Skietery by hospitaal ʼn bedreiging vir 24-uur-diens

Dr. Phophi Ramathuba, provinsiale LUR vir gesondheid (Foto: ANA-Health-e-News)

ʼn Gewapende roof Donderdagoggend by Letaba-hospitaal waartydens drie dokters geskiet is, het ʼn negatiewe impak op die provinsie en 24-uur-gesondheidsdiens kan moontlik gekanselleer word.

“Die gesondheidsorgdiens in Limpopo word aangeval en misdaadintelligensie moet by alle gesondheidsorginstellings ingestel word,” het dr. Phophi Ramathuba, provinsiale LUR vir gesondheid, kort ná die skietery gesê.

Maroela Media het vroeër berig drie dokters, twee vroue en ʼn man, is deur gewapende rowers geskiet wat hulle by Letaba-streekshospitaal buite Tzaneen aangeval en beroof het.

“Ons is besorg oor die aanval, want dit is duidelik nie net dokters nie, maar al ons gesondheidsorgpersoneel wat nou bekommerd is,” het Ramathuba gesê. “Ons klinieke kan nie meer 24 uur lank oop wees nie. Mens bedryf ʼn kliniek 24 uur, maar dan is daar rooftogte en die verpleegsters is getraumatiseer. Hulle wil by my weet waarom moet hulle steeds mense se lewens bly red terwyl hulle eie lewens bedreig word. Dit is ʼn baie ernstige bedreiging. Tensy die land ons kan ondersteun om seker te maak dat ons dié kwessie aanroer, kan ons nie meer klinieke 24 uur lank oophou nie,” het sy gesê.

Volgens haar wil personeellede nie na-ure werk nie, weens kommer oor hul veiligheid.

“Die dokters sê genoeg is genoeg, en hulle dreig om nie meer dienste ná 16:30 aan te bied nie, omdat hulle nie in ʼn omgewing wil wees waar hulle onveilig is nie.”

Ramathuba het gesê stappe sal gedoen word om verhoogde veiligheidsmaatreëls in te stel.

“Ons bespreek die situasie met die staatsveiligheidagentskap en die kwessie word ook met die minister van gesondheid en die minister van polisie aangeroer.”

Die Treatment Action Campaign (TAC) het ook versoek dat veiligheidsvlakke by alle gesondheidsorgfasiliteite opgeskerp moet word.

Die dokters is in ʼn hospitaal opgeneem. Ramathuba het hulle Donderdagoggend besoek, net ʼn paar uur ná die aanval.

Lees alle vorige berigte oor Letaba-hospitaal op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Laat die betrokke gemeenskappe die skuldiges uitlewer. Hulle weet wie hierdie skurke is! Vir elke hospitaal / kliniek wat aangeval (of afgebrand word) moet dienste opgeskort word totdat die skuldiges uitgelewer word. Dieselfde geld vir gebiede waar ambulansmanne aangeval word: skort die dienste tydelik op!

IK ·

Ek wonder of ook hulle vuurwapenlisensies verval het omdat daar nie volgens wet (90 dae minimum) aansoek gedoen is vir hernuwing??

Skroef ·

My (wit) vuurwapen klisensie wat vir shabir shaik n geldjie in die sak besorg het, sê niks van negentig dae voor die tyd hernieu nie

IK ·

Myne ook nie maar ek het nogtans betyds aansoek gedoen buite die 90 dae want ek is nie lus vir nonsens.

+ ·

Ek weet nie wat die les is wat ons as landsburgers uit hierdie gebeure moet leer nie? Hoe het ons hier gekom?

JAN ·

Huisartse doen nie meer na ure uitroepe huisbesoeke nie. Te gevaarlik.Nood ambulans is eerste reaksie neem pasient na hospitaal. Maar nou word dit ook ń lekker sagte teiken.
Ek verkies .22 met donshael. Skoot in gesig beste immobiliseerder maar nie dodelik nie.

Sandra Coetzer ·

Ongelukkig het die ANC die klimaat geskep vir misdaad en anargie. Solank mense dink dit is hulle reg om te vat wat hulle wil, ongeag die gevolge, sal dit net erger gaan. Slegs ‘n nuwe regering sal dinge kan verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.