Skok ná landbou-hoë se skielike dood

Henk van Wyk (Foto: Verskaf)

Henk van Wyk (60), president van Agri Noord-Kaap, het Saterdagmiddag op sy plaas Vondelingsfontein naby Calvinia in die Noord-Kaap gesterf.

Henning Myburgh, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê dat Van Wyk Saterdag omstreeks 14:00 ná middagete bietjie gaan lê het toe hy in sy slaap vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede is.

Volgens Myburgh het Van Wyk nie juis met sy gesondheid gesukkel nie en was hy ’n “aan die gang, lewendige mens”.

Van Wyk is in die Calvinia-distrik gebore en getoë en was ook ’n vooraanstaande skaapboer in dié distrik. Hy was sedert 2011 president van Agri Noord-Kaap en het ook op die direksie van Agri SA gedien.

Myburgh vertel dat Van Wyk vanaf sy jongdae by georganiseerde landbou betrokke was. “Hy het elke aspek van die bedryf van begin tot einde geken en het ’n magdom kennis en ervaring gehad.” Hy vertel ook dat Van Wyk ’n ontsettende goeie geheue gehad het. “Hy kon projekte en hulpskemas van jare gelede onthou en die waarde daaruit haal vir huidige toestande in die landbou.”

Volgens Myburgh het Van Wyk ’n punt daarvan gemaak om by sy medeboere en boereverenigings uit te kom om boere te help en gerus te stel rakende kommerwekkende kwessies soos droogte. Hy sê dat Van Wyk vir sy gesin, medeboere en werkers geleef het. “Hy was spontaan, ’n mense-mens.”

Van Wyk word oorleef deur sy vrou en drie dogters. Myburgh vertel dat van Wyk ’n sterk gesinsman was wat altyd sy familie eerste gestel het, ten spyte van die hoë eise wat sy loopbaan gestel het.

Geen begrafnisreëlings is nog bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Dis baie slegte nuus. Innige simpatie aan die gesin, familie en vriende.

Vriende ·

Ons Vader U weë is onbekend, versterk al die familie geliefdes en betrokkenes asseblief….
innige meegevoel met groot verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.