Skok en hartseer ná Matie se dood  

Dylan Georgiades (Foto: Facebook)

Niemand is nog in hegtenis geneem ná die dood van ʼn tweedejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) die naweek nie.

Dylan Georgiades is laat Vrydagaand deur ‘n motor getref en is die volgende dag in die hospitaal dood.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 22:50 in Merrimanlaan op Stellenbosch plaasgevind.

“Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en later na ʼn Mediclinic oorgeplaas waar hy Saterdag aan sy beserings beswyk het.”

Van Wyk het gesê die presiese omstandighede rondom die voorval word ondersoek. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Die universiteit het gesê hy het met skok en hartseer van Georgiades se dood verneem. Georgaides is van Pretoria afkomstig en was ʼn tweedejaar BCom-student aan die US.

Prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier vir leer en onderrig, het gesê hy en ander senior personeel was in kontak met die student se familie om die universiteit se meegevoel te betuig en ondersteuning te bied waar nodig.

“Ons harte gaan uit na die vriende en familie van die student. Die dood van ʼn student is altyd moeilik vir die universiteitsgemeenskap en des te meer hartseer aangesien studente op die punt staan om Maandag met klasse te begin.”

Dylan Georgiades (Foto: Facebook)

Berading word vir studente aangebied en die universiteit het gesê hy verskaf sy volle samewerking aan die SAPD rakende die ondersoek na Georgiades se dood.

“Daar word ʼn beroep op die universiteitsgemeenskap gedoen om die privaatheid te respekteer van almal betrokke en om nie op sosiale media oor die aangeleentheid te spekuleer nie,” het Ramjugernath gesê.

Georgiades het aan Tyger Valley College in Pretoria gematrikuleer. Die skoolgemeenskap het ook sy skok en hartseer oor die voorval uitgespreek en sy medelye met Georgiades se ouers, Patrick en Diana, betuig.

Georgiades was in 2021 die hoofseun van dié private skool. “Dylan se dood is verwoestend en sal ons gemeenskap swaar tref. Ons meegevoel gaan uit na die Georgiades-familie en sy vriende in hierdie tyd. Hou asseblief sy familie in jul gedagtes en gebede. Mag Dylan in vrede rus.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Stellenbosch-polisie te kontak by 021 809 5000 of Stop Misdaad by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

N jongman se lewe op so n wyse verloor tragies en hartseer.Sterkte en meegevoel aan familie.

Wondermaarnet ·

Sterkte aan die familie en vriende. Mag hierdie saak vinnig opgelos word.

Skappie ·

Jammer om die te lees. Sterkte aan die gesin, en vriendekring van Dylan. Mag onse Liew Heer julle almal styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd dra.

JohanR ·

Ek het mooi deur die berig gelees maar dit lyk asof die lafaard wat die student raakgery het weg gejaag het. Net soos die voorval in Claremont waar Olivia Sieff dood is.

Onnie ·

Ai dis so vreeslik tragies, sy HELE LEWE het nog uitgestrek voor hom gelê. Soms maak hierdie goed net nie sin nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.