Skok, medelye ná 7 in bakkie op treinspoor sterf

Foto verskaf deur die Kaapstad-metro se verkeersdienste

Boodskappe van medelye het ingestroom nadat sewe mans Vrydagoggend dood is toe ʼn trein by ʼn spooroorgang in Blackheath in Kaapstad teen ʼn voertuig gebots het.

Belanghebbendes het ook ʼn beroep gedoen op bestuurders om gehoor te gee aan veiligheidstekens by treinspore. Voorlopige aanduidings is dat die bestuurder van die bakkie die treinspoor by die Buttskop-spooroorgang probeer oorsteek het terwyl die aankomende trein reeds sigbaar op die treinspoor was.

Die parlement se portefeuljekomitee vir vervoer het ʼn beroep op die spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) gedoen om dadelik ondersoek in te stel hoe die gereelde botsings tussen voertuie en treine stopgesit kan word.

Die ongelukstoneel. Foto: ANA

Dikeledi Magadzi, voorsitter van die komitee, het namens die komitee haar medelye met die naasbestaandes van die oorledenes uitgespreek. “Die verlies van soveel lewens van Suid-Afrikaanse werkers is ontmoedigend, byna soortgelyk aan ʼn voorval waarin skoolkinders so ʼn paar jaar gelede betrokke was. Die departement van vervoer moet verseker dat só ʼn voorval nie weer gebeur nie,” het Magadzi gesê.

“Dié ongeluk is net weer ʼn aanduiding dat die instandhouding van ons spoorwegstelsels dringend aandag moet geniet – in die Wes-Kaap, maar ook oor die hele land. Ons stelsels is besig om ineen te stort en dit stel soveel lewens in gevaar,” het sy gesê.

Sy het verwys na ʼn voorval in 2010 toe tien leerders dood is onderwyl ʼn taxi waarin hulle gereis het ʼn treinspoor voor ʼn aankomende trein wou oorsteek. “Vandag het sewe mense hul lewe verloor en dit is ʼn oproep dat stappe dringend noodsaaklik is. Twee ongelukke in sulke soortgelyke omstandighede noodsaak optrede.”

Die ongelukstoneel. Foto: ANA

Jacob Humphreys, die bestuurder van die taxi waarin die tien kinders gesterf het, is destyds tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in hulle dood. Sy vonnis is egter tot agt jaar verminder tydens ʼn appèlsaak.

Magadzi het gesê die nuwe tydelike raad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) moet ook iets doen om spoorwegvervoer in die land te verbeter en dit op wêreldstandaard te plaas om sulke ongelukke te voorkom.

“Gemeenskappe moet ook paraat wees wanneer hulle treinspore oorsteek, aan die reëls gehoor gee en seker maak daar is geen aankomende treine in sig nie,” het Magadzi beklemtoon.

Die United National Transport Union (Untu) het Magadzi se uitgangspunt gesteun en ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees by spoorwegoorgange.

Naasbestaandes van die oorledenes in trane kort nadat hulle die nuus gehoor het. Foto: Cindy Waxa/ANA

“Dit is skrikwekkend dat onskuldige lewens van werkers verloor is omdat ʼn bestuurder nie die nodige versigtigheid aan die dag gelê het by die spooroorgang nie. Untu kan dit nie genoeg beklemtoon nie hoe belangrik dit is om behoorlik te kyk by ʼn spooroorgang en het al verskeie kere oor hierdie selfde ding gewaarsku,” het Steve Harris, sekretaris-generaal van Untu, gesê.

Na gelang van die spoed waarteen ʼn trein reis, sal dit ʼn trein steeds tussen 500 m tot ʼn kilometer neem om heeltemal tot stilstand te kom wanneer die noodremprosedure toegepas word. “Daar is niks wat ʼn treinbestuurder kan doen om ʼn botsing te vermy wanneer ʼn motoris onverskillig is nie,” het Harris gesê.

