Skietgeveg buite lughawe; 4 vas

Foto: SAPD

Vier vermeende misdadigers wat vermoedelik betrokke is by rooftogte waartydens niksvermoedende motoriste van die OR Tambo Internasionale Lughawe na hul wonings agtervolg word, is Donderdagaand in hegtenis geneem.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die polisie se misdaadintelligensie-hoofkantoor, die Gautengse provinsiale trio-taakspan en ander rolspelers was by die inhegtenisneming betrokke.

Volgens Mogale het die span inligting ontvang oor verdagtes wat by die onlangse vlaag rooftogte by die lughawe betrokke was. Beamptes het patrollie op die R24 en R21 gedoen en omstreeks 20:00 ʼn verdagte voertuig waargeneem. “Toe die beamptes probeer het om die voertuig te laat stilhou, het die insittendes op hulle losgebrand,” het Mogale gesê.

“Die beamptes het teruggeskiet en die voertuig op die R21 by die Atlas-afrit reg buite die lughawe tot stilstand gedwing.” Vier verdagtes is in hegtenis geneem en daar is op drie vuurwapens beslag gelê. Die verdagtes sal binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Volgens Mogale word daar tans ondersoek ingestel om te bepaal of die verdagtes met ander misdade verbind kan word.

Die inhegtenisneming kom kort nadat twee verdagtes Donderdag in die vroeë oggendure op die N3 in Germiston in hegtenis geneem is. ʼn AK-47 met ammunisie in die magasyn, ʼn R5-geweer met ammunisie en ʼn 9mm-pistool met ammunisie is in hul besit gevind.

In nog ʼn soortgelyke voorval is ʼn wit BMW Woensdagaand op die N12 tussen die Jet Park- en Kraft-afrit deur polisiebeamptes voorgekeer. “Die polisie het vasgestel dat die voertuig vervalste nommerplate het. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die voertuig twee maande gelede in Norkem Park gekaap is,” het Mogale gesê.

Daar is ook twee ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie in die voertuig gevind. Die bestuurder is in hegtenis geneem.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Maandag gesê ʼn veiligheidstrategie wat ten doel het om misdaad en korrupsie by die lughawe te bekamp, sal geïmplementeer word. Dit sluit onder meer in ʼn groter polisieteenwoordigheid by die lughawe, ontplooiing van Ekurhuleni-metropolisielede by die lughawe en ʼn bedryfskamer by die lughawe van waar misdaadbedrywighede voortdurend gemonitor kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pie in the sky ·

Weereens n deurbraak vir die wakker en parate SAPS lede wat nog oor is! Mooiso manne en vroue in Blou, julle is ons heros wat ons snags veilig hou terwyl ons snork. Ons gebede vir julle veiligheid is altyd daar. Baie dankie!

Irene ·

Een of ander tyd haal jou dinge jou uit selfs vir die een wat hon vry laat gaan Vader slaap nie sien alles raak

Ig ·

Ek hoop net dat die groter Polisie teenwoordigheid word gemonitor sodat dit nie interne meelopers is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.