Skietvoorval in Pta-restaurant steeds ʼn raaisel

Conrad Liebenberg. Foto: Facebook

Conrad Liebenberg. Foto: Facebook

Conrad Liebenberg (24) wat Woensdagoggend in ʼn restaurant in die ooste van Pretoria geskiet is, se toestand is stabiel maar steeds kritiek.

Liebenberg se vrou, Lalucia van Niekerk, het Donderdag aan Maroela Media gesê Liebenberg word nog in die ongevalle-eenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel nadat hy Woensdag omstreeks 08:00 deur ʼn onbekende man in die borskas geskiet is.

“Die koeël is regdeur sy regterbors. Dit het nie sy long getref nie, maar wel ʼn paar are,” het Van Niekerk gesê. “Sy dokters het toetse gedoen om te bepaal of daar infeksie is en ons behoort vandag te hoor of hy geopereer moet word.”

Van Niekerk het gesê haar man is deurmekaar en sy is ook nog nie baie besoektyd by hom toegelaat nie. “Daar is nog baie min duidelikheid oor wat presies gister daar gebeur het,” het sy gesê.

Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het Woensdag die skietvoorval by die O Sole Mio-restaurant by die Kimiad-gholfbaan in Moreletapark aan Maroela Media bevestig. Liebenberg werk sedert Mei by dié restaurant as algemene bestuurder.

“ʼn Onbekende man het omstreeks 08:00 by die restaurant ingestap en ʼn skoot afgevuur wat die slagoffer bo in sy borskas getref het,” het Miller gesê. Die skieter het gevlug sonder om iets te steel.

Liebenberg het glo voordat paramedici van Netcare 911 hom na die hospitaal geneem het aan omstanders gesê die skieter het vir hom geskreeu dit dien as ʼn waarskuwing vir die restaurant se eienaar.

Liebenberg en Van Niekerk is drie jaar lank getroud en het twee dogtertjies. Die egpaar woon in Elarduspark. Van Niekerk beskryf haar man as ʼn saggeaarde mens wat besonder familie-georiënteerd is. Sy het almal bedank wat hulle deur die moeilike tyd bystaan.

Miller het Donderdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gesiggie ·

Hierdie kon in iets lelik ontaards het as ander persone ook tussen in getree het… die man het met opset die plek betree, met die doel om Conrad te skiet, maar meskien dood te skiet… maar was sy gesig sigbaar, want soos berig n onbekende man… dalk een van sy vorigge werkers ? Iemand wat so iets doen, doen dit uit haat teenoor die persoon maybe iets met geld te doen. N mens kan die sagheid in sy gesig sien. So wie sal nou kan weet wat die storie agter die storie is> net Conrad en die een wat hom wou dood skiet. Hoop dat jy gou sal aansterk… en dat jy weer soos altyd kan aangaan met sy lewe.

Johann ·

Ek hoop dat CCTV – materiaal dalk lig op die saak kan werp. Jy skiet tog nie ‘n persoon sonder rede nie. Wel, niemand behoort niemand te skiet nie. Sterkte aan Conrad en sy gesin.

Sune van Heerden ·

Dagsê Albie

‘n “Skieter” is enige persoon wat skiet, maar ‘n “skut” is veral iemand wat bedrewe is in die skietkuns. In hierdie geval (en in meeste soortgelyke skietvoorvalle) is dit dus beter om bloot te verwys na ‘n “skieter” as na ‘n “skut”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Nadia Fourie ·

Is daar al met Mr Tucci gepraat en gehoor wat hy te sê het? Hy is die eiennar en die skieter het gesê dis ‘nwaarskuwingvir die eienaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.