Skok ná gesin, onderwyser se dood

Celesté, Frank en Franko Streicher. Foto: Facebook

ʼn Ouerpaar van Phalaborwa in Limpopo, hul jongste kind en ʼn leerlingonderwyseres van die Laerskool Phalaborwa (Groenskool) is Saterdagaand in ʼn gru-botsing oorlede.

Frank (41) en Celesté (40) Streicher, hul seun Franko en Lenisè Janse van Vuuren (19) is op slag dood nadat die voertuig waarin hulle gery het op die R71 tussen Gravelotte en Phalaborwa reg van voor teen ʼn vragmotor gebots het. ʼn Maatjie van Franko, Janco Oberholzer, het ernstige beserings opgedoen en is in die waakeenheid in ʼn hospitaal opgeneem.

Die egpaar se dogter, Lua (8), was ten tyde van die ongeluk nie saam met haar gesin in die motor nie. Frank was ʼn fisioterapeut op Phalaborwa, terwyl Celesté ʼn onderwyser by Laerskool Phalaborwa (Groenskool) was.

Johan Kruger, ʼn goeie vriend van die gesin, het Sondag aan Maroela Media gesê dit is nog nie duidelik presies hoe die ongeluk plaasgevind het nie, maar daar word vermoed die vragmotor het beheer om ʼn draai verloor en in die aankomende baan inbeweeg. Die Streicher-gesin se voertuig het die vragmotor reg van voor getref.

Lenisè Janse van Vuuren. Foto: Facebook

“Die gesin was die dag in Letsitele om Franko se bulletjierugbywedstryd by te woon. Frank sou eers gister saam met ons aan ʼn gholfdag op Hoedspruit deelgeneem het, maar hy het dit gekanselleer omdat hy gesê het hy kan nie sy seun se eerste bulletjierugbywedstryd misloop nie,” het Kruger gesê. “Franko het sommer ook sy eerste drie gister gedruk.” Kruger het gesê Franko was 5 of 6 jaar oud.

Volgens Kruger wou Franko en Janco graag saam terugry huis toe ná die wedstryd en het Lua dus saam met iemand anders in hul motor teruggery Phalaborwa toe. “Soos ek verstaan, was die motor waarin sy gery het voor Frank-hulle se motor, so Lua het gelukkig nie die ongelukstoneel gesien nie,” het hy gesê.

Frank Streicher en sy seun, Franko, vier Saterdag Franko se eerste drie tydens ‘n rugbywedstryd. Foto: Facebook

Boodskappe van medelye vir die Streicher-familie en Janse van Vuuren het sedert Saterdagaand op sosiale media ingestroom.

Op Janse van Vuuren se Facebook-blad het vriende en geliefdes haar as ʼn borrelende mens beskryf wat almal om haar se harte aangeraak het. Sy was ʼn oudleerling van Hoërskool Ben Vorster.

Die Afrikaanse sanger Jak de Priester het op sosiale media geskryf dat Frank sy “langste, beste vriend” was en dat hulle mekaar reeds van hul kleuterskooldae geken het. “Ons wou die wêreld verander toe ons op hoërskool was. Hier waar ek staan, is ek stukkend. Ek en my pel het baie planne gehad vir die toekoms, maar ek besef die dag van môre is aan niemand beloof nie. Gaan jou mis, my vriend.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Janet ·

Ons innigste meegevoel aan die Streicher familie. Onse harte is stukkend vir julle verlies. Mag Vader die balsem van Gilead oor julle harte uistort. X -Groenskool ouers

w ·

So vreeslik hartseer. Ons kan net bid vi hul geliefdes. my hart gaan uit na Die meisietjie van tien

Cheryl ·

Seer seer en normals seer!!! Hoe ek hoendervleis oor my hele lyf kry toe ek die berig lees!!! Dit is so tragies en ek dink aan die hele familie in die hartseer tyd!! Die lewe kan in ñ oogwink verander en niks is ñ belofte vir more nie… Ons Pappa het beter planne vir jul… Sterkte en nogmals Sterkte!!!

Hannelie ·

HARTSEER!!!! Here hou hul dogtertjie styf vas en vertroos haar.

