Skiet help hom ná broer se dood

Devon du Toit. Foto: Sonja Carstens

“As ek skiet, vergeet ek van al die seer en fokus ek net op die teiken. Dit het my gehelp om die trauma van my boetie se dood te verwerk.”

Dit is die woorde van Devon du Toit (17), die jongste lid van die agt Protea-spanlede in veldteikenskiet met ʼn luggeweer, wat vandeesweek aan die Wêreldkampioenskap in Engeland deelneem.

Devon, ʼn gr. 11-leerling aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria, is die oudste broer van Aiden du Toit, die tienjarige seun wat in November 2017 by die ZambiBush-waterpark in die noorde van die Jakarandastad dood is nadat hy sy kop gestamp het.

“My boetie se skielike dood was vir my baie sleg. Sommige dae wou ek net uit die huis uit kom, weg van al die seer en almal om my. Dan het ek met my luggeweer gaan skiet en aanhoudend geoefen. Ek pluk nou die vrugte van al die ekstra oefening,” sê Devon.

Sy mikpunt die week is om die wêreld se nommer een junior veldteikenskut met ʼn luggeweer te word.

Devon wil ook sy spanmaats van die Inyathi-luggeweerklub trots maak. “By die Inyathi-klub het ek ʼn familie bygekry. Daar is niemand wat nie altyd regstaan met raad en hulp nie,” sê hy.

Du Toit, wat vroeër in die Laerskool Wonderboom-Suid vir die eerste rugbyspan uitgedraf het, het luggeweer-veldteikenskiet opgeneem om sy jagtegniek te verbeter. Hy jag graag saam met sy pa, Deon.

“In gr. 8 het ek aan die sport begin deelneem en in gr. 9 vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap deelgeneem.”

Verlede jaar het Du Toit as ʼn onafhanklike deelnemer aan die Wêreldkampioenskap in Poland deelgeneem om meer ondervinding en blootstelling te kry.

Aiden du Toit is in November 2017 by die ZambiBush-oord dood. (Foto: Verskaf)

“Alles het fout gegaan en ek het met my luggeweer gesukkel. Wyan Schoonwinkel, ʼn agent vir Daystate‑luggeweer en self ʼn bekwame luggeweerskut, het my gered. Hy het my luggeweer vir my gediens en van die parte vervang. Te danke aan sy hulp, kon ek weer presteer.

“Dit was ʼn onbeskryflike gevoel toe ek vanjaar aangewys is as een van die Suid-Afrikaanse Veldteikenluggeweer-vereniging (SAFTA) se agt Proteas wat tot 11 Augustus deelneem.”

SAFTA het die bod gewen om van 19 tot 23 Augustus volgende jaar die Wêreldkampioenskap in Suid-Afrika aan te bied. Dit sal by die ATKV Buffelspoort naby Rustenburg in Noordwes gehou word.

Maroela Media het verlede maand berig Aiden se pa, Deon, is besig met regstappe teen die oord waar sy middelste seun sy kop op een van die glybane gestamp het.

Deon du Toit sê niks sal sy sonskynkind kan terugbring nie, maar hy wil voorkom dat nog mense sterf of beseer word. Sy dagvaarding vir skadevergoeding is nog nie uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SADPA ·

Gee hulle gas Devon en die ander Proteas! Dis so lekker as Suid Afrikaanse skuts en skietsport bietjie publisiteit kry, daar is baie mense wat aan al die verskillende soorte deelneem maar mens hoor nie juis daarvan in die media nie.

Liezl ·

Mooi so seun, welgedaan. Dit is wel terapie om te skiet, jy dink aan niks anders nie.

INA ·

Wàt ñ pragtige jongman. Èk glò jy sàl wen, want jý is doelgerig!!! Èk hou vir jou duimvas… ????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.