Skok, afgryse ná moord op juffrou langs drafpaadjie

Kirsten Kluyts (Foto: Facebook)

Die veiligheid van Johannesburg se parke is opnuut in die kollig, ʼn week nadat ʼn geliefde onderwyseres se liggaam langs ʼn drafpaadjie in die George Lea Park gevind is.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat die 34-jarige Kirsten Kluyts se liggaam op 29 Oktober deur ʼn verbyganger gevind is, berig TimesLive. Volgens die berig was daar op dieselfde naweek ʼn voorval waartydens twee mense deur gewapende mans van hul selfone beroof is terwyl hulle by die Johannesburgse Botaniese Tuine gestap het.

Kluyts se liggaam is gevind nadat sy aan ʼn georganiseerde MyRun-drafgeleentheid deelgeneem het.

Volgens MyRun het sy tydsberekeningstelsel uitgewys dat iemand nog nie teruggekeer het ná die drafgeleentheid nie en is ʼn soektog van stapel gestuur waarna daar op Kluyts se liggaam afgekom is.

“Lede van MyRun, die Parkmore-gemeenskapsvereniging (PCA) en gemeenskapspolisiëringsforum was die grootste deel van die dag op die toneel om die polisie en forensiese span, wat ʼn deeglike ondersoek uitvoer, by te staan.

“Weens die baie sensitiewe aard van hierdie voorval moes ons seker maak van die feite en ook tyd gee vir die familie en vriende om in kennis gestel te word voordat enige inligting op ʼn openbare forum geplaas word.

“Aangesien dit ʼn aktiewe ondersoek is, sal geen verdere inligting beskikbaar gemaak word totdat die ondersoek afgehandel is nie. Ons wil graag uit respek vra dat geen bespiegeling en onbevestigde inligting versprei word op groepe waarop die familie en vriende mag wees nie en om die polisie toe te laat om hul ondersoek af te handel.

“MyRun en die groter gemeenskap is geskok oor wat gebeur het en wil ons innige meegevoel met die familie en vriende van die slagoffer betuig.”

Die PCA het gesê die gemeenskap het ʼn ongelooflike vrou weens ʼn ondenkbare daad van geweld verloor.

“Ons harte is swaar, en ons gedagtes is by haar familie en geliefdes gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd.

“Ter nagedagtenis aan Kirsten Kluyts, mag ons streef na ʼn wêreld waar sulke sinnelose gewelddade uitgeroei word. Laat ons haar nalatenskap eer deur vriendelikheid, deernis en liefde in ons eie lewe te bevorder.”

Kluyts was ʼn onderwyseres aan Delta Park High ten tyde van haar dood. “Rus soet, me. Kluyts, jou Delta Park-skoolfamilie sal jou vir altyd in ons harte hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannes ·

Ons moet van die ANC ontslae raak, vroeër-as-later! Hulle dryf hierdie mooi land oor die afgrond.

Hendrik ·

Hannes, die meeste verantwoordelike mense wou hulle al uitgestem het maar dit lyk of die onverantwoordelike masse anders dink.

Tanya ·

Ek dink Juju (en sy “gunsteling” sê-goed) en sy rooi bregade volgelinge is ‘n BAIE groter probleem vir die land op die oomblik, ANC is besig om homself uit te fizzle op die stadium….

Tanya ·

Dis ongelooflik tragies, dat ons as mens nie eens meer alledaagse goedjies kan doen in die natuur en goed wat ons geniet nie, sonder om afgemaai te word nie. Rus in Vrede Juffrou Kluyts, ek as mede Suid Afrikaner is bitter jammer dat jy op hierdie wrede manier moes heen gaan. Mag die luise hulle dag kry, net so wreed soos jy moes!

Minnie ·

Baie hartseer. Ons is nêrens meer veilig nie.
Innige simpatie aan haar familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.