Skieter gevonnis ná moord op Bloem-sakeman

Louis Siemens. Foto: Facebook

Xolisile Mbebeto (38) is Donderdag in die hooggeregshof in Bloemfontein vir die moord op Louis Siemens gevonnis.

Siemens, besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal, is op 10 Mei kort ná 15:00 in die kelderparkeerterrein van die Prellerplein-winkelsentrum doodgeskiet.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê Mbebeto is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis vir moord, 10 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken Mbebeto is tot effektief 22 jaar tronkstraf gevonnis.

Mbambo het gesê dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Mbebeto vier dae voor die moord op Siemens met Kibi Stanley Bakili (36), sy medebeskuldigde en vermeende baasbrein, ontmoet het waar ʼn ooreenkoms aangegaan is vir die moord. Bakili het glo onderneem om Mbebeto R200 000 vir die moord te betaal.

Op die dag van die moord is Mbebeto en nog ʼn medebeskuldigde na die Prellerplein-winkelsentrum waar die medebeskuldigde Siemens glo uit sy motor geruk het voor Mbebeto hom doodgeskiet het.

Hulle het hierna in ʼn wit Polo van die toneel gevlug voor hulle met Bakili ontmoet het. Bakili het vir hulle die sleutel van ʼn hotelkamer gegee waarna hulle niks weer van hom gehoor het of hul geld ontvang het nie.

Die ander drie beskuldigdes in die saak, konst. Molebatsi John Mogoera (40), konst. Kagisho Ishmael Chabene (39) en Bakili, sal vandag weer in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Mogoera is ʼn speurder van die Bayswater-polisiestasie en Chabane is ʼn hofordonnans in Bloemfontein.

Bakili het tydens vorige verskynings aan die hof gesê hy het ʼn ontmoeting met Siemens gehad kort voor die moord en hulle het ook op dié dag teksboodskappe vir mekaar gestuur. Bakili was ʼn sakevennoot van Siemens.

Dit is dadelik na die moord op Siemens berig dat hy tydens ʼn oënskynlike sluipmoordaanval doodgeskiet is. Siemens het sy vrou en twee kinders agtergelaat.   

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

wanneer iemand n lewe geneem het hy / sy nie reg om te lewe nie. Watse nonsense is dit dat vonnisse gelyktydig uitgedien word. Dis nie straf nie maar n grap. Die wet wat geld is JY MAG NIE DOOD MAAK NIE. 22 Jaar in die tronk vir n goeie lewe wat vernietig is. Lewenslank sonder opsie van parool sou meer van pas gewees het

Sowaar ·

Doodstraf sal meer gepas wees vir hom en sy makkers. Hulle was gulsig en bereid om vir geld te moor. Wie gaan vir die moordenaars sorg na hulle tronkstraf?
Wonder hoeveel van die afgepersde R5.6m het vir die hoë staatsamptenare en Ace gegaan, wat verseker skotvry gaan wegkom.

Sophia ·

Ek stem ook saam dat 22 jaar ‘n grap is! Die familie van Siemens moet appél aanteken TEEN die vonnis, en dat hulle ook geraadpleeg sal word om toestemming te gee wanneer die beskuldigdes in aanmerking kom vir parool!

Koos B ·

Sowaar ek en jy gaan vir hul heerlike verblyf vir die kort tydjie in die gevangenis en daarna in elk geval deur die korrupte regering vir hul sorg met ons belasting geld.

jannie ·

Wat was die rede agter die moord….Hoekom het hy se sake vennoot laat vermoor??

Hector Jooste ·

Mbebeto se “effektiewe” vonnis van 22 jaar beteken in die praktyk dat hy nie langer as 8 jaar in die gevangenis sal wees nie.

Cherokee ·

,….sleutel vir die hotelkamer gegee waarna hulle niks weer van hom gehoor het of hul geld ontvang het nie’. Verbruikersraad behoort hul eerste opsie gewees het.

George ·

Hoeveel jaar is die 22 jaar? Waarborg dat hy vir “goeie gedrag” nie baie lank sal sit nie.
Baie sulke voorbeelde!

Johan ·

10 Jaar Vir besit van ongelisensieerde vuurwapen,22 Jaar Vir Moord?!Is moord net 2keer erger? Verstaan nie die vonnise deesdae nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.