen nie.

Rentia ·

Goeie nuus… Begin sommer in die ANC – julle hoef nie eers ver te soek nie! Sal julle besig hou vir baie baie lank!

Jan ·

Aag ou ramapara – as jy belowe die son gaan môre opkom, sal ek eerder maar wag en kyk want daar is niks wat enige van julle klomp kan sê wat enige regdenkende mens kan glo nie.

Pieter ·

Sjoe, ‘n belofte van cyril.! Nou is al SA se probleme uiteindelik opgelos!!!

Kokerboom ·

Ons begin die regte geluide hoor. ‘n Tydraamwerk moet egter net aan implementering gevoeg word. Skerpioene soos ou Moord en Roof afdeling kan sake net verbeter. Harde en besliste optrede nou nodig. Vraag is: het CR die “guts”?Tyd(waarvan ons nie meer baie het) sal egter leer.

Frank ·

Maar ek dog die Valke het die werk van die Skerpioene oorgeneem? Ook verstaan ‘n paar oud Skerpioene is in die Valke opgeneem? So, gaan die Valke nou weer ontbind?

Adeline ·

Wel wanneer mens bid tot die Skepper van die Heelal, dat alle korrupsie in die land van ons in elke afdeling openbaar gemaak sal word en van die “Dakke” af geskreeu word (NUUS) is presies dit besig om te gebeur – Dankie Hemelse Vader vir antwoord op gebed van om alle korrupsie oop te vlek waar dit ookal gepleeg word deur enige ras ookal. Ongeregtigheid het geen grond om op te staan nie.

Lourens CFG ·

Hulle moet tog nou net nie mense aanstel wat korrupsie bewerings teen hulle het nie.
Moet nie huidiglik in parlement werk nie, en skoon rekords.

Martie Smartie ·

Dis sooooo snaaks, Ramaposa erken dus reguit dat die Valke ‘n mislukking is … he he he

Johanncb ·

Julle moes nóóit met die voormalige Skerpioene weggedoen het nie! Dan was ons nie in hierdie gemors nie!

lollapot ·

Bly eerder by “our people” die “we are going to” maak nie vir my sin nie Mnr Ramaphosa

Magda ·

net weer woorde of gaan daar aksie wees rampie – sal maar moet sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.