Skietery eis taxibaas en vrou

Govender se voertuig. Foto: Facebook via Reaction Unit South Africa.

Dicky Govender, die voorsitter van die Dolphin Coast Taxi Association, en sy vrou, Saroj, is langs die R102 doodgeskiet toe hulle van Shakaskraal na oThongathi in KwaZulu-Natal gereis het.

Wesiwe Thusi, die waarnemende LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling, het gesê aanvanklike berigte dui daarop dat ʼn onbekende voertuig na die paar se voertuig gejaag en daarop losgebrand het terwyl hulle die afgelope naweek op pad was.

Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en in ʼn suikerrietplantasie tot stilstand gekom.

“Ons is geskok oor die manier waarop mense respek vir lewe verloor in hul drang om te moor en sodoende onbeskryflike pyn en lyding vir gesinslede, familie en vriende van slagoffers veroorsaak,” het Thusi gesê.

Volgens Thusi het die moord op Govender en sy vrou al die kenmerke dat dit voorbedag was omdat die aanvallers hulle agtervolg en geweet het waar hulle sou wees. Hoewel die motief nog nie duidelik is nie word die moord ten sterkste veroordeel.

“Dit volg ná Raymond Stephens, ook ʼn voorsitter van ʼn taxivereniging, verlede jaar ook doodgemaak is. Ons maan alle belanghebbendes in die bedryf om vriendskaplike oplossings vir enige konflik te soek.”

Thusi het namens die regering medelye met die Govender-familie betuig en die polisie gemaan om die voorval spoedig te ondersoek.

Die polisie het bevestig dat die moord deur die provinsiale taxigeweld-taakspan ondersoek sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genoeg! ·

Al hierdie dinge gebeur omdat daar nie genoeg straf vir misdadigers is nie. Sou die doodstraf nog in werking wees, wou hulle nie so loop en moor nie.

Johannes Meintjes ·

Dit is jammer. Dit is ook jammer dat die algemene publiek en hoggeplaasdes nie dieselfde weersin oor plaasterreur uiter nie.

Willie ·

Is hulle nou eers geskok oor die manier waarop moorde gepleeg word? Ek dink neef Ramaposa sal sy stempel op moorde, korrupsie en boewery moet afdruk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.