Skitterende Irvette: ‘Ek wou só graag wen’

Irvette van Zyl het Sondag ook Frith van der Merwe se rekord verbeter. Foto: Tobias Ginsberg.

“Ek is tevrede met die afgelope naweek se vertoning en ek dink nie ek kon meer gegee het nie. Wanneer twee atlete onder die rekordtyd dip, dan kan jy maar weet dat dit ’n goeie dag was.”

Só sê Irvette van Zyl ná Sondag se aksiebelaaide Twee Oseane-marathon in die Kaap.

Gerda Steyn (3:29:42) en Van Zyl (3:30:31) het al twee Frith van der Merwe se rekordtyd van 3:30:36 verbeter; ’n rekord wat in 1989 opgestel is.

Natuurlik was daar ’n paar haakplekke –  dit is immers ’n ultramarathon – en volgens Van Zyl het ’n bobeenspier heeltyd gedreig om te kramp, terwyl haar energiedrankie daar in die omgewing van Constantianek uitgeloop het.

Sy het die wedloop in ’n tyd van 3:30:31 kafgedraf. Foto: Tobias Ginsberg.

Ja, dit klink dalk nie só erg nie, maar wanneer jy reeds ’n hele paar kilometer agter die blad het, is die korrekte vloeistofinname van groot belang.

Tog is daar, selfs in die terugblik, nie eintlik iets wat sy anders sou gedoen het nie.

“Dit was my doelwit om ’n 3:30 te hardloop en dit is presies wat ek gedoen het. My wedloopplan het soos stroop geloop – tot daardie laaste twee kilometer natuurlik!”

Steyn het toe met ’n merkwaardige eindpoging vorendag gekom om met die uiteindelike louere weg te stap.

“Ja, ek het rêrig geskrik toe Gerda verby my kom,” vertel sy laggend.

“Toe ons ’n u-draai net ná die 50 km-kerf gemaak het, was daar nog ’n taamlike gaping tussen ons twee. Maar ’n rukkie later het ek gehoor iemand skree ‘Gerda!’ en ek het nog gedink dat sy nie nou al só naby kan wees nie. Toe ek omkyk, was sy egter op my hakke – ek het my bene lam geskrik!”

Van Zyl het ’n paar weke gelede ’n 50 km-wedloop gedoen, terwyl Steyn dalk ’n bietjie meer uitgerus was. In die pylvak van ’n ultramarathon sal varser bene altyd wen.

Hoewel sy gereeld die horlosie dopgehou het, het sy eerder op gevoel as op tyd gehardloop. Wat motivering betref, het sy dit verkies om eerder op die oorblywende paar kilometer te fokus as op die afstand wat reeds kafgedraf is.

Gerda Steyn en Irvette van Zyl ná verlede jaar se Toskaanse marathon. Foto: Verskaf.

“Ek wou só graag daardie wedloop gewen het en ek het heeltyd probeer fight, maar Gerda het net meer fight in haar gehad. Die laaste twee kilometer van haar wedloop was net pleinweg ongelooflik en ek wens ek het toe meer woema oorgehad om ’n bietjie meer mededingend te wees.”

Die Pretorianer wil nou vir eers weer op korter afstande konsentreer. Sy beplan om later vanjaar by die beginpunt van die Suid-Afrikaanse halfmarathonkampioenskap aan te tree, terwyl sy ook glo dat sy nog oor genoeg spoed beskik om ’n 10 km-wedloop in minder as 32 minute te voltooi.

Hoewel sy nie nou al veel aandag aan volgende jaar se Twee Oseane wil skenk nie, glo sy dat sy oor die vermoë beskik om die roete vinniger te hardloop – alles sal net vlot moet verloop.

Danksy Irvette van Zyl en Gerda Steyn se heldedade wag daar ’n opwindende tyd vir Suid-Afrikaanse sportliefhebbers. Hulle is ongetwyfeld die land se goue marathonheldinne.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Baie geluk dames, dis uitstekend

Christian

Baie geluk aan beide dames. Beide se tyd is wereld klas!!