Skietstilstand terwyl bendes op Vlakte kos versprei

Danny, ‘n senior lid van die Hard Livings-bende, help om kos op die Kaapse Vlakte uit te deel terwyl die landwye staat van algehele afsondering voortduur. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Preston se nuwe gesigmasker is versier met die sterre en strepe van die Amerikaanse vlag.

Dit beskerm hom teen die nuwe koronavirus, maar dit sou hom normaalweg ook in Manenberg op die Kaapse Vlakte in die gevaar stel. Die masker se kleure identifiseer Preston as ʼn lid van die Americans, ʼn misdaadbende wat gewoonlik onwelkom is hier op die grondgebied van sy vyande, die Hard Livings-bende.

“Hulle sal my skiet,” sê die 35-jarige met wat lyk soos ʼn skalkse glimlag.

Maar vandag werk hy saam met verskeie ander berugte bendelede om brood, meel en groente aan arm gesinne af te lewer. Hulle steier onder die voortgesette afsonderingstydperk wat weens die Covid-19-pandemie in werking gestel is. Dit het gelei tot die sluiting van talle bedrywe en baie van Manenberg se inwoners sit sonder werk.

Preston, ‘n lid van die Americans, buig sy hoof in gebed. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Preston staan saam met die ander bendelede in ʼn binnehof tydens dié onwaarskynlike skietstilstand. Hy laat sak sy kop terwyl Danny, ʼn senior lid van Hard Livings, ʼn gebed sê. Hoede word verwyder en getatoeëerde arms word agter die rug gevou.

“Ons [bendes] het besluit om saam te werk om te help,” sê Danny. “En julle kan sien ons het geen probleme met mekaar nie. Geen probleem nie.”

Die projek is van stapel gestuur deur Andie Steele-Smith, ʼn Australiër wat bekend staan as die “bendepastoor”. Die bendelede ry agterop sy bakkie en sleepwa en spring af om voorraad by huise en sopkombuise af te lewer.

Andie Steele-Smith, ‘n Australiër wat as die bende-pastoor bekend staan. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Steele-Smith sê die bendelede het die geleentheid aangegryp om te help.

Die bendes baat egter ook – hulle kry kos én bly relevant in moeilike tye. Dit lyk ook of hulle die rol van hedendaagse Robin Hood geniet.

Tog, baie van dié mans is dwelmsmouse en moordenaars. Baie van hulle het tatoeëermerke wat hulle identifiseer as lede van die “Numbers”-tronkbendes wat volgens kenners veel meer gewelddadig is.

Lede van vyandige bendes deel saam kos uit op die Kaapse Vlakte. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is een persoon wat nie veel van hul goeie dade dink nie. Hy sê hulle werklike bedrywighede is moord, afpersing, die smokkel van dwelms en wapens, beskermingsindikate en die korruptering van polisielede en regters. Hy sê net verlede jaar was daar 900 bendeverwante moorde in Kaapstad.

“Niks daarvan verdwyn net omdat die bendelede nou skielik maak of hulle iets goeds doen nie,” sê Smith. “Die trauma wat hulle dekades lank in gemeenskappe veroorsaak, gaan nie vergeet word danksy ʼn paar brode nie.”

Cristal van Rensburg sê bendegeweld is deel van die lewe op die Kaapse Vlakte. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Cristal van Rensburg is ʼn inwoner van Manenberg. Twee van haar familielede is deur bendelede vermoor. Een is 30 keer in die gesig en bors geskiet. Haar broer en ander familielede is ook lede van bendes en sy sê sy sien dikwels haar familielede se moordenaars op straat.

“Aanvanklik was dit moeilik. Dis nie lekker om iemand te verloor en te weet die persoon wat jou familie leed aangedoen het, stap daagliks by jou verby nie. Maar in Manenberg is dit nou maar eenmaal deel van die lewe.”

Ten spyte van die natuurskoon is Kaapstad verlede jaar in ʼn internasionale studie aangewys as die 11de gevaarlikste stad ter wêreld.

Die poging tot vrede loop hand aan hand met die verspreiding van kos, en Smith sê daar was die afgelope paar weke wel minder moeilikheid in Manenberg.

(Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Tog kan die werklikheid nie geïgnoreer word nie.

Tydens die kosaflewering kom die groep inwoners teë wat sê ʼn man is doodgesteek. En hy is ʼn lid van ʼn bende genaamd die Clever Kidz.

Santjie, ʼn plaaslike bendeleier wat deel is van die projek, het vroeër ʼn opmerking gemaak wat skielik nuwe betekenis kry. “Die lewe hier is vinnig.”

Die hoofkwartier van die Americans op die Kaapse Vlakte. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Die hoofkwartier van die Americans is ʼn gebou met “Welcome 2 United States” daarop gekrabbel. Oorkant die straat is nog graffiti, verkeerd gespel en dalk ironies: “God loves Manenburg”.

Danny, Preston en Santjie het ingestem om te gesels, maar net hul voorname mag gebruik word. Almal behoort aan misdaadbendes, almal is al geskiet en almal het reeds tronkstraf uitgedien.

Danny is 61 jaar oud en was 29 jaar lank agter tralies vir moord en gewapende roof. Die ander twee sê nie waarvoor hulle in die tronk was nie. Santjie, op 31 die jongste van die drie, sê hy was al verskeie kere “in en uit”.

“God loves Manenburg”. (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Vir al drie was dit ʼn natuurlike besluit om by bendes aan te sluit. Seuns hier word al as tieners – of selfs jonger – vir die bendes gewerf.

Preston sê hy kan dalk eendag sy bende vaarwel toeroep, maar Danny waarsku: “As jy jou rug op die bende draai, is jy ʼn teiken.”

“ʼn Verraaier,” stem Preston saam.

Om ʼn bende te verlaat beteken jy gee jou beskerming op. ʼn Plaaslike sêding lui boonop die enigste manier om ʼn Vlakte-bende te verlaat, is om te sterf.

(Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Eerw. Eric Hofmeyer was vantevore ʼn lid van die Hard Livings. Hy was nege toe hy ʼn bendelid geword het en het as 21-jarige in die 80’s die bende verlaat. Hy het twee aanvalle deur vyandiggesinde bendelede oorleef en het ternouernood ontkom toe die polisie ingegryp het terwyl lede van sy eie bende hom wou vermoor.

Hy sê die kosprojek wys die nuwe geslag is ontvanklik vir verandering.

“Ek glo daar is ʼn uitweg vir dié jong mans.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leeuwyfie ·

Dis ‘n baie mooi storie. Ek bid gedurig vir die mense in die Vlaktes. Ek glo dat God mense se hart vernuwe. As daar meer saam gepraat word oor die grootheid van God en die prys wat Jesus vir elke een betaal het, kan die bendelede weet daar is ‘n uitkoms, al was jou dade ook hoe gruwelik, dis waarvoor die kruis was. Onthou Saulus was baie sleg, maar hy het die beste voorbeeld geword hoe om Christus te dien, God het hom vernuwe as Paulus. Die Bybel is vol van stories waar God stukkende mense gebruik het om God se woord te verkondig. Mag hierdie die begin wees van wonderlike dinge in die Vlaktes.
Dink net wat hierdie bendes sal kan vermag as hulle saam staan vir die goeie! Dink net aan die getuienis! Dit sal ‘n wonderbaarlike herlewing wees! Ek kan nie wag om dit te sien nie, ek weet hul kinders smag daarna. Vrede in Jesus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.