‘Skikking ʼn enorme deurbraak vir siek mynwerkers’

Argieffoto: Leandro Neumann Ciuffo van Rio de Janeiro, Brasilië (Mina da passagem) via Markos90, Wikimedia Commons

Solidariteit het sy tevredenheid uitgespreek oor die skikking rakende die silikose- en tuberkulose-groepeisgeding wat Donderdag bereik en onderteken is.

African Rainbow Minerals, Anglo American, Anglo Gold Ashanti, Gold Fields, Harmony en Sibanye-Stillwater het die ooreenkoms reeds onderteken, terwyl Pan African Resources nog die ooreenkoms oorweeg.
Hanlie van Vuuren, hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, het gesê dié skikking voltooi ʼn proses wat reeds in 2006 ʼn aanvang geneem het met die saak van Mankayi v Anglo Gold Ashanti.

“In hierdie saak is die reg van werkers in die mynbedryf om skadevergoeding van werkgewers te eis vir longsiektes wat opgedoen is in die uitvoering van werkers se pligte deur die konstitusionele hof erken. Dit het aanleiding gegee tot die instelling van ʼn groepeis namens eisers wat tussen 1965 en 2015 silikose en tuberkulose in die goudmynbedryf opgedoen het.”

Van Vuuren meen dié skikking sal ʼn finansiële inspuiting wees vir oudmynwerkers wat aan een of albei van dié uitmergelende longsiektes ly en aan die vereistes voldoen.

Van Vuuren wys daarop dat hoewel die skikking nog onderhewig is aan die goedkeuring van die Johannesburgse hooggeregshof, dit finansiële verligting vir talle oudmynwerkers sal bring.

Volgens Van Vuuren sal die uitkoms van dié skikking ʼn billike balans tussen die verwagtinge van die eisers en die vermoë van die ses betrokke mynhuise skep. Sy sê voorts dat ʼn trustfonds in die vooruitsig gestel word, wat vanuit ʼn aparte fonds geadministreer sal word.

“Identifikasie en mediese evaluasie van moontlike eisers sal op groot skaal gedoen en ʼn mobiele kliniek vir die doel aangewend word,” het sy bygevoeg.

Solidariteit het  ʼn beroep op die betrokke mynhuise gedoen om alle moontlike en redelike maatreëls in te stel om ʼn veilige en gesonde werksomgewing te verseker, om sodoende te voorkom dat werknemers in hul diens beroepsiektes opdoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Alles draai om geld, die skikking gaan nie die dooies terug bring en die kwaal genees nie. Die lewe bestaan uit keuses en niemand word gedwing om dit te maak nie.

Amelia ·

Dit is baie hartseer, my oom is daaraan oorlede en ja SjN as jy dai goue ring aan n vinger steek en die gooue kettings dra en wonder waar het SA se rykdom vandaan gekom (wat was in die ou SA) mag jy maar dink aan die mense wat daar moes werk. Onthou werk is kos en kos is n lewe vir jou gesin. Vir my is dit hartseer want my oom is oorlede aan myn TB. Almal het nie geld vir Universiteits opleiding nie en ja ons regering het nie betaal vir ons opleiding op universiteit nie. En ons generasie het nie goed afgebrand om ons wil te kry nie. Ons het geweet wat harde werk is en om jou eie geld te verdien.

stem saam Amelia ·

stem saam jou Amelia, jammer SjN sien dit so. Eers as mens self deur iets is dan kan jy kommentaar lewer

Annie van Der berg ·

My man sukkel all van 2013 on sy Geld the key vir sy long siekte

Flip Sadler ·

Geld dit net vir goud myne en\of wat van steenkool myne?

Bibi ·

Annie kan jy dalk vir my se wat het julle gedoen om aansoek te doen want ek wil graag dat my Pa ook eis. Hy bly my die heeltyd vrae maar is nie seker waar om te begin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.