Skok, ontnugtering ná sy self broer se moord ondersoek

Gavin Wolfswinkel.

Oor twee maande is dit reeds vier jaar sedert Gavin Wolfswinkel (32) en ʼn werker koelbloedig op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria, vermoor is.

In die afgelope drie jaar en 10 maande het Wolfswinkel se suster, Chnay Wolfswinkel-Coetzer, egter nog nie die kans gehad om oor haar broer te rou nie, aangesien sy self ingespring en die moord begin ondersoek het.

Wolfswinkel en Lucky Sithome (30), albei in die boubedryf, is op 15 November 2015 vermoor. Wolfswinkel en Sithome, wat in afsonderlike huise op die kleinhoewe gewoon het, is dié Sondagaand omstreeks 19:45 deur drie gewapende mans doodgeskiet.

Wolfswinkel se suster Chnay (heel links), ouers Hennie en Sandra en broer Sean (agter) by die kruis wat hulle vir hom by die Witkruismonument geplant het.

“Emosioneel vat dit verskiklik baie van my. Ek het my broer op die dag van sy verassingsdiens belowe dat ek sal veg vir geregtigheid vir hom. Sy lewe is onnodig van hom af weggevat. Ons wil net hê dat dit nou na ʼn kant toe moet gaan. Ek is veronderstel om deur ʼn rouproses te gaan maar ek kan nie, want ek moet die polisie se werk doen.”

Wolfswinkel-Coetzer het reeds vroeër ʼn private ondersoeker aangestel en ook sowat twee maande terug vir AfriForum genader om haar met die ondersoek na die moord op haar broer by te staan.

“Ons kry net niks samewerking van die polisie af na die moord nie. Dit is net skokkend; ons kry net geen hulp nie. Ek sit letterlik met als … die lykskouingsverslag en foto’s van die misdaadtoneel. Ek het inligting wat die polisie nie eers het nie.”

Dit was egter skok en ontnugtering wat gevolg het nadat sy self begin ondersoek instel het. Luidens die oorspronklike nadoodse verslag, was die lyk waarop die nadoodse ondersoek gedoen is Chnay en Gavin se pa. Dit was sy naam, ouderdom en beskrywing op die verslag en hiervolgens het Gavin (die oorledene) die lyk uitgeken. Die familie moes toe hoor dit was net ʼn tikfoutjie.

Die koeëlpunt wat twee weke later op die toneel gevind is.

“Dit is waar, maar dit is na die tyd reggestel. Onthou net die proses behels verskillende rolspelers in die polisie,” het konst. Yeroboam Mbatsane, woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, in antwoord op navrae hieroor gesê.

Dit was volgens Wolfswinkel-Coetzer egter net die begin. “Daar is ook op die nadoodse verslag aangedui dat my broer in die nek geskiet is, terwyl hy aan ʼn kopwond dood is.”

Ook op die misdaadtoneel is die korrekte prosedures nie gevolg nie, volgens Wolfswinkel-Coetzer. Die misdaadtoneel is vertrap, niks is afgesper nie, DNS-monsters is nie geneem nie en twee weke later is ʼn koeëlpunt op die toneel gekry.

Die koeëlpunt wat twee weke later op die toneel gevind is.

Die polisie ontken egter dat die misdaadtoneel besmet is of dat geen DNS-monsters geneem is nie. “Dit is wel waar dat daar twee weke later ʼn koeëlpunt gekry is. Die bewysstuk is gaan haal nadat die polisie hiervan in kennis gestel is.”

Die grootste ontnugtering sou egter nog volg. Wolfswinkel se familie het verlede jaar ʼn oproep ontvang om ʼn informele geregtelike ondersoek na sy moord by die hof by te woon. Die moordondersoek is na ʼn geregtelike ondersoek verander. Volgens die polisie was daar nie genoeg bewyse om die moordsaak af te handel nie. Die polisiedossier was ʼn skrale vier bladsye.

Nadat Wolfswinkel-Coetzer egter haar eie bewyse aan die hof getoon het, het die landdros beveel dat behoorlike ondersoekwerk gedoen word.

Vir nou word daar gehoop dat die polisie sy belofte sal nakom en selfoonrekords sal bekom en dat die moordondersoek heropen sal word. “As ons self die nommers moet aanvra, gaan dit ons R10 000 per nommer kos.” Wolfswinkel-Coetzer en die private speurder wil hiermee probeer om verdagtes op die toneel te plaas.

‘n Holster wat een van die aanvallers op die toneel agtergelaat het.

“Die polisie het reeds vroeër belowe hulle sal dit doen, maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle kan dit gratis met ʼn 205-dagvaarding bekom.”

Volgens konst. Mbatsane is die dossier aan die ondersoekbeampte teruggehandig om selfoonrekords te bekom.

“Ek het twee maande terug vir die eerste keer in drie en ʼn half jaar ʼn WhatsApp van die ondersoekbeampte af gekry waarin hy vir die private speurder se nommer vra. Ek het reeds verskeie kere op eie onkoste gevlieg om na die polisiestasie te gaan en te hoor wat gebeur met die ondersoek.

