Skietdrama toe rowers op transitovoertuig toeslaan

Foto: SAPD

Die polisie in Limpopo is op soek na ʼn groep gewapende verdagtes wat Maandagoggend ʼn transitovoertuig tussen Haenertsburg en Tzaneen probeer beroof het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 07:00 gebeur toe die transitovoertuig op die R528 deur drie voertuie van die pad af gedruk is. Volgens Ngoepe het die rowers op die voertuig losgebrand nadat dit tot stilstand gekom het.

“Die veiligheidsbeamptes het teruggeskiet en ʼn skietgeveg het ontstaan waartydens sommige van die rowers geskiet en gewond is,” het Ngoepe gesê. “Die rowers het egter hul gewonde makkers [terug in hul voertuie] gehelp en die groep het sonder kontant van die toneel gevlug.”

Ngoepe het gesê die rowers het na bewering twee Mercedes-Benz-motors, een swart en een wit, en ʼn wit Quantum-bussie tydens die rooftog gebruik. Hy kon nie die voertuie se nommerplate bevestig nie, maar het gesê almal het Gauteng-nommerplate gehad.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Ons doen ʼn beroep op mense met meer inligting of wat weet van iemand met ʼn skietwond wat by ʼn mediese fasiliteit aangemeld het, om kapt. Boshomane by 079 894 5501 of die naaste polisiestasie te nader,” het Ngoepe gesê. Inligting kan ook per SMS na 32211 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Ek kan nie glo julle het die “S”woord om die voertuig te beskryf nie gee nou net n beter beskrywing van die verdagtes ook

o ·

Is hulle dalk maatjies van die wat Total Nobody beroof het? Die afstand tussen die 2 rooftogte is nie baie groot nie. Wat gaan die laaste tyd aan in daardie pragtige deel van ons land?

Paul ·

Dank vader die veiligheidswagte het begin leer om terug te skiet. Hulle het so ‘n arsenaal wapens wanneer hulle by ‘n besigheid staan om geld af te lewer, maar wanneer hulle aangeval word hoor jy nie dat hulle dit gebruik het nie

Sw ·

Knap gedaan. Die tendens van wetteloosheid om te gryp wat my nie toekom nie, moet daadwerklik aangespreek word. Dit gebeur op alle vlak van die samelewing.

anton ·

Ai dit is darm n lekker land die.
Hier maak die misdadigers mos nes hulle wil en dan kom hulle ook weg daarmee. Verstommend!!!

Richardt ·

Ek dink die geldwa bestuurders (drywers) moet gaan vir “advanced driving” lesse. Hoe kan n gewone gesins voertuig so n gepanserde voertuig “afdruk”? Ry hom in sy peetjie pan!! Druk hom terug na waar hy vandaan kom! Trap rem en druk hom agter dat hy self beheer verloor, daai geldwaens het BAIE meer gewig as n gesinsvoertuig. Ek ry n uno, en 5 taxis saam, kon my nie vaskeer of afdruk nie. Stamp hom man. Dis jou lewe of skade op jou geldwa…die keuse is maklik.

Kamera ·

Waar is die kameras op hierdie voertuie wat sal help met wat daar gebeur (het).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.