Skokfeite oor vuishou van droogte op landboubedryf

agrisa-droogte-02-2019-01-25.

Jannie de Villiers van Graan SA het sy kommer oor die mielieoeste in veral die weste van Suid-Afrika uitgespreek. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Net Gauteng en Mpumalanga se watervoorsieningsvooruitsigte vir die landboubedryf is tans stabiel terwyl die res van Suid-Afrika sedert 2016 met voortslepende droogtes geteister word.

Dit het die landbou-organisasie Agri SA genoop om in Desember ʼn opname te doen onder sy lede om ʼn akkurate assessering van die uitwerking van die droogte op boerdery en werkskepping in die sektor te kry.

Volgens die opname het die droogtetoestande reeds ʼn kritieke vlak in die Oos-Kaap, Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes en die Wes-Kaap bereik.

Sedert Januarie 2018 het die bedryf reeds ʼn verlies van sowat 31 000 werksgeleenthede gehad en finansiële verliese van R7 miljard gely.

ʼn Verdere 70% van respondente in dié opname het aangedui hulle verkeer onder geweldige finansiële druk en meer as 50% het gesê hulle sal werkers moet aflê.

Die opname het ook uitgewys dat die droogtetydperk ʼn verwoestende uitwerking op gewasse gehad het en daar is deurlopend ʼn verhoogde risiko vir veldbrande weens die dorre toestande van weidings.

“Die ekonomiese invloed van die droogtes is uitermatig, maar ons moet ook aan die emosionele skade dink. Mense verloor hulle werk en plase sluit op ʼn tyd wanneer ons juis voedselsekerheid moet verstewig en werkskepping benodig.

“Meer as die helfte van boere ly onder meer aan depressie en angs weens die uitdagings en skade te wyte aan die droogte,” het Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur, gesê.

Volgens Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sal die landboubedryf na raming R3 miljard benodig om dit deur die volgende jaar te dra.

“Boere het tans ernstige probleme met produksiekrediet en kontantvloei. Die afgelope drie jaar se droogtes het enige buffer uitgeput wat boere veral in die graanbedryf nog gehad het.

“Boere in die vee en lewendehawebedryf sukkel ook met kontantvloeiprobleme en bystand met die voorsiening van voer en vervoersubsidies sal hier verskaf moet word om boere ten minste deur hierdie seisoen te dra.”

Jannie de Villiers van Graan SA het sy kommer oor die mielieoeste in veral die weste van Suid-Afrika uitgespreek.

“As ons nie reën hierdie naweek in van dié gebiede kry nie sal die meeste gewasse vrek. Hulle wortelstelsels kan net nie hierdie hittegolwe deurstaan nie. Dit sal graanproduksie in Suid-Afrika onder groot druk plaas en beteken ons sal groot hoeveelhede mielies moet invoer.”

agrisa-droogte-01-2019-01-25

’n Uiteensetting van hoe die watervoorsieningsvooruitsigte vir die landboubedryf tans lyk. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

De Villiers het bygevoeg dat die droogte die prys van witmielies reeds met 60% laat styg het en verbruikers sal in die komende maande prysverhogings van ʼn produk soos pap moet absorbeer.

“Die prys van geelmielies het met sowat 40% gestyg. Dié soort mielies word hoofsaaklik as voer gebruik en sal die insetkoste van suiwelprodukte, hoenderbedryfprodukte, eiers en rooivleis tref.”

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO), het gesê die droogte plaas bykomende druk op hulle bedryf waar faktore soos die verlies aan die bedryf se bek-en-klouseervrye status en invoersyfers hulle reeds talle terugslae besorg het.

“Die toekoms van Suid-Afrika se landboubedryf sal net verseker kan word deur ʼn spanpoging. Ons het droogtehulp nodig wat gereed moet wees teen die einde van die winterseisoen.

“Die bedryf moet ook so gou moontlik ons bek-en-klouseervrye sone terugkry en vertroue in die mark herstel word met beleidsekerheid en ekonomiese groei.”

Van Zyl het gesê georganiseerde landbou sal binnekort samesprekings voer met die regering, banke, landbou-ondernemings en die nasionale ramphulpsentrum om planne te beraam om die uitdagings van boere die hoof te probeer bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

HENK NIEMANN ·

Ons kan net ons land aan die Here opdrae en vra da Hy die hemele sal oopmaak op Sy tyd.

