Skokfeite in Johan Booysen-saak onthul

Johan Booysen

Johan Booysen

Op die dag wat Johan Booysen, hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, geskors is, het die man wat hom geskors het, sowel as die provinsiale hoof van die polisie, probeer om toegang tot sy kantoor te kry.

Booysen, wat verlede maand geskors is na bewerings van korrupsie, het Vrydag in ʼn verklaring aan die Durbanse hooggeregshof gesê lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, KZN polisiekommissaris, genl.maj. Berning Ntlemeza, die nuut-aangestelde hoof van die Valke en verskeie ander beamptes het probeer om by sy kantoor in te kom.

Hy het ook bekendgemaak dat hy steeds besig was om Ngobeni te ondersoek vir beweerde korrupsie en dat hy glo sy skorsing hou verband met die ondersoek. Booysen het homself vroeër tot die hof gewend het om sy skorsing te beveg.

“Ek is betrokke by hooggeplaaste en belangrike ondersoeke na korrupsie wat ʼn senior beampte van die SAPD, die huide provinsiale kommissaris van KZN [Ngobeni], insluit. Ek het geen twyfel dat my skorsing verband hou met hierdie ondersoek nie en dit is geen toeval dat die provinsiale kommissaris persoonlik na my kantoor gekom het saam met ʼn hele aantal ander senior polisiebeamptes en toegang geëis het op die dag wat ek geskors is nie. Gelukkig was my kantoor gesluit en kon sy nie inkom nie,” het Booysen gesê.

Ntlemeza het in sy verklaring vroeër vandeesweek beweer Booysen en sy span was aangesê om die moord van ʼn polisiebeampte te ondersoek en het toe verkeerdelik ʼn beloning ontvang nadat hulle ses onskuldige mans doodgeskiet het. Hy het ook beweer die beloning is aangebied vir die opsporing van supt. Zethembe Chonco se moordenaars, maar dat die saaknommer wat Booysen gebruik het om die beloning te ontvang, vir onverwante sake van huisbraak en motordiefstal was.

Booysen het egter die bewering ontken en het gesê hy het nie die dokument wat gebruik is om die beloning te eis, opgestel nie en hy het niks te doen gehad met die beloning nie. Booysen beweer daar was ʼn tikfout in die saaknommers.

Hy bevraagteken in sy verklaring waarom agt swaargewapende polisiebeamptes gestuur is om hom in te lig dat daar ʼn departementele ondersoek na die saaknommer-kwessie is. “Die magsvertoning was heeltemal buitensporig teenoor die bewerings teen my en ek kan net redelik aflei dat dit gedoen is om my te intimideer,” het hy gesê.

Booysen het ook genoem dat Ntlemeza se verhouding met Ngobeni baie nader is as wat Ntlemeza wou erken en dat die twee verskeie kere deur die jaar ontmoet het.  Hy het ook bevraagteken waarom die amptenare wat die beloning moes goedkeur, dit sou uitgereik het vir huisbraak en motordiefstal sake.

Booysen was besig met ʼn ondersoek teen Ngobeni oor haar bande met die Durbanse sakeman Thoshan Panday. Booysen het voorheen beweer dat Ngobeni hom beveel het om sy ondersoek na Panday te staak en kort daarna het Panday vir Ngobeni se man se verjaarsdagpartytjie betaal.

Die saak sal volgende week in die hof voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Die ou soetkoekie brigade het al weer toegeslaan niks is gese wat nie voor die handliggend in SA is nie.

Gerhardt ·

Panday, Bhaana, Reddy, Shaik, Hulley… wat is die gemene deler?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.