Skok oor merke op baba: ‘Ek wil keer dat dit met iemand anders gebeur’

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

ʼn Ma van Johannesburg het ander ouers gewaarsku om op die uitkyk te wees vir tekens dat hul babas of kleuters by dagmoeders geslaan word, nadat haar seuntjie, wat 11 maande oud is, met merke op sy lyf by die huis aangekom het.

Elaine Pretorius was Vrydag geskok toe haar seuntjie, Cody, van sy dagmoeder af teruggekom het met rooi, opgeswelde merke op sy boude en sy. Pretorius het Maandag foto’s van die merke op Facebook geplaas en die inskrywing is reeds meer as 3 400 keer gedeel.

“Ek was Vrydag in Pretoria en my ma het Cody die middag by sy dagmoeder [in Alberton] gaan haal,” het Pretorius aan Maroela Media gesê. “Omtrent ʼn uur nadat hulle by die huis gekom het, het my ma Cody se doek omgeruil en die merke aan sy lyfie gesien. Sy het my gebel om te vra of ek iets daarvan weet, maar ek was natuurlik baie verbaas om daarvan te hoor.”

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

Volgens Pretorius het sy dieselfde aand foto’s van die merke aan Cody se dagmoeder gestuur en ʼn verduideliking geëis. Die dagmoeder het beweer Cody het op die klimraam gespeel toe hy gegly en sy hom gevang het. Volgens die dagmoeder was die merk aan sy boud waar hy seergekry het toe hy gegly het en die merk aan Cody se sy waar sy hom gevang het.

“Ek het dit dadelik nie geglo nie. Hoe kan ʼn baba van elf maande oud tot hoog bo-op ʼn klimraam klouter? En hoe hard moes sy hom gevang het dat die merke ure later nog steeds daar gesit het?” het Pretorius gesê. Sy het gesê sy was baie ontsteld en het onmiddellik haar kind uit die dagmoeder se sorg gehaal.

“[Die dagmoeder] het vir my gesê sy kan nie verstaan hoekom ek so ʼn groot bohaai maak nie en sulke aantygings teen haar maak nie,” het Pretorius gesê. Volgens haar het die dagmoder slegs twee kinders versorg en was dit Vrydag in elk geval die ander kind se laaste dag daar, omdat sy ouers hom na ʼn kleuterskool toe geskuif het. Maroela Media kon nie onmiddellik die dagmoeder vir kommentaar bereik nie.

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

Die merke op Cody se lyf. Foto: Facebook

Pretorius en haar verloofde, Ashley Panaino, is die volgende dag na die polisiestasie om ʼn klag in te dien. Sy vertel die polisiebeamptes het haar ingelig sy moet Cody eers na ʼn dokter toe vat om na sy beserings te kyk voordat sy ʼn klag kan indien. “Teen daardie tyd was die merke al weg en daarom sou dit geen doel dien om hom dokter toe te vat nie. Ons moes dit maar daar laat,” het sy gesê.

Pretorius het gesê sy het Cody juis sewe maande gelede by die betrokke dagmoeder geplaas, omdat sy geglo het hy sal meer aandag daar kry as by ʼn dagmoeder met meer kinders. “Ek het voor die tyd goeie goed oor die dagmoeder by ʼn ander ma gehoor, maar ek het nog altyd ʼn vreemde gevoel oor haar gehad en gewonder of Cody gelukkig is. Die vrou was altyd baie streng met die kinders en het vir Cody gesê hy is stout as hy begin huil wanneer ek hom aflaai. Dalk het sy hom in die verlede al baie pakslae gegee as hy huil en hierdie keer het dit net merke gelaat. Ek sal seker nooit weet nie,” het Pretorius gesê.

“Ek het hierdie foto’s op sosiale media gedeel om ander ouers te waarsku. Ander ouers moet weet om op die uitkyk te wees vir tekens dat hul kinders dalk nie goed behandel word by die skool nie. Cody het gelukkig nie ernstig seergekry nie, maar ek wil verhoed dat dit met iemand anders gebeur.”

Maroela Media het kenners oor die onderwerp genader en sal later berig oor hoe ouers soortgelyke situasies moet hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

97 Kommentare

jongste oudste gewildste
charmaine

maak die dagmoeder se identiteit bekend.

Leana

Dit lyk soos vingermerkte waar sy hom geslaan het. Kla die dagmoeder aan. Wonder hoeveel kinders het sy nog geslaan.

Charl

OPVOEDING moet gedoen word ja maar nie op so klein kind nie.. om so klein kind te slaam deer n dagmoeder is nie reg nie…

Uys

Met infrarooi kan die merke onder die vel met n kamera af geneem word nadat dit op die vel nie sigbaar is nie.
Polisie gebruik die tegniek.
Ek ken die fotograaf wat dit help ontwikkel het. Kontak my gerus.

Avontuurlustig

Pasop vir klippe gooi. My ma het my aan die buitekant van die kombuis venster gekry waar ek haar geroep het om te kyk. Ek het ‘n stoel tot by die kas geskuif, opgeklim en oor die wasbak tot by die venster geklim en uit by die diefwering tot buite waar ek haar geroep het. Ek was nege-en-‘n-half maande oud. Ek het op ouderdom 2 reeds ‘n arm EN ‘n been gebreek. Daar was nie ‘n kas te hoog om te klim of ‘n bed te hard om op te spring nie. Dis is/was my geaardheid en nie my ma,… Lees meer »