Skok oor jong rugbyspeler se skielike dood

Doohan Hanekom. Foto: Facebook

ʼn Kaapse rugbyklub is in rou gedompel nadat een van hul belowende jong spelers die afgelope naweek dood is en sy spanmaat ernstig beseer is.

Doohan Hanekom (19) is Saterdagoggend in ʼn motorongeluk dood en sy vriend Rohann Bester (19) ernstig beseer. Volgens Robert Wallander, voorsitter van die Durbanville-Bellville-rugbyklub, het hy Saterdagoggend ʼn telefoonoproep met die skoknuus ontvang.

“As voorsitter en ouer het ek nie die skokkende nuus verwag nie. Die tragiese nuus is dat een van hulle gesterf het. Dit is hartverskeurend.” Volgens Wallander het die ongeluk buite Durbanville plaasgevind terwyl die twee in die rigting van Philadelphia gery het. Daar was geen ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Wallander het gesê Hanekom is op die toneel dood terwyl Bester met ernstige beserings na ʼn hospitaal vervoer is. “Hy is gister geopereer en als het goed gegaan.” Hy bly in die hospitaal vir verdere behandeling.

Bester het die jaar vir die klub begin rugby speel. “Met al sy goeie eienskappe is hy reeds deel van die rugbyfamilie, ʼn seun om op trots te wees. Ons glo hy sal volkome herstel.”

Volgens Wallander het Hanekom sowat twee jaar vir die klub gespeel. “Hy was baie goed gewees en die impak wat hy as jong man op mense gehad het, kon duidelik gesien word ná die nuus oor sy dood versprei het.”

Wallander het gesê Hanekom sal altyd onthou word vir sy goeie maniere. “Hy het altyd sy kep opgelig as hy iemand gegroet het. Hy het almal altyd dieselfde behandel, hy was so ʼn goeie kind. Ek het altyd ʼn sagte plek in my hart gehad vir hom.”

Boodskappe van medelye stroom in op sosiale media vir Hanekom se familie en vriende. Daar is ook boodskappe wat Bester se familie sterkte toewens met sy herstel.

Die klub het intussen bekend gemaak Hanekom se begrafnis word Donderdag om 14:30 in die Durbanville-gedenkpark in Fisantekraal gehou. Verversings sal ná die tyd by die rugbyklub voorgesit word waar rouklaers geleentheid sal kry “om dié legende se lewe te vier”. Hanekom laat sy ouers en twee broers agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annelita ·

Sterkte aan die families van beide die jong manne. So bitter hartseer.

Derek ·

Doohan ‘n goeie man, sterkte aan die familie. Word gou gesond Rohann

Wet op Bestuur ·

Baie sterkte aan die familie! Hulle moet wette verander sodat jy eers op 21 Lisensie kan kry, Daar sal heelwat minder ongelukke wees onder die jongmense.

Vinkie ·

So jammer om te lees van hierdie twee jong seuns se ongeluk. Opregte medelye aan Doohan se ouers en broers. Dit is ‘n ongelooflike pyn wat julle nou moet deurgaan. Ons bid vir julle en ook vir Rohann se herstel en sy ouers. :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.