Skokgetuienis oor Zuma, Myeni en Gupta-broer se inmenging by Eskom

Argieffoto: GCIS

Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van Eskom se raad, het Woensdag vir pres. Jacob Zuma en Dudu Myeni, voormalige voorsitter van SAL, die staatsbeheerde lugdiens,  geïmpliseer in inmenging by Eskom.

Tsotsi het voor die parlementere ondersoekkomitee getuig oor aantygings van staatskaping by Eskom. Tsotsi het gesê ná die aanstelling van nuwe raadslede in 2015 het daar “ontstellende” goed gebeur wat minister Lynne Brown, Zuma, Myeni en een van die Gupta-broers insluit.

Volgens Tsotsi is hy na ʼn vergadering met Brown genooi voor die staatsrede in 2015. Volgens hom het Brown hom daarvan beskuldig dat hy inmeng by Eskom se bestuur ná klagtes van raadslede. Volgens hom het hy daarop geantwoord: “Minister, meeste raadslede weet nie eens hoe ek lyk nie en het nog nie saam met my gewerk nie. In terme van die bestuur: As die feit dat ek hulle besluite kritiseer en hulle verantwoordbaar hou vir hul aksies beteken ek meng in met bestuur dan sal ek graag daarmee voortgaan.”

Volgens hom is hy dieselfde middag deur Tony Gupta genader vir ʼn vergadering. Volgens Tsotsi het Tony vir hom gesê: “Voorsitter, jy help ons met niks. Ons is die een wat jou in dié posisie gesit het, ons is die een wat dit van jou af kan wegvat!”

Tsotsi het gesê die toeval van die twee vergaderings het hom opgeval. Die nuwe raad moes op 26 Februarie vergader, maar Zuma het Tsotsi glo die aand voor die tyd gebel.

“Die president het toe vir my gesê die vergadering gaan nie plaasvind nie en dat die waarnemende direkteur-generaal (DG) [van openbare ondernemings] my sal bel om te vra dat ek dit uitstel,” het Tsotsi gesê.

Die DG het hom toe glo kort daarna gebel en vir hom gesê Brown het versoek dat die vergadering uitgestel moet word en dat sy nie redes daarvoor verskaf het nie.

Volgens Tsotsi het Myeni hom ʼn week ná die raadsvergadering sou plaasvind gebel. “Sy het gesê ek moet my regmaak vir ʼn ontmoeting met die president en wou nie enige verdere besonderhede oor die foon bespreek nie.”

Tsotsi het gesê hy het Myeni ontmoet by die president se ampswoning in Durban. Sy het glo vir hom gesê ʼn ondersoek sal na Eskom gedoen word en dat drie uitvoerende beamptes naamlik Tshediso Matona, Dan Marokane en Matshele Koko geskors gaan word.

Volgens Tsotsi het hy die vergadering skokkend gevind en het hy vir Myeni gesê die skorsing van die beamptes is ʼn “resep vir onstabiliteit in die maatskappy”.

Myeni het toe glo vir hom gesê die beamptes sal nie van vuilspel beskuldig word nie, maar net opsy geskuif word sodat die ondersoek “sonder hul teenwoordigheid” kan voortgaan.

Zuma het toe glo die vertrek binnegekom en vir Tsotsi gevra of hy weet wie die beamptes is wat geskors moet word.

Die besluit om die drie beamptes te skors is op ʼn vergadering op 11 Maart in 2015 geneem waar Brown teenwoordig was. Tsotsi het gesê hy het dieselfde middag die onaangenaamste en vernederendste ervaring as voorsitter van die raad gehad.

“Die hoof van Eskom se tesourie het my in kennis gestel dat ons beleggers en leners reg oor die wêreld gaan bel vir ʼn verduideliking oor die besluit om die beamptes te skors. Ek het met ongeveer 52 mense op die telefoon gepraat om iets te verdedig wat eintlik nie verdedigbaar was nie.”

Volgens Tsotsi het dinge van daar af net vererger. “Die raad het ʼn regsfirma gekry om klagtes teen my op te maak dat ek kwansuis nie gepas is om ʼn direkteur van die maatskappy te wees nie.

“Op 23 Maart is ek in die middel van die nag die ultimatum gegee [deur die raad] om te bedank of aangekla te word dat ek nie voldoen aan die vereistes vir ʼn direkteur nie. Ek het onder dwang bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KP ·

Ek volg hierdie verhoor van hoe hierdie eens suksesvolle organisasie verval het tot bangkrotskap. Dan vertel Molefe hulle ook weer net die helfte van die waarheid soos bv dat sy uitbetaling van sy pensioen net n bedrag was maar noem gerieflikheids onthalwe nie dat die res in pensioenfonds bele is vir hom vir n aardige maandelikse pensioen nie. Wens hulle wil n dag opsy sit vir publike insae.

Vryheid ·

So wat maak die berig saak, daar sal niks met zuma en sy broers gebeur nie. Hulle sal soos hul oom bob wegkom met moord en dan nog n offisiele bedanking daarvoor kry.

John ·

Dudu is skynbaar ‘n niggie met vele talente en belangstellings… Sy bestuur Eskom en die SAL skynbaar lag-lag… trippel hier in en daar uit. Watter chaos is ons semi-staatsinstellings nie in nie. En die ergste is dat diegene wat die kattekwaad aanvang so onaantasbaar is soos al die koeie in Indie…

Alida ·

Daar is nie ‘n beter tyd om nou Zim se voorbeeld te volg en ontslae te raak van hierdie klomp skelms nie. Dit maak mens siek om die berigte te lees maar hoor NOOIT van enige vervolging nie. Dit maak nie sin nie.

Bullseye ·

Vraag is wat gaan hieraan gedoen word? Hoeveel bewyse is nog nodig om oor te gaan tot aksie om hulle tot verantwoording te roep??

Popeye ·

Tsotsi sing nou soos ‘n kanarie, ‘n gele! Ek moet sê; ek het met skou-Budjies geboer vir 20 jaar voor ek te oud en swak geraak het. My herinnering van skoue was dat die Kanaries baie mooier gesing het as die Budgies se tjirpe. Tsotsi (ironiese van) jou gesang hoop ek gaan die Aasvoëls se gekrys stil maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.