Skilpaaie van vragmotor gered

(Foto verskaf deur die DBV Bloemfontein)

Skilpaaie, wat onwettig vervoer is, is vandeesweek van ʼn vragmotor in Kwaggafontein, Bloemfontein, gered.

Die Dierebeskermingsvereniging in Bloemfontein sê hulle het inligting ontvang oor skilpaaie wat onwettig vervoer word. “Toe die DBV-span in Kwaggafontein aankom, het ons twee vragmotorbestuurders buite die voertuig saam met die departement van kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) aangetref.”

Die vragmotorbestuurder het van die Noord-Kaap na Bloemfontein gery en was op pad na Qwaqwa waar die vragmotorbestuurders bly. Die vragmotor moes in Bloemfontein gediens word en ná die diens kon die bestuurders verder ry.

Tydens die diens het die motorwerktuigkundige op twee skilpaaie, een groot en een mediumgrootte, afgekom in ʼn klein kompartement waar daar nie enige ventilasie was nie. “Die houer waarbinne die skilpaaie gehou is, is swart, en mens kan jou net indink hoe warm dit in só houer kan raak as daar nie enige ventilasie is nie,” sê die DBV.

Die vragmotorbestuurder is uitgevra oor die skilpaaie en hulle het verduidelik dat hulle die skilpaaie langs die pad opgetel het en hulle gered het. “Die ander bestuurder het egter ʼn ander storie gehad en gesê hulle wou dit as troeteldiere hou. Dis duidelik dat hulle nie die skilpaaie wou red nie. Mens kan nie ʼn wilde dier uit die natuur red tensy die dier siek of beseer is nie. Die skilpaaie het hoegenaamd nie enige beserings gehad nie.”

Die DBV het sy dank betuig aan die omgewingsinspekteur op die toneel wat die twee bestuurders in hegtenis geneem het. “Daar is aan hulle verduidelik dat hulle nie ʼn bedreigde spesie, veral nie inheemse diere, kan vervoer nie. Hulle is in hegtenis geneem op aanklag van die oortreding van die Wet op Natuurbewaring.”

Die DBV versoek die publiek om nie enige wilde dier op te tel nie. “Mens kan ʼn skilpad help om ʼn pad oor te steek deur stil te hou en te wag. Moet asseblief nie skilpaaie optel nie. Hulle verloor vog wat hulle opgebou het. As daar ʼn beseerde dier is, kontak die naaste Dierebeskermingsvereniging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.