Skieter by Kaapstad-hospitaal gaan nie borgtog vra

(Foto: Jacques Weber/Facebook)

Jean-Paul Carl Malgas (39), wat skote by die New Somerset-hospitaal in Seepunt afgevuur het, het Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, ammunisie en roof.

Dit volg ná ʼn noodlottige skietvoorval by die hospitaal die afgelope naweek. Die skietery het tot die dood van twee pasiënte en ’n polisiebeampte gelei. ’n Pasiënt wat ontslaan sou word, het tydens ’n struweling ’n polisiebeampte se vuurwapen afgeneem. Die skieter het die beampte geskiet voor hy na twee medepasiënte geloop en hul doodgeskiet het. Die 32-jarige polisiekonstabel het Sondagoggend aan sy beserings beswyk.

Die beskuldigde het aan die hof gesê hy gaan nie aansoek doen om borgtog nie, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die staatsaanklaer, adv. Adenaan Gelderbloem, het die hof in kennis gestel dat die staat borgtog sou teenstaan, omdat die beskuldigde onder skedule 6 aangekla word.

Die hof het bepaal dat geen foto’s van die beskuldigde geneem mag word nie, omdat ʼn uitkenningsparade nog gehou moet word. Die staat het ook die hof in kennis gestel dat hy nog wag vir die nadoodse verslag, die ballistiese verslag en ooggetuies se verslae.

Die hof wou weet waarom die beskuldigde in die hof in voetboeie en handboeie verskyn en die staat het gesê die besluit is geneem in die belang van veiligheid, in ag genome die misdaad wat die beskuldigde gepleeg en hoe hy dit gepleeg het.

Die beskuldigde het aan die hof gesê hy ly aan erge depressie en het selfmoordneigings.

Die saak is tot 30 Junie 2022 uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.