Skietery op Bloem-lughawe

Argieffoto (Foto: airports.co.za)

Die polisie in Bloemfontein is op soek na verdagtes wat met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug het ná ʼn rooftog Woensdagoggend by Bram Fischer Internasionale Lughawe.

“Drie veiligheidsbeamptes, wat kontant namens ʼn bank vervoer het, het pas van ʼn vliegtuig afgeklim,” het brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, gesê. “Een van die persone het na die hoofgebou gestap toe drie mans hom oorval het en die sak geld wou gryp.”

Volgens Makhele het die lughawe se veiligheidswagte die deure begin sluit, maar die drie aanvallers het gevlug. “Hulle het twee skote afgevuur op pad uit. Volgens inligting het die verdagtes in twee voertuie, ʼn Audi en Mercedes-Benz, gevlug.”

Hy het bygevoeg die polisie is op soek na die voertuie en die verdagtes.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) sal die saak ondersoek.

“Ons voer ook onderhoude met persone wat tydens die rooftog op die toneel was. Niemand is gelukkig tydens die skietery beseer nie.”

Genl.maj. Tholie Afonso, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gesê toeriste en ander persone wat van die lughawe gebruik maak, kan gerus wees dat die wetstoepassersagentskappe, wat by dié sleutelpunt verantwoordelik is vir die sekuriteit, sal verdere beamptes ontplooi om seker te maak dat persone veilig is en veilig voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Komentaar ·

Jy weet… Ek werk daar en ek sal vir jou se dis nie net 2 skote wat afgevuur was nie, daar was ‘n man by die audi (wegkomkar) met’ n automatiese geweer ook betrokke wat +-8 skote na’ n polisie beampte se kant geskiet het. Daar was ook geen deure gesluit nie. Daar is ‘n polisie stasie by die lughawe maar soos oudergewoonte na alles verby is word die koppe uitgesteek. Ps. Volgens ‘n betroubare bron het die intelligensie gister reeds’ n waarskuwing uitgestuur dat daar vandag moontlik iewers in Bloem so iets gaan gebeur… Die res? I rest my case…

Anonymous ·

Ek dink hy is seker familie van Jbm Hertzog? Al wat ek kan dink.

Pippy ·

Bram Fisher was ‘n anti-apartheids aktivis. Nou net gou op Google gaan loer.

Lolla ·

Wow nie veel om oor huis toe te skryf van ons intelligensie spanne. Veral nie as hulle so ewe n waarskuwing uitgereik het en ten volle bewus was van so n moontlikke insident. Pateties. Tien teen een deur die intelligensie eenheid se binnehuis mense wat dit gereel het. Soos ons lees in The Presidents Keepers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.