Skok ná moord op gesondheidswerker naby hospitaal

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Die Gautengse departement van gesondheid het sy skok uitgespreek nadat ʼn senior gesondheidswerker Dinsdag helder oordag in haar motor naby die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg doodgeskiet is.

Volgens Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, was die gesondheidswerker na die Lillian Ngoyi-gemeenskapgesondheidsentrum onderweg toe die voorval plaasgevind het.

Die polisie het gesê ʼn onbekende aantal verdagtes het op die gesondheidswerker losgebrand terwyl sy in haar motor was. Die motor het teen ʼn straatlig gebots voor dit tot stilstand gekom het. Die vrou is op die toneel dood verklaar.

ʼn Soektog is na die verdagte van stapel gestuur. Modiba het gesê die slagoffer was ʼn senior mondhigiënis.

“Die nuus van hierdie gru-moord is met skok en hartseer onder gesondheidswerkers ontvang. Ons dra ons innige meegevoel oor aan die familie van ons kollega,” het hy gesê.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, het ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om geen moeite te ontsien om die skuldiges vas te trek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Ek is besig om so ‘n afsku in hierdie land te ontwikkel wat ek eens so lief gehad het, en in die groot, groot getal gewelddadige, oneerlike, korrupte mense. Ongelukkig is ek te oud en te arm om ‘n heenkome in ‘n ander land te kry, maar ek bid my kinders sal dit wel kan doen en gelukkig wees daar. Om alleen hier agter te bly, is die opoffering wat ek sal maak ter wille van hulle veiligheid en geluk.

Skappie ·

Al die moorde wat gepleeg word in ons land, dit is baie hartseer. Sterkte aan haar gesin en vriendekring. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.