“Die private speurder het al hoeveel keer soontoe gery met bewyse en foto’s en daar is net niks gedoen nie. Ons het ook nog geen tyding ontvang oor die belofte om die selfoonrekords te bekom nie.”

Die tang waarmee die heining na die kleinhoewe geknip is.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoer, het intussen bevestig dat die polisie op provinsiale vlak klagtes ontvang het oor die Boschkop-polisiestasie se hantering van die saak.

“Ons wil die familie graag verseker dat ons dit in ʼn baie ernstige lig beskou. Die klag is nou na die provinsiale bestuur geëskaleer vir die doel van ʼn interne ondersoek om vas te stel of daar enige oortredings was aan ons ondersoekers se kant.”

Peters het verder bevestig dat die polisie in kontak is met die vervolgingsgesag rakende die klagtes teen die polisie se ondersoek van die moordsaak.

AfriForum het onderneem om volgehoue druk op die Boschkop-polisiestasie te plaas om die nodige aandag aan die saak te gee.

Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, het gesê die Boschkop-polisiestasie het versuim in sy grondwetlike plig om hierdie saak te ondersoek.

“Daar was kommunikasie vanaf die betrokke ondersoekbeampte, maar tot op hede het daar nie enige vordering uit die kommunikasie gespruit nie.

“AfriForum sal die nodige prosesse volg en hierdie saak tot op ʼn nasionale vlak dryf om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet.”

Wolfswinkel se familie het verlede naweek vir hom ʼn kruis geplant by die Witkruismonument in Limpopo wat plaasmoorde herdenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Frans C ·

Skokkende nalatigheid aan Polisiekant. Geen wonder misdaad ruk hande uit nie.
Sterkte en simpatie word die familie toegewens.

Adele ·

Dit is ‘n skande dat ‘n suster haar hele lewe moet wei om die polisie se werk te moet doen. Ek bid dat die familie spoedig sluiting sal he en geregtigheid sal geskied.

HELEEN hALVORSEN ·

My broer in 2012 ook op n kleinhoewe buite Vanderbijlpark vermoor, polisie het 3 aangekeer maar weer laat gaan omdat daar geen “ooggetuies was nie “, hoe belaglik, niemand sal moor as daar iemand is wat vir hom of hulle kyk. Daar is tot dusver niks aan die saak gedoen nie.

Chnay Coetzer ·

Baie jammer om te hoor Heleen! Dis bitter sleg om deur so iets te gaan! Sterkte vir julle!

Me too ·

Wag al 27 jaar vir n antwoord , my man is toe vermoor in dieselfde omgeving, baie sterkte aan almal betrokke by hierdie sinnelose verlies

theo ·

met 57 moorde n dag wonder ek wat is die sap se sukses. sterkte aan die families wat geliefdes verloor het. ek verheug my daar in as n hooggeplaaste anc minister sterf.

McG ·

Daarsy Afriforum, vat hom. Nee wat SAPS is maar useless. En Min HoedjieCele staan heel voor. Maak geraas en niks verder nie.

charmaine ·

Polisie gaan nou eers polisielede ondersoek wat nie hulle werk gedoen het nie? Sjoe en dan wil hulle vroue en kinder geweld hokslaan, asb in hulle drome.
Dis maar wat die samelewing moet doen beskerm jouself skiet om raak te skiet en jou familie sal self jou dood ondersoek.

Melanie ·

Die polisie wil eenvoudig nie hul werk behoorlik doen nie daar al soveel klagtes by verskillende stasies wat ek al gelees het.My sus se skoondogter sê oom is vermoor jare later moodenaar nog nie aangekeer nie.My seun en sy meisie aangeval in 2009 tot nou toe geen terug voering.My peetkind se ouers was op plot aan gehou man was in die maag en been geskiet hy het dit oorleef maar niemand was nog aan gekeer.Net my opinie stel eerder mense aan wat wil werk en hul werk met trots doen.

Willehond ·

Boschkop polisie stasie is by verre een van die swakste “polisie stasies” in die land! Probeer daar n verklaring hoe eenvoudig ookal afle en jy moet ten minste twee dae se verlof insit! Pateties verby!

Chnay Coetzer ·

Presies! Ek maak afsprake met hulle, bevestig datum en tyd, vlieg Gauteng toe en as ek daar kom, is niemand met wie ek afsprake gemaak het daar nie!

Anoniem ·

… maar hys nou net ‘n stuk gekleurde lap (vlag) op jou erf en die hemele behoed jou; jy sal so vervolg word tot BY oom Daantjie in die kalwerhok: IN detail.

se net ·

As die saak opgelos is, sal daar n berig verskyn: Danksy publiek se samewerking het die SAP n moordenaar suksevol vasgetrek na 4 jaar se harde speurwerk.
Ek glo nie eens hul weet hoe om selnommers aan te vra nie. Jammer maar die meeste (driekwart) SAP lede weet niks van hoe om sake te ondersoek nie.

