Skok oor boeliery by Kaapstad-skool

‘n Skermskoot uit die video.

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderrig, het haar skok uitgespreek oor ʼn onlangse voorval van boeliery by ʼn skool in Kaapstad waar ʼn graad 8-seun ʼn klasmaat se hare aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig  ʼn leerder van Belgravia High School in Athlone, Kaapstad is geskors nadat hy Maandag een van sy klasmaats se hare aan die brand gesteek het. ʼn Video van die voorval het wyd op sosiale media versprei. Die skool onmiddellik ondersoek ingestel en die seun is geskors hangende ʼn tugverhoor.

In die video kan mens sien hoe die meisie deur ʼn seun geteister word voor hy vloeistof oor haar kop uitgooi. Hy steek dan haar hare aan die brand. Die klas lag in die agtergrond. Die onderwyser was nie ten tyde van die voorval in die klaskamer nie.

Mbinqo-Gigaba het gesê sy is ontstoke oor nóg ʼn video van boeliegedrag, veral omdat skole beleide teen boeliegedrag behoort te hê. “Alle leerders moet vertroud wees met dié beleide en die gevolge as hulle nie daarop ag slaan nie. Die boeliegedrag van hierdie seun het ook die lewe van hierdie leerder, en ander leerders, in gevaar gestel. Ek veroordeel die voorval ten sterkste, omdat gebeure baie vinnig buite beheer kon raak.”

Mbinqo-Gigaba het gesê die departement het verlede maand ook te hore gekom van die impak van boeliery toe ʼn leerder van Limpopo haar eie lewe geneem het ná video’s op sosiale media versprei het waar sy deur mede- graad 10-leerders aangerand word.

“Beleide moet toegepas word. As daar steeds skole is wat nie ʼn gedragskode het of ʼn beleid teen boeliegedrag nie, moet die kwessie baie dringend getakel word.”

Op die Wes-Kaapse departement van onderwys dat die leerder van Athlone geskors is, het Mbinqo-Gigaba bygevoeg: “Ek vra myself soms af: is dit genoeg dat ʼn leerder geskors word hangende ʼn dissiplinêre proses? Miskien moet ons weer kyk na die gevolge. Miskien moet dit gemeenskapsdiens insluit sodat die leerder ten volle begrip kan hê vir sy gedrag en die trauma wat hy veroorsaak het.”

Sy maan onderwysowerhede landswyd om seker te maak dat diegene wat by boeliegedrag betrokke is, die gevolge van hul aksies dra en om boeliegedrag uit te roei. “Onderwys is ʼn samelewingskwessie. Die veiligheid van leerders berus nie net by die onderwysowerhde nie, maar by almal. Ek maan ouers en versorgers om ook verantwoordelikheid te aanvaar sodat leerders bewus kan wees van boeliegedrag en die verwoestende gevolge daarvan. Die komitee beplan ʼn oorsigtelike besoek by skole in die provinsie in die nabye toekoms en dit is beslis ʼn kwessie wat ons sal aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lynette ·

Ek sien die minister sê iets wat my na aan die Hart lê. Om n oortreder Huis toe te stuur na n oortreding is Om so iemand met n vakansie te beloon. Sover ek weet, Kan n mens gemeenskapsdiens instel. So n leerder moet maar na skool saam met die skoonmakers kom inval. Ek Glo n Keer of twee se handerarbeid sal dalk meer impak hê as detensie of skorsing. Te veel kinders lei nie gevolge op misdadige optrede nie. Gee maar die nodige beskermingdklere en laat ons maar onkruid uittrek, ens. Jy het buitendien nie Ander se regte in ag geneem nie. Dis verbeur jy joune!

Tanniepetoors ·

Om vloeistof op iemand se kop te gooi en dan die persoon se hare aan die brand te steek is nie boeliery nie, dis aanranding met die doel om ernstig te beseer!

Jr ·

Weet jy wat mev Gicaba jy is so geskok maat u party anc en eff en die polisie en die heele situasie van geweld in hierdie nuwe SA leer hierdie kinders hoe om op te treë. So wees geskok so veël as wat u wil. Hierdie is nie die laaste geval. Daar sal nog wees. Daar is ook nie dissipline in skole – jou party se beleide. Soos wees maar geskok

Gert ·

Stel weer lyfstraf in. Dit het gewerk. Detensie en skorsing werk nie, detensie mors net die onderwysers se tyd want die kinders sit en leer niks. Skorsing beteken gaan weg en kom nie weer terug nie en verder kla hom krimineel aan vir aanranding en sit in boys of girls town waar daar regte dissipline moet wees.

My siening ·

Ek stem na n goeie pakslae by die hoof het ek 2 keer gedink voor ek iets verkeerd doen. Pakslae laat jou dink!!

Dawie ·

In my st. 6 jaar was die grootste boelie in die koshuis ‘n mariekprefek in een van die standerd 6 gange. Ons almal het deurgeloop maar hy het toe een van die rofies in sy eie kamer met die tou bo die kamerdeur wat die bo-lug ooprol, opgehang tot hy flou word. Hy was dieselfde dag wat die outjie se pa skool gebel het, in die hoof se kantoor, en moes onmiddellik daar kies of hy sy prefekwapen wou teruggee of staan vir ses van die bestes. Hy het besluit om te staan vir ses. Die boelie was nog nie uit hom uit nie, maar hy was vir die res van die jaar ‘n vernederde man en ‘n baie nederiger boelie.

popsa ·

Hoekom is sy geskok? Geen dissipline mag toegepas word nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.