Skietery op Muldersdrift-kleinhoewe

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Plaasbestuurder is in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal en sy vriend is dood nadat hulle oor die naweek tydens ʼn rooftog by ʼn kleinhoewe in die Muldersdrift-omgewing in Gauteng geskiet is.

Terry-Ann Booyse, woordvoerder van die veiligheidsmaatskappy Drift Reaction cc, het Maandag aan Maroela Media gesê hul Iron Fist Squad is Saterdag in die vroeë oggendure na die kleinhoewe in Gloryweg ontbied nadat die plaasbestuurder in sy gesig geskiet is. “Die man het glo ʼn geraas buite die huis gehoor, en is in die gesig geskiet toe hy deur die venster gekyk het,” het Booysen gesê.

Vier gewapende mans het deur dieselfde venster toegang tot die huis bekom en dit geplunder. Hulle het glo met waardevolle items en ʼn kluis met ʼn vuurwapen gevlug.

Paramedici van Quick Response Service het die plaasbestuurder in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Teen Maandagmiddag was sy toestand kritiek, maar stabiel.

“Die eenheid en die polisie het later die oggend die gebied vir meer leidrade gefynkam toe hulle op ʼn man se liggaam afgekom het.”

Daar word vermoed dat die oorledene die plaasbestuurder se vriend is, en dat hulle by mekaar was tydens die aanval. “Dit is nog nie bekend of die oorledene probeer vlug en toe in sy rug geskiet is, en of hy in die huis geskiet is en daar ineengestort het nie.”

Die Muldersdrift-polisie ondersoek die voorval. Die slagoffers se name en ouderdomme is nog nie bekend gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

scalla ·

Inside information, hoe weet hulle waar om alles waardevol so vinnig te kry!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.