Skietery in Kraaifontein eis lewe van 9-jarige

(Argieffoto: Marcus Trapp/Pixabay)

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het ʼn skietery in Kraaifontein wat die lewe van ʼn negejarige meisie geëis het, ten sterkste veroordeel.

Gaylin Cupido is Saterdag dood nadat ʼn dwaalkoeël uit ʼn vermeende bendelid se vuurwapen haar getref het.

Inwoners van die buurt het Gaylin met ʼn skietwond in die bors aangetref. Sy is na die Kraaifontein-daghospitaal gehaas waar sy dood is.

“Die polisie het ʼn saak van moord geopen en hulle is besig met die ondersoek. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gedoen nie. Ek doen ʼn beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat in hul ondersoek nie,” het Fritz Maandag gesê.

Hy het ook sy medelye met die Cupido-familie betuig.

“Dit is ʼn geweldige verlies. Geen ouer behoort sy of haar kind te begrawe nie. Die Kraaifontein-gemeenskap is geruk deur die verlies van die jonge meisie nadat hulle die afgelope paar weke verskeie bendeverwante skieterye moes verduur,” het hy gesê.

Fritz het die polisie ook geloof vir die inhegtenisneming van ʼn 34-jarige man wat in ʼn onverwante ondersoek van gesinsgeweld in hegtenis geneem is. Lede van die Milnerton-polisie se eenheid vir gesinsgeweld is Vrydagoggend na die man se woning om ʼn beskermingsbevel op hom te beteken.

Hy het egter geweier om sy geregistreerde vuurwapen te oorhandig en wou ook nie sy vuurwapenkluis oopsluit nie.

Die polisie het gevolglik die hele kluis na die polisiestasie geneem en beslag gelê op verskeie vuurwapens en ammunisie.

ʼn Saak is in Junie vanjaar teen die verdagte aanhangig gemaak. Hy sou Maandag in die hof op ʼn klag van die rig van ʼn vuurwapen en die besit van ammunisie verskyn het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Sterkte. Maar polisie het nou belanger sake om te ondersoek, mense wat nie maskers dra nie. Van werklike skelms vang is daar nie meer sprake nie. Geen wonder dat misdaadvlakke so hoog is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.