Skokgolwe oor video van leerder wat medeleerder met skêr steek

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die DA het Saterdag sy skok uitgespreek oor ʼn voorval by ʼn Durbanse hoërskool waartydens ʼn leerder glo met ʼn skêr gesteek is.

Dr. Rishigen Viranna, die DA se woordvoerder vir onderwys in KwaZulu-Natal, het gesê ʼn video van die voorval wat glo die ronde op sosiale media doen, toon hoe twee leerders baklei voordat ʼn derde party ʼn skêr vir een van die leerders aangee waarna hy die ander leerder daarmee steek.

Die voorval speel glo in ʼn klaskamer af en het na bewering twee weke gelede gebeur.

Viranna het gesê hy is bekommerd dat daar oënskynlik nie ʼn onderwyser was om toesig te hou oor die leerders ten tyde van die voorval nie. “Óf die onderwyser was nie teenwoordig in die klaskamer nie, óf die persoon het geen aksie geneem om die bakleiery te beëindig nie,” het hy gesê.

Volgens hom is die leerder wat die ander leerder met ʼn skêr gesteek het reeds geskors. Hy het egter sy kommer uitgespreek dat dissiplinêre stappe nie ook die leerder wat die skêr oorhandig het sowel as die onderwyser insluit nie. Hy het bygevoeg ouers beweer verder ook dat die voorval onder die mat ingevee word.

“Die bewerings dat die skool die voorval probeer wegsteek is uiters kommerwekkend. Beloftes dat skole bykomende sekuriteit sal ontvang, blyk nie die geval hier te wees nie,” het hy gesê.

Viranna het ʼn beroep op Mthandeni Dlungwane, LUR van onderwys in die provinsie, gedoen om ʼn dringende ondersoek na die voorval van stapel te stuur en die volledige verslag oor die voorval dan bekend te maak.

Hy het die parlementêre portefeuljekomitee ook gevra dat dié saak “dringend aandag kry”. “Ons leerders verdien om beskerm te word in klaskamers, nie aangeval te word nie. Klaskamers moet gebruik word om kinders te onderrig en nie vir geweld nie,” het hy gesê.

Kwazi Mthethwa, woordvoerder van die departement van onderwys in KwaZulu-Natal, het intussen bevestig dat die departement die video onder oë gehad het, maar nog in die proses is om vas te stel of die voorval wel by ʼn KwaZulu-Natalse skool plaasgevind het.

Mthethwa het gesê stappe sal wel gedoen word indien daar bevestiging ontvang word dat die voorval by ʼn skool in die provinsie plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Van die eerste sker voorval in Vryburg, deur Andrew Babeile wat wit leerling aangeval het, het baie sulke insedente gevolg. Hy het ‘n helde verering deur die ANC ontvang, omdat dit kastig n rasse voorval was en die blanke leerling dit noodwendig verdien het. Die persoon wat in beheer was van SA, wie se naam nie genoem mag word in n negatiewe konteks nie, het niks gese tewyl die saad vir hierdie krimenele gedrag geplant is.

SAnik(s) ·

Gedwonge integrasie werk nie. Dit is direk die oorsaak ban baie aanvalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.