Michael ·

Sjoe dis hartseer,lewe voluit ons weet nie wanneer dit ons beurt gaan wees nie.

Tiger ·

Strafbare manslag?Dis ‘n saak van moord wat ondersoek moet word!!Daai sogenaamde staats aanklaer hoort afgedank te word!Magtig ‘n gesin is VERMOOR deur sy “gee nie om” houding!Hoekom word die nationaliteit EN naam van die vragmotor bestuurder nie ook in die berig genoem nie Maroela Media???Dis TYD . . . .

Ansie Human ·

Ons innige simpatie aan lenise se ouers. Hul harte is stukkend. Mag die Here v julle vertroosting bied

Ouma ·

Lenise was ons kind, met die mooiste persoonlikheid. Ek weet sy het n groot leemte in ons lewe en die skool gelos, sy was so lief vir elke kind, dit was haar passie. Mnr Burger, personeel en leerders, ons wil julle van harte bedank, julle was deel van haar passie. Elke kind met wie sy te doen gehad het, het sy met liefde en respek gepraatl. Sy het hulle gevryf, getroos en met die “bekkie” gepraat soos sy hulle genoem het. Lenise jy was “one of a kind”. Lees gerus meer by die ander artikel oor ons kind se lewe.

Rubber ·

Op ons paaie is daar geen respek vir die pad reels nie, alle padreels word gebreek oortree, sperstrepe is net vir mooi versierings geverf op die teer dat die paaie nie te eentonig lyk nie. Mense koop hul lisensies, en alle reels is tabu. Kyk net al die lewens wat geeis word op ons paaie.

Mother ·

Our dearest Princess Lenise

We little knew that morning that Yeshua was going to call your name. In life we loved you dearly, in death we do the same. It broke our hearts to lose you, you did not go alone. For part of us went with you, the day Yeshua called you home. You left us peaceful memories, your love is still our guide, and though we can not see you, you are always at our side. Our family chain is broken and nothing seems the same, but as Yeshua calls us one by one, the chain will link again.

They say there is a reason, they say that time will heal. But neither time or reason, will change the way we feel. For no one knows the heartache that lies behind our smiles. No one know how many times we have broken down and cried. We want to tell you something so there won’t be any doubt. You are so wonderful to think of, but so hard to be without !!!

Love you Princess Lenise ……

Theresa B ·

Dis baie hartseer. Hoe verstaan ‘n mens sulke dinge……………..

Heila ·

Dis verskriklik hartseer!! Baie sterkte aan almal se families en die dogtertjie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Moenie probeer verstaan nie. Probeer net regop bly en aanvaar die lewe is nie regverdig nie. Ek se nooit vir iemand in hierdie posisie ek weet hoe hy voel nie, want ek WEET NIE . Ek kry hul net diep uit my hart bitter jammer en weet net ek kan vir hul NIKS doen nie. Net jammer wees.

Niggie ·

Nisè …
My engel ek het nie woorde nie en trane is daar nie meer. Ons harte is seer, ‘n stukkie saam jou weg. Ons familie sal nie weer dieselfde wees nie. Ons het jou bitter baie lief sonneblom-kind.

Lenise se sussie ·

My sussie los ‘n gebroke ouer sussie agter, sowel as n boetie, stiefpa, ouma en oupa en ons mamma wat vir haar kinders gelewe het. My hartjie is stukkend vir my arme sussie… As ek ‘n berig kon skryf oor haar, het ek! Sy ht soveel mense se lewens verryk met haar veiwndelikheid en behulpsaamheid. Ek soek nog net 1 daggie saam haar om haar vas te hou, te vertel dat ek haar lief het en net met haar te gesels. Sussie was so baie lief vie jou, jy moet weet, my toekomstige dogtertjie sal na jou vernoem word. Sussie is so baie lief vir jou en ek is so trots op die mens wie jy was. My hartjie is so baie bitter seer vir jou my ou sussie. Ek wens ek kan nog vir 5 minute jou yskoue handjie daar op die grassies vashou. Ek wens ek kon jou beskerm in daai kar. Sussie hoop nie jy het seergekry nie. Ek is vreeslik lief vir jou my sussie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.