Skietvoorvalle in Moederstad eis twee

Twee mense, onder wie ’n 16-jarige seun, is Woensdagmiddag in Delft in die Wes-Kaap doodgeskiet. (Argieffoto: Max Kleinen)

Twee mense, onder wie ’n 16-jarige seun, is Woensdagmiddag in Delft in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Dít was een van twee afsonderlike skietvoorvalle wat gistermiddag in Kaapstad aangemeld is.

Nooddienswerkers van Netcare 911 is kort voor 16:00 na Silversandsweg in Delft, Kaapstad, ontbied waar hulle op twee slagoffers met skietwonde aan die kop afgekom het.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, is die seun op die toneel dood verklaar. Die tweede slagoffer (24) is op die toneel behandel en per ambulans na die hospitaal vervoer.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het intussen bevestig dat die man later aan sy wonde beswyk het.

“Die polisie ondersoek tans ’n dubbele moordsaak. Die motief is nie in dié stadium bekend nie.”

’n Bejaarde man is in ’n afsonderlike voorval in Mitchells Plain beseer nadat hy by ’n bouperseel in die bolyf geskiet is. Die man se ouderdom is nie bekend nie.

“Die man was na bewering op ’n etenspouse en het ten tyde van die voorval in die bak van ’n grondverskuiwingsvoertuig gesit.

“Die man het ernstige beserings opgedoen en is met ’n noodhelikopter na die hospitaal geneem vir verdere behandeling,” sê Herbst.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag in verband met dié voorval gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Delft is ‘n aaklige plek. Daar slaan hulle mekaar sommer met hamers dood oor ‘n bottel bier of ‘n bietjie dagga.

KhoiKhoi ·

Die probleem is veel dieper as bloot drank of dagga.
Die sosioekonomiese omstandighede moet verander word.
En dit geld vir die Kaapse Vlakte as geheel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.