‘Skok, ontsteltenis’ oor goedkeuring aan NGK om gays te trou

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die Moreleta-gemeente in Pretoria sê hy het met “skok en ontsteltenis” kennis geneem dat die NG Kerk deur sy Algemene Sinodale Kantoor amptelik by die departement van binnelandse sake aansoek gedoen het om as godsdienstige organisasie aangewys te word wat selfdegeslagverbintenisse kan voltrek.

“Verskeie navrae is van leraars en lidmate ontvang wat ontsteld is oor die ontydige en ongemagtigde optrede van die Algemene Sinodale Kantoor. Sinodes, ringe, kerkrade, leraars en lidmate word versoek om hulle ten sterkste uit te spreek teen hierdie optrede en om hulle amptelik daarvan te distansieer,” het Pieter Breytenbach, bedryfshoof van die Moreleta-gemeente, gesê.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het verlede week aangekondig die kerk se aansoek om selfdegeslagverbintenisse te voltrek is “gunstig” ontvang. Die minister van binnelandse sake het toestemming gegee dat predikante van die kerk wat sou aansoek doen daarvoor en aan bepaalde vereistes voldoen, voortaan selfdegeslagverbintenisse mag voltrek.

Die magtiging het op 22 Junie in werking getree.

Die Moreleta-gemeente sê egter die Algemene Sinode van 2019 het nié besluit om namens die NG Kerk as denominasie aansoek by die departement te doen vir die aanstelling van gelegitimeerdes van die kerk om bevestigers van burgerlike verbintenisse te wees nie. “Die Algemene Sinode van 2019 het besluit dat daar net vir leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig, aansoek gedoen sal word vir registrasie,” het Breytenbach gesê.

Volgens hom het die sinode ook nie besluit dat aansoeke vir aanstelling as bevestiger van burgerlike verbintenisse deur die Kantoor van die Algemene Sinode gedoen mag word nie en dat ʼn amptenaar in diens van dié sinode geen opdrag op bevoegdheid van die Algemene Sinode ontvang het om aansoek te doen vir die aanstelling van bevestigers van burgerlike verbintenisse nie.

Breytenbach sê die handelinge van die Algemene Sinode van 2019 is nog nie gepubliseer nie en die besluite wat geneem is, het nog nie in werking getree nie.

“Terwyl die NG Kerk skerp verdeeld is oor die aangeleentheid van selfdegeslagverbintenisse en sinodes, ringe en kerkrade die reg het om hul eie besluite daaroor te neem, word hiermee nou ʼn besluit van die Algemene Sinode op alle ander kerkvergaderinge in die NG Kerk afgedwing,” het hy gesê.

Breytenbach sê die Wet op Burgerlike Verbintenisse maak dit moontlik vir gelegitimeerdes van die NG Kerk om direk by die minister aansoek te doen om as bevestigers van burgerlike verbintenisse aangestel te word en verskeie van hulle het reeds op eie inisiatief só ʼn aanstelling bekom.

“Druk is vermoedelik met ander motiewe en wederregtelik op die Kantoor van die Algemene Sinode uitgeoefen om namens die NG Kerk, en nie slegs namens leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig nie, daarvoor aansoek te doen. Dit is gedoen om die NG Kerk in al sy vergaderinge en alle gelegitimeerdes van die NG Kerk, ook diegene wat sodanige verbintenisse op Bybels-teologiese gronde sterk afkeur, daarmee te kompromitteer.”

Breytenbach sê ook die kommunikasie oor die goedkeuring van die NG Kerk se aansoek het nie ʼn onderskeid tussen huwelike en burgerlike verbintenisse getref nie en het “reeds tot groot skade binne en buite die NG Kerk gelei”.

“Weens die feit dat die besluite van die Algemene Sinode 2019 as onbybels en onkerkordelik geag word en weens die feit dat ʼn aantal kerkvergaderinge reeds ʼn formele geskil daaroor teenoor die Algemene Sinode verklaar het, kan nóg die Algemene Sinodale Kantoor nóg streeksinodes se gevolmagtigde(s), nóg gelegitimeerdes van die NG Kerk in hierdie aangeleentheid handel, voordat die Skrifgefundeerdheid, wettigheid en regsgeldigheid van die besluite bepaal is, en die geskille wat bestaan, behoorlik uit die weg geruim is,” het Breytenbach gesê.

Die Moreleta-gemeente het nou gevra dat gelegitimeerdes van die NG Kerk wat oor ʼn aanstelling as huweliksbevestiger ingevolge die Huwelikswet beskik, ʼn skrywe aan hul sinodale kantoor rig met die versoek dat die minister skriftelik in kennis gestel word dat die huweliksbevestiger op grond van gewete, godsdiens en geloofsoortuiging beswaar het teen die bevestiging van burgerlike verbintenisse.

Die gemeente het ook kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate wat die verklaring ondersteun of in die lig daarvan ook wil doleer (treur) of ʼn geskil met die Algemene Sinode wil verklaar, genooi om hom te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.