Ja Nee ·

Ja die droogte is baie erg maar die regering is erger hulle gee nie om of stel belang in die boere nie. Eers wanneer kos pryse deur die dak styg en daar hongersnood is – eers dan sal die waarde van die boer verstaan word.

Geregtigheid ·

Dis tyd om op ons kniee te gaan en by die Pleit vir vergifnis van sonde en dan sal HY ons land genees. Tyd dat ons GELOOF MOET TOEPAS. Dis nie tyd om te kla nie. Maak sake reg by God en staan voor Hom blaamloos. Hy is getrou om te hoor en te antwoord.

Hendrik ·

Geregtigheid , Die boere is gedurig op hul kniee. Wie is die ons waarvan jy praat?

Michelle ·

Nee ons kan nie net bly bid nie ons moet luister en ons moet samewerking gee die aarde is warm ons seisoene het verander almal van ons in die wêreld het dit veroorsaak ons hete die aarde warm gemaak gaan lees op ons moet vra dat God ons genadig moet wees dit is al waaroor ons kan vra en aanhou vra.

Deon ·

Stem saam Michelle. Ons aardbewoners is besig om die planeet skade te berokken. Maar die aarde sal haarself regruk. Of die mens gaan oorleef is ‘n ander vraag.

Robert ·

stem met henk en geregtigheid: nie nou tyd om politieke praatjies te maak nie. nederigheid is nou die pad vorentoe en skaamtelose/onverskrokke vertoue in die Here om ons van die droogte greep te verlos.

John ·

Miskien moet die krisisse in dorpe en stede ook hierby gereken word. Die mense trek orals swaar. Duisende plante en grasperke wat aangeplant is, is dood. Waterbeperkings bring erge probleme en onkoste. Indien mense nie geld het nie kan hulle ook nie kos koop nie. Boere moet ook bid vir die verbruikers van hul produkte. Die droogte is meer as net besoedeling… die son verskroei alles. Indien die westelike dele woestynagtig raak, sal ander benaderings moet realiseer. Of is ‘n Depressie op hande?

Joon ·

Voorvader geeste regeer ons land. Christen is verdeeld. Elke predikant Wil op sy eie mishoop kraai. Ons moet besef daar is net 1 God
. Elke knee Sal buig, elke men’s erken dat HY GOD is. Christen bid dat julle oe Sal opgaan voor dat dit te laat is. God Wil nie net hoorders he nie, maar daders ook.

Boland ·

Kom ek se vir julle waar die probleem le met die landbou en pryse van produkte.Die winkelgroepe rook die verbruiker oop oe.Kyk maar hoeveel nuwe winkels word elke dag gebou.Die verskil tussen n special en gewone prys is enorm.En dan maak hulle nogsteeds wins op n special.As jy kyk wat die boer kry en wat die verbruiker betaal dan behoort hulle hulle te skaam.

Andre ·

Wat die kettingwinkels moet besef is dat hulle binnekort SONDER bekostigbare produkte sal wees om aan die vebruikers te verkoop.

Ek stel voor dat die kettingwinkelgroepe ‘n OORLEWINGSFONDS stig ten bate van die landbouers.

As verantwoordelike verbruikers sal ons bereid wees om ‘n spesiale heffing te betaal op alle SA produkte om te help om die OORLEWINGSFONDS op te bou sodat die landbouers die skrikwekkende droogte kan oorleef.

Twisted mind.. ·

Die droogte is gestuur vir n rede.. die wat wil grond gryp is nou in n tweestryd. Wil ek of wil ek nie?!.. nou kan die klomp wat dink om grond te besit is maanskyn en rose, sien dit is hel!! veral as daar n droogtetoestand is.. hulle wil mos net hê as dit goed gaan..as dit sleg gaan word dit gesê ja dis appartheid se skuld.. Druk deur boere, ek is op my kniee en ek weet ons almal sal beter uitkom anderkant. NIKS in die lewe gebeur sommer net nie, selfs nie eers droogte nie!

P ·

Ons boer ook niemand, maar niemand het n idee hoe dit gaan nie. Elke dag se hoop dalk reën dit vandag maar net wind en hitte.

Riet ·

Wat is die moontlikheid vir boere om oorteskakel na meer droogtebestande gewasse, soos pearl millet en finger millet. Dalk moet daar net anders gedink word as tradisionele gewasse. Vra maar net

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.