Hy het ʼn beroep op owerhede gedoen om bestuurders wat sulke ongelukke veroorsaak aan die pen te laat ry.

Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die slagoffers van Vrydagoggend se ongeluk was almal in hul 30’s en op pad werk toe. Die presiese omstandighede van die ongeluk word steeds ondersoek.

Faiez Jacobs, die sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, het ook die optrede van die bestuurder van die bakkie veroordeel. “Die trein het die reg van toegang. Ons verneem dat die bakkie[bestuurder] gedink het hy kan die treinspoor oorsteek voordat die trein verbykom. Hy het dus agter ander motors aangery wat ook die treinspoor oorgesteek het ten spyte daarvan dat hulle nie die reg van toegang gehad het nie,” het Jacobs gesê.

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het ook sy skok en hartseer oor die ongeluk uitgespreek.

Jabu Mahlangu, Sanco se woordvoerder, het gesê die aantal botsings by spooroorgange dui op “ʼn krisis” wat drastiese optrede verg. Volgens Mahlangu toon wêreldwye polisiestatistieke dat tot 95% ongelukke by spooroorgange veroorsaak word deur ʼn bestuurder, grootliks omdat die bestuurder nie aandag gee aan sy omgewing nie, sy aandag afgetrek word, die bestuurder die kans probeer waag om in elk geval die treinspoor oor te steek, ʼn gebrek aan kennis wat padreëls betref en in sommige gevalle selfmoord.

Hy het ook ʼn beroep gedoen dat spoorwegstelsels aansienlik verbeter en herstel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gertryda ·

Meeste ongelukke is bestuurder se skuld. Mense ignoreer padtekens en pad reels, nou moet die gewone mens met hul lewens boet. RIV en groot simpatie met die naasbestaandes

Andre van R. ·

Vergeet nie die trauma van die treinbestuurder nie. Ek hoop daar sal goeie psigiese nasorg vir hom wees. Sterkte vir alle betrokkene.

Anoniem ·

Hierdie berig laat my onwillekeurig dink aan desjare se duikinstrukteur se woorde: “If you break the rules, you die”. Hoe op aarde kan Prasa (deels) geblameer word vir die ongeluk? Dis die bakke se bestuurder se skuld dat daar onnodiglik mense dood is – hy het die padreëls gebreek.

Dekoloniseer ·

Die ANC sal sommer die uitvinder van treintegnologie die skuld gee.

Leon Dormehl ·

Carolina; Mpumalanga
Ek voorspel nog ‘n tragedie by die spooroorgang in ons hoofstraat. Dit was in die afgelope week baie amper toe ‘n wit Corsa bakkie letterlik meters voor die trein nog wou oorgaan. Hy moes oorbeweeg na die regterkantse baan met die trein van links toe hy geblokeer word deur voertuie aan die oorkant. Gelukkig het die loko nog baie stadig beweeg en kon hy weer terugstoot. Maar soms beweeg die treine heelwat vinniger en aangesien die oorgang baie ongelyk is gaan dit een of ander tyd gebeur dat n swaar voertuig of taxi nie vinnig genoeg gaan oorkom nie. Ek vertel hierdie vir al wat leef in die hoop dat iemand gaan luister.

Johanorius ·

Slegs tekens van ons tye in die nuwe Suid afrika. Padreéls word eenvoudig geignoreer. Eers was dit net die nuwe Suid Afrikaners wat so wetteloos alle padreéls oortree het maar deesdae is dit die Afrikaners self wat so sleg geword het.

Gatiep ·

Wel, kyk hoe ry n taxi, neem jou verby aan die ander kant op n geel lyn. Die bakkie vervoer mense. Sien n trein. Hmmmmmm is hy blind. Nee glad nie. N lisensie gekoop en gedink trein swaai uit. Hahaha. Sit tekens op. Ja gaan werk, want dit help om reen te stop op hulle huise. Ek lag net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.