Chnay Coetzer ·

SAP sal GEEN krediet hiervoor kry nie, dit is een ding wat ek kan belowe!

muis ·

Nerens in die hele wereld is daar so n swak polisie mag en militere mag soos in SA nie. Waar kry jy ons kamtige polisie……by kafees rondstaan slaap in hul voertuie privaat mense rondry en self besig om misdaad te pleeg.

muis ·

Baie sterkte met jou ondersoek ek glo jy sal uiteindelik die skuldige op jou eie vastrek.

chris ·

Ek sit met n soortgelyke geval. het alle bewyse self gaan soek en ook alle verklarings geneem met die hulp van n afgetrede oud speurder. Is al vanaf februarie besig na verskeie e -posse aan die sapd se klagte kantoor. Die saak was ook gesluit deur die staats aanklaer totdat ek self n afspraak gereel het en alles gaan verduidelik het. Alle verklarings was nie eers in die leer toe die saak na die hof toe was nie, met my besoek aan die aanklaers is daar toe sommer n dik leer met al die verklarings daarin. Hopelik word die regte aandag nou aan die saak gegee. Sterke aan die Wolfswinkel familie

Sê maar net ·

Die polisie is nog besig om te observeer mense……….,

Emi ·

Kla en praat sal nie help nie. Die skrif is lankal teen die muur. Mense emigreer omdat hulle WEET dat die hool nooit sal reg kom of verbeter nie.

Willie ·

Ek wonder ooit of die polisie nie skaam is nie? Dis die korrupte spul wat daar is, rasisties as dit wittes kom, onbevoeg en opsetlikke lui mags misbruik… Kentucky obserweerders..

Wayne ·

Waarskynlik politiek. Waar niemand dood of beseer is nie, maar verdagtes blank is, word getuienis gefabriseer. Maar hier word getuienis of vertrap of geïgnoreer.

Ja swaer ·

Ek dink nie die speurders van Boschkop weet enigsins hoe om so n saak te hanteer nie. Of sou hulle beter vaar as dit n slagoffer van n ander bevolkingsgroep was? Die waarde van die bolt cutter (indien die toneel behoorlik hanteer was), is vingerafdrukke. Met dit kon n verdagte met vorige veroordelings op rekord geidentifiseer word. Met die bolt cutter en holster kon ‘touch’ DNA gevind word. Daarmee kan ook verdagtes geidentifseer word op die nasionale DNA databasis al sou dit maande neem. Dit klink of daar moontlike verdagtes is – die ondersoekbeampte is te lui om n verklaring op te stel en n 205 aansoek in te dien vir selfoonstate. Oproepdata kan gebruik word om die gebruiker te identifiseer. Maar dis luiheid en onbevoegdheid wat botoon voer hier. Ek sal met graagte opleiding gee aan speurders wat nie weet wat om te doen nie (self is ek na amper 30 jaar gelukkig weg daar toe alles inmekaar val sowat 5 jaar terug)

Chnay Coetzer ·

Dot is waarvoor ek al amper 4 jaar baklei! Maar hulle stories kom nie ooreen nie! Elke keer is daar ‘n ander storie en verskoning oor DNA, vingerafdrukke ens.! Hulle kan niks vir my gee om dit privaat te laat toets nie, want hulle het niks!

Eina ·

Jammer vir julle verlies. Mag julle sukses bereik met julle ondersoek.

hercu ·

as veteraan moord & roof speurder sou ek so graag wou help, maar ek is bed leênd!

ek laat my kop in skaamte sak om te hoor hoe treurig die eertydse, deftige SAP verwoes is deur ‘n onbevoegde regering en hoedjies Gen Bheki Cele wat nog nooit in sy lewe een dossier ondersoek het nie!

my gebed is dat jy hierdie saak saam met die privaat speurder en Afriforum sal oplos en die SAPD kan wakker skrik!!

CARIEN ·

Baie jammer Chnay, sterkte vir julle.
Hoop en bid jul kry die saak opgelos.

My pa, ‘n trotse oud Polisie Offisier draai in sy graf om as hy kon hoor hoe dit deesdae in die mag gaan.
Dit is hartverskeurend……????????

Doris ·

Chnay ek voel bitter jammer vir julle familie ek het so nege jaar terug net so n skok gekry toe hulle n nadoodse ondersoek op my kind wat in n Ongeluk gesterf het n verkeerde persoon wat saam gesterf het se lyk nr. vir my kind gegee en die lelikste dinge kwyt geraak het plaas dat hulle eers hulle werk reg doen sterkte vir julle familie want n mens kry nie afsluiting van so iets nie.

Doris ·

Chris ek het dieselfde probleem as jy maar gelukkig het ek dokumente van die Staatsaanklaer en die Landdros en die ondersoek beampte se dagboek inskrywings en kan nie glo wat in die GDO Saak aangegaan het nie een groot sirkus met al die leuns maar ek glo geregtigheid sal geskied.

Natascha ·

So jammer om te hoor. Ons hele land se dienste is in hul peetjie. Nerens kry mens meer goeie diens nie.
Hoop jul kry antwoorde en spoedig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.