Skietslagoffer ry met bakkie by brug af

Die bakkie se wrak. Foto: Via @crimeairnetwork op Twitter.

Die bakkie se wrak. Foto: Via @crimeairnetwork op Twitter.

Die Tongaat-polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn man Maandag in die vroeë oggendure noord van Durban geskiet is, waarna hy met sy Colt-bakkie by ʼn brug afgery het.

Reaction Unit South Africa het in ʼn verklaring gesê paramedici is omstreeks 03:00 na die Maidstonebrug op die R102 ontbied nadat die man met sy bakkie deur die brugreling gebars en paar meter ver na die grond geval het.

Die Ethekwini-nooddienste en paramedici van verskeie ambulansdienste het die man in die wrak behandel. Hy het minstens een koeëlwond aan sy bolyf opgedoen asook verskeie beserings tydens die ongeluk. Hy het kort nadat hy uit die wrak gehaal is aan sy beserings beswyk.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het aan Maroela Media gesê die motief vir die moord is onbekend en word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die moontlikheid word ondersoek dat die man tydens ʼn kapingspoging of rooftog geskiet is.

Volgens Reaction Unit is kontant en ʼn leë pistoolsak in die bakkie gevind. Volgens onbevestigde berigte is die slagoffer glo die eienaar van ʼn kitskosrestaurant in Shakaskraal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FBrits ·

Die ou storie van die nuwe Suid Afrika,jy wat hard werk vir jou geld,sal net gelukkig wees indien jy dit eendag kan geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.