Skeuring dreig glo by Salga

Kevin Mileham. Foto: Facebook

Ontevredenheid oor die funksionering van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) kan die organisasie skeur as ‘n oplossing nie teen die einde van April bereik word nie.

Die DA dreig om al die munisipaliteite wat deur die party beheer word uit Salga te neem en nie meer ledegeld te betaal nie, tensy beweerde politieke vooroordeel en geldvermorsing ophou. Indien die DA-beheerde munisipaliteite hul ledegeld weerhou, kan dit Salga R100 miljoen armer laat.

Kevin Mileham, DA-LP, het aan Maroela Media verduidelik dat Salga veronderstel is om ‘n polities neutrale organisasie te wees om al die munisipaliteite landwyd te ondersteun, te verbeter en by te staan met onder meer vaardigheidsopleiding, en ook munisipaliteite se belange by die nasionale regering moet verteenwoordig.

“Salga het egter ‘n politieke agenda wat die ANC bevoordeel, soos duidelik is uit die organisasie se stellings, wat baie polities is en die ANC eggo. Salga is ook polities onverteenwoordigend, met te veel ANC-politici in die bestuur, en die opposisiepartye se kiesersbelange wat nie genoegsaam verteenwoordig word nie.

“Wat ons die meeste pla is dat Salga geld mors en hulself besig hou met aktiwiteite wat buite hul mandaat val en nie genoegsame raad, hulp en ondersteuning aan stadsrade gee nie.

“Voorbeelde hiervan is die groot hoeveelheid buitelandse reise deur die Salga-leierskap, peperduur Salga-sportdae en buitensporig duur kantoorruimte vir topamptenare, wie se salarisse ook te hoog is. Salga se hoofamptenaar kry byvoorbeeld dubbeld die salaris van die Suid-Afrikaanse president, mnr. Ramaphosa.”

Mileham het gesê onttrekking uit Salga sal nie noodwendig ontwrigtend vir DA-beheerde munisipaliteite wees nie omdat alle munisipaliteite byvoorbeeld steeds deur sentrale loonooreenkomste gebind sal word.

Salga se nasionale woordvoerder, Sivuyile Mbambato, het gesê Salga sal met die DA-munisipaliteite onderhandel oor hul kwelpunte. Hy het egter uitgewys dat dit nie lyk asof alle DA-munisipaliteite met die moontlike skeuringsoptrede saamstem nie.

Hieroor blyk Mbambato reg te wees – daar is groot onenigheid in die DA aan die broei oor die kwessie. Na wat Maroela Media betroubaar verneem is veral Wes-Kaapse DA-munisipaliteite min lus om uit Salga pad te gee, veral omdat die Wes-Kaapse provinsiale Salga, wat bykans totaal deur die DA beheer word omdat die party in 28 van die 30 Wes-Kaapse munisipaliteite aan bewind is, baie goeie werk doen.

Drie Wes-Kaapse DA-beheerde munisipaliteite, waaronder een van die grootstes in die provinsie, het reeds vertroulik laat blyk dat hulle nie gehoor sal gee as die DA opdrag gee dat hulle uit Salga moet wegskeur nie, en die verwagting is dat verskeie ander DA-munisipaliteite ook kan rebelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alida ·

Genade wat doen die hoofamtenaar kwansuis om meer te verdien as Mnr Ramaphosa? Plaas sorg hulle dat daar dienste gelewer word waarvoor mens betaal.

Andre ·

Parks Tau gewese ANC burgermeester van Johannesburg is na die laaste 2016 verkiesing sy plekkie kwyt en is direk daarna aangestel as die president van SALGA. Johannesburg was een korrupsie nes en niemand in die bestuur was / is verantwoordelik gehou of aangekla nie. Bewys en kwantifiseer wat SALGA lewer of positief bydrae teen die koste van die belastingbetaler. As die SALGA nou tot grond gaan, sal dit die belastingbetaler baie geld spaar sonder enige negatiewe impak. Hulle het nie bestaansreg.

zoom zoom ·

As die DA so voel oor Salga om te onttrek dan weet die Tswane stadsraad hoe ons voel oor die heffing wat ons eksyra moet betaal vir die skoonmaak van die stad
Stadsraad sny nie eens ons gras buite nie wat nog van die bossies wat in die teerpad groei.

Lolla ·

Snaaks, ek vra net nou die dag vir iemand, wanneer laas het jy die munisipale water trokke gesien wat die bome op die sypaaitjies water gegee het? Soos in die goeie ou dae?! Wie van julle onthou dit?

Sharon ·

Tans huur Salga ‘n peperduur gebou in Klerksdorp wat nou opgetop word in die Elite gebied, hoekom nie in middedorp by Stadsraad nie

Marius ·

Wat my meer bekommerd maak is die to enamel in twis in DA geledere sedert Maimane aan bewind gekom het. Ek moet egter noem dat juis hierdie situasie my besluit in die volgende verkiesing baie makliker maak…

HUH ·

Maak seker van jou feite!! Het jy die huurkontrak gesien of bespiegel jy?

khat ·

Ja ne en nou laat iets my dink as baie van die DA nie uit die korupte stelsel van die Salga die naam se vir my al klaar baie dit se sal julle geld vat en ons self ryk maak lyk my nog n klomp zuptas in daai groep ek se DA bedank uit daai salga en gebruik daai geld beter vir diens lewering en as julle nie dit doen nie is ek bevrees eff gaan volgende opesieie word julle gaan stemme verloor hoor wat ek julle se

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.