Skietery oor Phoenix-moorde is vals nuus, sê polisie

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê hy neem met kommer kennis van plasings wat wyd op sosiale media gedeel word wat valslik beweer dat ʼn Indiër wat doodgeskiet is, betrokke was by onlangse moorde in Phoenix, KwaZulu-Natal.

“Die polisie in KwaZulu-Natal het bevestig dat daar nie enige só skietvoorval was nie. Daar was ook nie ʼn skietery onlangs in die gebied wat in die plasings genoem word nie. Dit bevestig dus dat hierdie boodskappe vals nuus is,” sê kol. Brenda Muridili, nasionale woordvoerder van die polisie.

Wat betref die Phoenix-moorde kan die polisie bevestig dat agt verdagtes tot dusver in hegtenis geneem is. “Een verdagte het reeds in die hof verskyn. Sy saak is tot 16 Augustus uitgestel. Die ander sewe verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn. Van die verdagtes word na bewering reeds verbind met meer as een moordsaak. Ander staan tereg op aanklagte wat strek van poging tot moord tot opsetlike saakbeskadiging en dwarsboming van die gereg.”

Die moontlikheid dat nog persone in hegtenis geneem kan word, word nie uitgesluit nie. “ʼn Toegewyde span speurders werk onverpoosd aan die ondersoek van die Phoenix-moorde.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn span van 10 speurders is saamgestel om die dood van 20 mense in Phoenix, noordwes van Durban, te ondersoek. Die mense het gesterf tydens onlangse opstande wat tot ongebreidelde plundering en geweld in KwaZulu-Natal, en daarna ook Gauteng, gelei het.

Muridili waarsku sosialemediagebruikers om nie vals nuus te versprei wat geweld kan aanhits of spanning in gemeenskappe kan verhoog nie. “Die voortdurende verspreiding van sulke vals en kwaadwillige plasings word in ʼn baie ernstige lig beskou. Minstens vyf verdagtes is die afgelope week reeds in verskeie dele van die land in hegtenis geneem wat aanhitsende boodskappe opgeneem of geskep en dit toe op sosiale media versprei het – met die doel om geweld aan te hits. Die polisie is opdrag gegee om dié boodskappe te ondersoek en die oortreders op te spoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Hoe nou? Die mense wat in die plundering dood is se lyke moes dan eers n lykskouings kry….. Die nuus uit Natal se geweste is nogals weersprekend

Werner

Malema het mos nou gepraat en dreig.Nou word onskuldige mense gearisteer omdat hulle hulle self verdedig het.Sulke gedrag sal lei tot n burgeroorlog

Jasper

Malema het op die nuus gedreig om indiërs te laat boet ,dit is geweld aanhitsing hoekom word hy nie gearesteer nie?

Willem

As ek reg onthou is moord die opsrtlike, wederegtelike doodslag van ‘n mens. Hoe kan dit wederegtelik wees as jy jou gemeenskap, huis en haard teen ‘n bende plunderaars beskerm? Behalwe miskien in die (piesang)Republiek van Suid-Afrika? Hierdie befaamde grondwet beskerm eintlik per slot van rekening net die misdadigers. Die gewone man op straat beroep hom mooit op die grondwet nie. Dis mense soos Zuma, Magashule, Malema en soortgelykes wat gedurig van die grondwet gebruik maak om hul agterente te red. Woordvoerders van die swart gemeenskap by Phoenix beweer nou dat die skare plunderaars wat die Indiër woongebied genader het… Lees meer »

Piet

Nou wat het dan geword van die saak waarin ‘n polisieman in Durban 97 keer geskiet is?? Face Book is vol daarvan.