ʼn Skip wat diesel vervoer word by die hawe in Durban vlot gehou nadat dit glo Vrydag omstreeks 03:15 die bodem van die noordelike vasmeerplek getref het.
“Die dieselskip MT Pacific Quartz word ondersteun om dit regop en drywend te hou,” het die Transnet Nasionale Hawe-owerheid in ʼn verklaring gesê. “Daar is twee loodse aan boord wat hawebeheer op hoogte hou van die situasie.”
“Die vaartuig het naby aan die kwartiere skade aan die regterkant opgedoen en begin water opneem,” aldus die verklaring. “MT Pacific Quartz was onderweg na Island View toe die voorval plaasgevind het.”
Die SA Maritieme Veiligheidsowerheid ondersoek die voorval.
“Daar is geen gevaar van besoedeling nie. Die vaartuig is ʼn dubbele romp tenkskip en al die vraghouers is ongeskonde.”
Die bemanning is ongedeerd.