Skok toe ‘vriend’ hom oorgee ná gru-moord op boer

Johan Pretorius (Foto: Facebook)

Die saak rakende die gru-moord op Johan Pretorius (46) het ʼn skokwending geneem nadat ʼn ‘vriend’ van dié boer van Nigel homself in verband met die moord aan die polisie oorgegee het.

Sers. Neliswa Dwaba, polisiewoordvoerder, het bevestig Adam Lukas van Staden (21) het homself Vrydag aan die polisie oorgegee ná ondervraging in verband met die moord op Pretorius.

Volgens Dwaba het Van Staden ook ʼn bekentenis afgelê en Maandag op ʼn aanklag van moord in die hof verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek en hy bly in aanhouding.

Pretorius se liggaam is die aand van 20 Junie langs sy bakkie by sy skoonpa, Daan Wessels, se plaashek in die Nigel-omgewing aan die Oos-Rand aangetref. Pretorius en sy vrou, Kobie, het in ʼn huis op die plaas gewoon.

Daar is kort voor 20:00 berigte ontvang dat ʼn bakkie op die plaas brand en dat daar ʼn liggaam langs die bakkie aangetref is. Daar was bloedspatsels teen die plaashek, wat met draad vasgebind was. Twee stukke van ’n piksteel is ook op die toneel gevind. Een deel van die piksteel is naby die hek gevind en die ander deel ’n ent verder. Die verbrande bakkie se deur het oopgestaan. Voor die bakkie is ’n bril en ’n skoen gevind.

Adam Lukas van Staden.

Pretorius is vermoedelik met die piksteel geslaan en in die bakkie geplaas voordat dit aan die brand gesteek is. Hy was moontlik bewusteloos en het later sy bewussyn herwin en probeer om uit die bakkie te kom. Dit was duidelik dat daar ’n struweling plaasgevind het.

Kobie was nie ver van die hek af nie in die plaashuis toe haar man aangeval is. Sy het vroeër die aand haar pa gebel en gesê het dat die veld naby die huis brand en dat haar man nog nie tuis was nie.

Kobie het Dinsdagoggend gesê sy is geskok oor Van Staden se beweerde betrokkenheid by die moord. Sy het hom as ʼn vriend van haar en Johan beskryf en gesê hy het gereeld op die plaas uitgehelp.

“Hy was hardwerkend en hulpvaardig en wanneer ʼn mens hulp nodig gehad het, was hy bereid om te help soos hy met talle ander mense ook gedoen het.”

Kobie het intussen van die plaas dorp toe getrek saam met hul dogtertjie. “Met my en klein Liezel gaan dit goed; net geskok en die verlange is baie groot. Ons sukkel om te slaap in die aande, maar ons probeer maar aangaan.”

Deon Pretorius, eienaar van Monitor24-sekuriteit en geen familie van Johan nie, het vroeër aan Maroela Media gesê in sy 20 jaar in die sekuriteitbedryf het hy nog nooit so ’n grusame toneel gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dan ·

Bou ‘n nasie… ek slaan my hande letterlik saam!!
SKOKKEND. Ek bid vir vertroosting, berusting en moed vir die familie en gesinnetjie wat moet oorleef sonder broodwinner, man en papa, seun en neef/ oom, die lys gaan aan.. Mag die aanvaller sy geregtigheid teekom en mag God op sy siel inwerk.

Nico Strydom ·

Dagsê Nella
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

treurgrond ·

Hoe doen ‘n mens dit aan jou vriend – nee man seriously waar hierdie wereld is skokkend.

KaterinaKat ·

Lyk my ons blankes is nie eens veilig tussen ons eie etnisiteit nie. Kyk ook na die arme ouer man wat so horribaal aangerand is deur blanke jonger mans nou die dag. Dan is daar hierdie saak, die Bylsma klong wat die 2 jong meisies vermoor het..Rhode en ander wat hul vroue vermoor het..Henri van Breda wat sy hele gesin behalwe sy sussie uitgewis het.. en soveel meer. Nee mens weet nie meer wat om te dink nie. Dis soos n horror fliek wat 24/7 speel in hierdie vervloekte land. Soos om 24/7 n horrorfliek te kyk in n movie theatre in die Hel.

oop oge ·

…en dis maar die begin … (`n Voorskou van die eintlike movie wat reeds vrygestel is…)

Fanjan ·

Hy was verseker geen vriend van Johan nie,van Kobie wel
Dat hy haar wel gehelp het met baie is nie te betwyfel nie…….
ek vermoed die dramatiese wending is nog oppad…

Susan Peters ·

Fanjan – ken jy die mense persoonlik? Jy maak aanmerkings asof jy deel is van die familie of vriendekring. As jy feite en bewyse het, neem dit asseblief na die polisie, andersins hou jy jou vieslike ongevraagde opmerkings vir jouself. Genade tog!!!

Jakes ·

Die wreedheid van hierdie moord spreek boekdele.
Jaloesie is waarskynlik ñ faktor.

Anoniem ·

Ek ken hulle persoonlik, en Fanjan is heeltemal reg, daar is meer as wat julle weer. Johan was ‘n baie rustige mens. So ek dink almal kan ophou wonder en hoop die gereg gaan sy gang en al die skuldiges op spoor.

se net ·

Liefdesdriehoek of dalk betalings wat nooit gemaak is nie. Dit is 2 goed wat aanleiding kon gee na die wrede gedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.