Skietongeluk: Stukkie metaal veroorsaak infeksie

Gustav Louw. Foto: Facebook

Gustav Louw (22), die jong boer wat verlede week in ʼn skietongeluk beseer is, word onder verdowing gehou nadat hy infeksie opgedoen het.

Louw is Maandag met ʼn spesiale ambulans van die Mediclinic Welkom na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Volgens Jannie Louw, Gustav se pa, het sy seun infeksie opgedoen weens die stukkie metaal wat in die agterkant van sy brein vasgesteek het. “Hy het ook slym op sy longe en net ek my vrou mag hom tans besoek.”

Louw het gesê Gustav haal self asem, maar kry nou en dan bykomende suurstof om te verseker dat sy liggaam nie oortyd werk nie. “Al sy organe funksioneer nog 100% en hy is op geen ander masjiene nie. Waar daar lewe is, is daar hoop.”

Maroela Media het vroeër berig Gustav is verlede Sondag beseer tydens ʼn skietongeluk op sy pa se plaas buite Theunissen in die Vrystaat. ʼn Stukkie metaal van ongeveer 2 cm lank sit in die agterkant van Gustav se brein vas nadat dit van ʼn .308-geweer afgeskiet het en deur sy voorkop, net onder sy haarlyn, sy skedel binnegedring het. Die metaal kom vermoedelik van die geweerslot.

Volgens Louw het dokters aanvanklik gesê hulle gaan glad nie die stukkie metaal verwyder nie, maar dit is nou ʼn moontlikheid indien dit veroorsaak dat Gustav se toestand aanhou versleg. “Dit is tans nog te gevaarlik om dit te verwyder en hulle probeer hom nou net stabiel hou,” het sy pa gesê.

Gustav het verlede week sy oë oopgemaak en geregistreer as sy ouers met hom praat. Hy het ook sy regterhand en -been beweeg, maar daar was nog nie beweging aan sy linkerkant nie.

Daar is ook skrapnel in Gustav se regterhand, voorarm en skouer wat nog verwyder moet word. Volgens Louw hou dokters dit fyn dop om te verseker dat dit nie infeksie veroorsaak nie.

Louw het vroeër gesê sy seun is ’n baie goeie skut en behoort aan die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging. Hy het gesê Gustav het ’n vriend van hom se geweer op die skietbaan op die familie se plaas ingestel en dit het ontplof toe hy ’n skoot afvuur. Hulle het herlaaide patrone gebruik.

Louw het gesê daar word nog gepoog om vas te stel wat presies gebeur het. Die geweer is erg beskadig in die ontploffing. Gustav woon en boer op die plaas waar die voorval plaasgevind het. Hy en sy pa boer met wild en beeste.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Hoop die kêrel kom gou reg. Dalk het daar ‘n koeël in die loop vasgesit toe hy nog ‘n skoot gevuur het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.