Skietvoorvalle in Kempton Park eis twee

Argieffoto.

Twee mans, in hul 40’s, is Woensdagmiddag in Kempton Park, Gauteng, dood in een van twee afsonderlike skietvoorvalle wat die afgelope week in dié stad in die Oos-Rand aangemeld is.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici die middag na die Moorivierpad ontbied waar hulle ʼn motor in die middel van die pad opgemerk het. Die motor was vol koeëlgate.

“Twee mans is binne die motor aangetref. Hulle het skietwonde opgedoen.” Volgens Meiring het die mans reeds aan die skietwonde beswyk en paramedici het hulle op die toneel dood verklaar.

In ʼn ander voorval Dinsdagmiddag is ʼn 34-jarige vermeende kaper gewond ná hy ʼn minibustaxi probeer kaap het.

Volgens kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, het die verdagte omstreeks 14:00 die bestuurder van ʼn minibustaxi by ʼn verkeerslig in Monumentweg met pepersproei probeer bydam.

“Die bestuurder het ʼn veiligheidswag wat in die omgewing gepatrolleer het, ontbied. Dié het die verdagte agternagesit. ʼn Skietgeveg het tussen die veiligheidswag en die verdagte uitgebreek en die wag het die verdagte in die onderlyf geskiet.”

Meiring sê paramedici het die verdagte in die middel van die pad aangetref. Paramedici het hom ondersoek voordat hy onder polisiebewaking na Tembisa-hospitaal geneem is.

“Die verdagte word aangekla van poging tot kaping. Sodra hy uit die hospitaal ontslaan is, sal hy in die landdroshof in Kempton Park verskyn.”

Volgens Mtshali sal die veiligheidswag ook in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Die polisie ondersoek albei skietvoorvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Die Veiligheidswag het opgetree in sy hoedanigheid om die Taxi/drywer en publiek te beskerm teen die verdagte. Dit blyk om ‘n verdagte wees het jy die reg om te doen wat jy wil maar as jy ‘n Veiligheidswag is mag jy nie in jou hoedanigheid optree ter beskerming van misdaad nie. Belaglik.

Leana

Suid Afrika klink deesdae soos die Wilde Weste.

JM

Die Wilde Weste was mak!

Wakkerslaper

Kempton Park was, soos feitlik alle ander dorpe en stede binne Suid Afrika, eens rustig en skoon en veilig. Ek wonder wat het in die laaste 25 jaar verander….

Harley Davidson

Die wag het wat verkeerd gedoen ?