Skielike ommeswaai oor klagte teen ‘pro-lewe-dokter’

Dr. Jacques de Vos.

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) het dr. Jacques de Vos, wat van onetiese gedrag aangekla is nadat hy aan ʼn swanger vrou gesê het haar ongebore baba is ʼn mens, ingelig dat alle aanklagte teen hom laat vaar word.

Martus de Wet, De Vos se regsverteenwoordiger, het Woensdag gesê De Vos het reeds onskuldig op die aanklagte teen hom gepleit en is dus geregtig op ʼn bevinding in die saak. Volgens hom kan die saak nie net summier laat vaar word nie en word die sogenaamde terugtrekking beskou as die sluiting van die RGB se saak.

De Vos was in 2017 ʼn intern by 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad toe die hospitaal hom sonder ʼn verhoor van sy ginekologie-rotasie geskors het. Sy internskap is in Junie 2017 reeds afgehandel en hy sou daarna met sy gemeenskapsdiens begin het. Die hospitaal het egter geweier om hom af te teken en De Vos kon sedertdien nog glad nie weer praktiseer nie.

De Vos is na die voorval van onetiese gedrag aangekla. Die tugverhoor teen hom duur egter al sowat drie jaar.

In hul betooghoofde vra De Vos se regspan nou die komitee om De Vos onskuldig op die aanklagte teen hom te bevind en ook om te bevind dat De Vos professioneel opgetree het deur alle inligting aan die pasiënt te gee en bewus te wees van sy verantwoordelikheid teenoor die ma én die ongebore kind.

Die klaagster in die saak – die vrou aan wie De Wet die gewraakte stelling sou gemaak het – het boonop oënskynlik steeds nie ʼn verklaring oor die voorval afgelê nie.

De Vos se regspan voer aan die proses teen hom was uit die staanspoor gebrekkig en dat daar nooit ʼn klaagster in die twee klagte teen hom was nie. Ten spyte hiervan is De Vos “kwaadwillig vervolg”.

“Die enige redelike gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat die saak teen dr. De Vos, wat betref die twee aanklagte, nie deur die pasiënt gedryf is nie, maar deur sekere mense in magsposisies by 2 Militêre Hospitaal, Wynberg,” lui die hoofde.

De Wet sê hulle vra die komitee nie net om sy afkeuring van De Vos se behandeling te kenne te gee nie, maar ook om ʼn aanbeveling te doen dat die twee betrokke dokters – na wie as drs. Van Wyk en Ismail verwys word – asook enigiemand anders wat by die “vendetta” teen De Vos betrokke was, se optrede ondersoek word.

De Vos se regspan voer aan sy lewe het drie jaar lank stilgestaan terwyl die saak teen hom gesloer het en dat hulle wil weet wie daarvoor aanspreeklik is.

Maroela Media het ʼn navraag aan die RGB gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Estelle ·

Dankie Dokter dat jy namens die weerloses praat, die ‘fetusse’ wat geaborteer word is babas. Mens vra n swanger vrou uit deur te vra hoe gaan dit met babatjie en watter geslag is die babatjie – nie hoe gaan dit met die fetus en watter geslag is jou fetus nie. Dr ek salueer jou, mag ons Hemelse Vader jou ryklik seen.

Anoniem ·

Goeie nuus! Nou vir die siviele eis teen die klaer vir kwaadwillige vervolging, naamskending en verlies van potensiele inkomste en pyn en leiding!

Moedeloos ·

3 jaar van hierdie dokter se lewensjare is gemors deur onvoelige mense. hy kon in hierdie 3 jaar talle mense se lewens gered het of diens gedoen het waar dokters bitter nodig was, maar nee elke haan wil op sy eie nes koningkraai. Hoop hy word nie nou verplig om gemeenskapsdiens te doen nie.

Anoniem ·

Dagvaar die minister van Verdediging onder wie 2 Mil val, die 2 dokters wat die saak aangevuur het, die Geneeesheer Generaal van die SAGD, die bevelvoerder van 2 Mil hospitaal wat daarvan bewus moes wees, asook die klaagster vir die afgelope aantal jare se verlies aan inkomste en naamskending. Daarna kan jy gaan aftree.

Inkpot ·

Wat is verkeerd daarmee dat hy gesê het haar baba is ń mens?
Die klagte is ń grap.
Help asseblief, is dit haatspraak of wat.
Dokter De Vos, verlaat die land, jy het nie nodig om in sulke omstandighede te werk nie.

Jakes ·

Baie geluk dokter, geregtigheid het geseevier. Jou regspan moet nou kortemette maak met die RGB en jy moet eis wat jou toekom.

Zombie ·

As mens die Google-resensies wat die HPCSA ontvang lees, twyfel ek of MM enige terugvoer sal ontvang. Maar miskien verras hulle almal, hulleself ingesluit.

Casper ·

Die RGB moet hom onskuldig bevind.As hy tydens sy skorsing nie salaris ontvang het nie moet dit vinnig geskied.Die samesweerders moet hom vergoed aangesie by nie kon praktiseer nie en die RGB moet hom vergoed vir die vendetta wat hulle teen hom gevoer het.Hulle het geweet van die begin af hy is onskuldig.Hulle laat vaar bloot net die saak on hulle verplgtinge vry te spring.Vind hom onskuldig dan kom siviele eise.Sterkte doktor,ek salueer jou

Wielspore ·

Magsbehepte staats amptenaar, stel ‘n eis vir verlies aan inkomste teen die persoon in sy persoonlike hoedanigheid in. Dit sal veroorsaak dat staats amptenare besef dat hulle nie agter mure kan wegkruip as daar verkeerde besluite geneem word.

Vriendelike Frikkie ·

Hulle het van die begin af geweet hierdie saak gaan ‘n aborsie wees…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.