Skerpioen-baas wou Zuma aankla

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede 2014 Foto: Siyabulela Duda, GCIS (SAPA)

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede 2014 Foto: Siyabulela Duda, GCIS (SAPA)

Die sogenaamde “spioenasiebande” het aan die lig gebring dat Leonard McCarthy, voormalige hoof van die Skerpioene, oorweeg het om een aand in 2007 self na die ANC se konferensie in Polokwane te ry om Jacob Zuma van korrupsie aan te kla, het die Sunday Times berig.

Volgens die berig was McCarthy op die vooraand van die konferensie paniekerig toe hy en die voormalige hoof van die vervolgingsgesag, Bulelani Ngcuka, telefonies die tydsberekening van die aanklagte bespreek het.

Ngcuka en Brigitte Mabandla, in daardie stadium die minister van justisie, het McCarthy aangeraai om te wag voordat hy optree teen Zuma. Mabandla het gewaarsku dat só ʼn skuif moontlik ʼn bloedbad tot gevolg kan hê by die konferensie. Ngcuka het McCarthy glo gesmeek om nie voort te gaan nie, berig die koerant.

Die Pretoriase hooggeregshof het aan die Sunday Times volle toegang tot die opnames gegee. Die opnames is vroeër vandeesmaand ook aan Helen Zille van die Demokratiese Alliansie oorhandig. Die koerant berig die opnames maak dit duidelik hoe paranoïes die Zuma- en Thabo Mbeki-kringe voor die konferensie was.

Zuma is by die konferensie aangewys as die president van die ANC.
Voormalige president Thabo Mbeki was beskikbaar vir ʼn tweede termyn.

Die aanklagte is laat vaar net voordat Zuma in 2009 as president ingehuldig is.

Mokotedi Mpshe, voormalige waarnemende nasionale direkteur van Openbare Vervolging, het gesê die opnames toon daar was ʼn politieke sameswering teen Zuma en die saak teen hom kon nie voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

coenraad ·

*Mokotedi Mpshe, voormalige waarnemende nasionale direkteur van Openbare Vervolging, het gesê die opnames toon daar was ʼn politieke sameswering teen Zuma en die saak teen hom kon nie voortgaan nie.*

Of daar nou ‘n sameswering was of nie, is tog iets vir die hof om uit te sorteer. Bowendien, as daar ‘n sameswering is om ‘n boef aan die pen te laat ry en die feite is korrek, hoe op dees aarde kan dit tot gevolg hê dat die skurk vrygaan?

lorna ·

Ja wragtig maar die kring word elke dag kleiner een van die dae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.