Skietery eis Oos-Kaapse tiener

(Argieffoto: SA Polisie)

Die liggaam van ʼn 14-jarige seun is Dinsdagaand in ʼn oop veld in Bethelsdorp in die Oos-Kaap gevind nadat ʼn koeël hom oënskynlik vroeër in die rug getref het.

ʼn Saak van moord word ondersoek nadat Somlezo Mfana se liggaam ontdek is.

Kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê benewens die moord op Mfana is daar gisteraand tussen 18:55 en 19:20 berigte van drie afsonderlike skietvoorvalle aangemeld. Drie slagoffers, onderskeidelik 14, 15 en 24 jaar oud, is in dié voorvalle gewond. Al drie is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

“Die motief en omstandighede rakende die voorvalle – ook die moord – moet nog bepaal word. In dié stadium is dit nog onduidelik wie die skieters is. Die voorlopige ondersoeke dui daarop dat al die voorvalle moontlik verbyry-skieterye was,” het Naidu gesê.

ʼn Saak van moord en drie sake van poging tot moord word ondersoek.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, polisiehoof in die Oos-Kaap, het beveel dat ʼn taakspan dadelik saamgestel moet word om die voorvalle te ondersoek.

“Op ʼn tydstip wat die land in ʼn staat van algehele afsondering is om die verspreiding van die nuwe koronavirus te voorkom, is daar steeds misdadigers wat die vermetelheid het om sulke ernstige vorms van geweldsmisdaad te pleeg.

“Ek doen ʼn beroep op die gemeenskap om na vore te kom met inligting en ons te help om die oortreders op te spoor en in hegtenis te neem,” het Ntshinga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.