‘Skok en magteloosheid’ oor uitbreking van bek-en-klouseer

Argieffoto

Die departement van landbou, bosbou en visserye het bevestig dat hy ingelig is oor die uitbreking van bek-en-klouseer in Vhembe in Limpopo.

Khaye Nkwanyana, woordvoerder van dié departement, het gesê monsters is geneem nadat hy in kennis gestel is van vee in die gebied wat mank lyk. Volgens Nkwanyana is dié gebied net buite die beheerde gebied vir bek-en-klouseer.

“ʼn Span kenners van die departement en provinsiale veeartsenydienste is besig om verder ondersoek in te stel ten einde die resultate te verifieer en die omvang van die uitbreking te bepaal. Die beheermaatreëls sal bepaal word deur die bevinding van die ondersoek.”

Die voorval is by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid aangemeld. TLU SA se Noordstreek het intussen die nuus oor die uitbreking met “uiterste skok en magteloosheid” begroet.

Henk van de Graaf, TLU SA se streeksvoorsitter, het gesê binne die Limpopo Dieregesondheid Forum, waar hulle ʼn aktiewe rol speel, word die afgelope twee jaar reeds gewaarsku teen so ’n gebeurtenis en watter invloed dit op landbou-ekonomie in Limpopo sal hê.

“Suid-Afrika het hard gewerk om weer ons bek-en-klouseer‑ vrye status terug te kry. Dis nou weer opgeskort en niemand sal kan sê wanneer die gebied weer vry verklaar sal word nie. Suid-Afrika verloor nie net sy bek-en-klouseer-vrye status nie, ons verloor ook daardie klein segment op buitelandse winkelrakke.

“Ander lande wat met ons om daardie segment meeding ,sal dit opraap en dit gaan ons jare se tyd kos om eers ons bek-en-klouseer‑vrye status te herwin. Om daardie beperkte buitelandse winkelrakspasie terug te kry, kan selfs langer neem as net om die vrye status te herwin. Self wildsvleisuitvoere sal hierdeur geraak word.

Dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van Afrivet, het gesê bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en kan maklik deur skoene, voertuie, mense en diere wat beweeg of beweeg word, versprei.

“Die bioveiligheidsmaatreëls moet toegepas word op enige voorwerp, dier of persoon wat uit ’n vermoedelik besmette gebied kom en moet streng toegepas word deur alle boere wat hierdie uitdaging wil oorleef. Die departement het boere verder aangeraai om nie nuwe diere in hul kudde toe te laat nie en die beweging van hul eie kudde na ander plase te verminder.”

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat lewende hawe affekteer. Die siekte raak beeste, varke, skape, bokke en ander diere met gesplete hoewe. Die siekte raak nie mense nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wurmpie ·

Hierdie siektes is van al die vrylopende diere afkomstig. Niemand beheer mos die vee meer nie

Pieterv ·

Net so wurmpie.
Kyk net na die lys van name wat waarnemings en aanbevelings gemaak het. Kyk dan na die naamlys van diegene wat hierdie aanbevelings moes instel en bestuur. ?

Salamander ·

Jy is doodreg. Elke boer het sekere verantwoordelikhede, onder andere om te sorg dat sy vee teen aanmeldbare siektes gedosseer word. Ander verantwoodelikhede sluit in die maak van brandpaaie en voorbrande. Alles Wetlike verantwoordelikhede. Ek sou graag wou sien wie gaan hierdie verantwoordelikhede nakom en afdwing na hierdie onteienings debakel. Ons praat nog nie eens van waterbeheer nie.

Kits Sop ·

As ‘n beesboer is die vir alle beesboere ‘n groot skok. Ons voer nie verskriklik baie uit nie. Maar nou is dit zero. Ons het nog nie eers begin herstel van die droogte nie en die volgende ramp tref ons.

Karlahari ·

In Ladybrand loop die beeste van Lesotho sonder brandmerk in die dorp rond.
Die mense en die SA regering besef nie die gevare wat siektes soos bek-en-klou en bruselose inhou vir huis diere en mense nie.
Wat het geword van die wet dat alle beeste gemerk moet word?
Ek verstaan die frustrasie van die boere.

Cornel ·

Nou vra ek hoekom wil die staat nie die geld gee sodat Onderstepoort die entstof waaraan hulle werk kan uit gee nie. Miljoene rande gaan verlore jaarliks agv bek en klou. Maar nee hulle beweer daar is nie geld nie. Maar hulle almal nly in mooi huise ry mooi carre en neem vsn die geld huistoe sonder om daarvoor te vra. Nou moet onskuldige diere vankant gemaak word want on regering is te vertraaag ……..

Rudolph van Wyk ·

Ek is baie jammer vir die boere en die diere nou deur die soveelste natuurramp getref word en wie se heenkome bedreig word. Vir ‘n groeiende groep mense het die prys en produksie van melk en vleis geen impak meer nie want hulle het agter gekom dit is nie nodig vir ‘n gesonde dieët nie. Verder is daar ook baie meer bewustheid oor die onnodige lyding en dood van diere ter wille van smaak en vermaak. Niemand kan voorspel hoe die aanvraag vir pluimvee, suiwel en vleis op die langeduur gaan lyk nie maar die moontlikheid van verandering is daar

Ans Watkins ·

Ek vra wat het geword van die staatsveeartse. In die verlede was hulle baie besig om die diere siektes te beheer.???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.