Skietery by huis eis agt

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Amirali Mirhashemian/Unsplash)

Agt mense is dood nadat ʼn skietery by ʼn huis in ʼn nedersetting in Richmond, KwaZulu-Natal, uitgebreek het.

Polisie in KwaZulu-Natal het Vrydagaand gereageer op inligting oor ʼn skietery in die Esigcakini-nedersetting in die omgewing van Richmond.

“Volgens bure van die huis waar die skietery plaasgevind het, het hulle om 21:00 geweerskote vanuit die huis gehoor en nader gegaan om ondersoek in te stel,” sê brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder in die provinsie.

“Dit is toe dat hulle op die liggame van agt mense en nog twee beseerdes in die huis afgekom het.”

Die oorledenes is almal tussen 15 en 41 jaar oud en een van die beseerdes is ʼn 17-jarige vrou.

“Die polisie vermoed dat die aanval dwelmverwant is. Die polisie ondersoek agt moordsake en twee van poging tot moord en vra enigeen met inligting oor die saak om dit by die polisie aan te meld.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.