Skieters brand los by partytjie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Adi Goldstein/Unsplash)

Ses mense is dood en minstens tien beseer nadat ʼn groep gewapende mans skielik Woensdagaand op ʼn klomp partytjiegangers losgebrand het.

Die mans het glo lukraak op die groep mense geskiet.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, sê ʼn groep mense het ʼn partytjie in Moleleki aan die Oos-Rand gehou vir die bekendstellings van ʼn nuwe karwassery.

“Mense het alkohol gedrink, musiek geluister en gedans toe ʼn BMW met ʼn onbekende nommerplaat glo by die feesvieringe opgedaag het,” sê hy.

“Vier gewapende mans het uit die motor geklim en sonder ʼn woord skote op die groep mense afgevuur.”

Terwyl talle mense hulle uit die voete probeer maak het, het die mans glo die slagoffers se selfone en beursies gebuit. Die verdagtes het kort daarna op die vlug geslaan.

Een man (29) het op die toneel aan sy besering beswyk, terwyl ʼn ander slagoffer (25) op pad na die Ramokonopi Wes-kliniek dood is.

“Paramedici het meer as tien slagoffers, almal met skietwonde, na ʼn plaaslike hospitaal in die gebied geneem.”

Die polisie is Donderdag in kennis gestel dat vier van die beseerdes later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Die res herstel nog in die hospitaal.

Die polisie ondersoek tans ʼn saak van moord, poging tot moord en gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Brig. Albertina Vesi, stasiebevelvoerder by Katlehong, sê sy is baie bekommerd oor die skietery.

“ʼn Span hoogs gekwalifiseerde ondersoekbeamptes is besig om die saak te ondersoek,” sê sy.

Vesi het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om die speurders by 011 617 3686 te kontak met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei.

“As ons saamwerk, kan ons die skuldiges aan die pen laat ry.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Wlde weste, begin maar by bestaande ondernemings wat bedreigd voel oor die kompetisie

Aai ·

Jy is reg daar moet ‘n plekkie vir almal wees in die son.Nie net die fat cats nie.

Shakespeare ·

BAIE kwaad oor die lawaai of mededinger ? Hoe laat was dit gewees ???

Marius ·

Kyk watse wapens is gebruik en begin dan by die polisie of weermag. Met al die wapens wat daar verdwyn is niks onmoontlik nie.

H.A. ·

Die strafwet moet vinnig aangepas word, rowers en moordenaars glimlag al die pad tronk en howe toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.