Skokkende syfers oor kleuters se leervermoë bekend

(Foto: Erika Fletcher/Unsplash)

ʼn Onlangse opname oor kleuters se leergereedheid het bevind dat bykans die helfte van vier‑ tot vyfjariges wat sentrums vir vroeë kinderontwikkeling bywoon, nie op dreef en gerat is vir gr. R nie. Die helfte van die groep wat geassesseer is, kon nie die take doen wat van hulle verwag is nie en ʼn kwart van hulle funksioneer nie op die sosiale en emosionele vlak vir hul ouderdomsgroep nie.

Die Thrive by Five-indeks is deur die First National Bank (FNB) en Innovation Edge in samewerking met die departement van onderwys van stapel gestuur en deur die VSA se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) en die datamaatskappy ECD Measures ondersteun.

Sowat 5 000 kinders tussen vier en vyf jaar oud wat by verskeie vroeëkinderontwikkelingsprogramme (VKO-programme) reg oor die land ingeskryf is, is tydens die opname geëvalueer.

Daar is onder meer na vroeë leer, fisieke groei en sosiale emosionele funksionering onder dié kinders gekyk, aangesien dié onwikkelingsgebiede aanduidend is van ʼn kind se prestasie op skool. Leertake wat geassesseer is, val in vyf groepe, naamlik groot en fyn motoriese vaardighede, vroeë geletterdheid en wiskunde, asook uitvoerende funksionering, wat die vermoë is om probleme op te los en aandag te gee.

Kinders nie op koers om te leer

Daar is bevind dat 65% van kinders in dié ouderdomsgroepe nie in die leerprogramme wat hulle bywoon, floreer nie. Hulle voldoen ook nie aan die verwagte vroeë leer- en/of fisieke groeistandaarde vir hul ouderdom nie, wat beteken dat hulle gr. R met ʼn aansienlike agterstand sal afskop. Dít kan moontlik ook langtermyngevolge vir hul opvoeding inhou.

Die indeks dui voorts aan dat 55% van kinders wat VKO-programme bywoon, nie die leertake kan doen wat van kinders van hul ouderdom verwag word nie, met 28% van kinders wat ver onder die verwagte standaard val.

Fisieke groei

Kinders se fisieke groei – gemeet aan hul verwagte lengte vir hul ouderdom – en sosiale emosionele funksionering is ook geassesseer. Albei is belangrike maatstawwe omdat dit ’n kind se vermoë om sukses op skool en daarna te behaal, beïnvloed.

Een uit elke vier kinders (25, 1%) het tekens van langdurige wanvoeding getoon, wat fisieke groei belemmer.

Die indeks dui aan dat kinders met groeivertragings gemiddeld swakker op skool as hul eweknieë vaar, en meer geneig is om as volwassenes werkloos te wees. Hulle loop ook ’n groter risiko om siektes soos diabetes en hipertensie op te doen en is kwesbaar om in intergenerasie-siklusse van armoede te verval.

Sosiale emosionele funksionering

Die indeks het verder bevind dat 27, 5% van kinders nie aan die standaard van sosiale emosionele funksionering voldoen wat ouderdomstoepaslike sosiale verhoudings met maats en volwassenes betref nie, terwyl 33, 4% nie emosioneel gereed is vir skool nie.

Kinders uit arm huishoudings ergste benadeel 

Hoewel die indeks wisselende vlakke van prestasie onder kinders in verskillende inkomstegroepe opgemerk het, is bevind dat kinders uit armer huishoudings gemiddeld swakker as hul eweknieë vaar. Dit kan toegeskryf word aan die uitdagings wat hulle reeds in hul vroegste jare ervaar.  Kinders wat van geboorte af ʼn koesterende en veilige omgewing ervaar en toegang tot gehalte gesondheidsorg, kos en leergeleenthede het, floreer egter volgens die indeks teen die ouderdom van vyf.

Dringende optrede nodig  

Die Thrive by Five Index-vennootskap het ’n beroep gedoen op dringende kollektiewe optrede om die prestasiegaping tussen jong kinders in die rykste en armste huishoudings te verminder sodat meer kinders op sukses voorberei kan word. “Die Thrive by Five-indeks het werklik skerp gefokus op die belangrikheid van vroeë leerprogramme in die vorming van die nasie se toekomstige leiers. Boonop sal die indeks die departement in staat stel om vordering te moniteer in die verskaffing van geïntegreerde dienste wat tot verbeterde uitkomste oor die volgende 10 jaar sal lei,” het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gesê.

Volgens FNB het die indeks het ten doel om ʼn positiewe uitwerking op die vroeë kinderontwikkeling-ekostelsel te hê, wat hulle voortdurend sal ondersteun en in belê.

“Die waarde van hierdie indeks is dat dit ons kollektief in staat stel om optimale ondersteuning aan ons kinders te bied terwyl hulle van grondvlak tot volwassenheid vorder. Thrive by Five se uitvoerbare insigte sal geteikende ingrypings beïnvloed, wat tot kwantitatiewe en kwalitatiewe uitkomste lei. Gevolglik is dit alle belanghebbendes se plig om meetbare vordering in die komende jare te verseker,” sê Jacques Celliers, hoof‑ uitvoerende beampte van FNB.

Sonja Giese, voormalige uitvoerende direkteur van Innovation Edge en projekleier van die Thrive by Five-indeks, sê dat Suid-Afrika se ontwikkelingsdoelwitte om ongelykheid te verminder slegs sal realiseer as die beduidende uitdagings wat jong kinders in hul vroegste jare ervaar, getakel word.

“Die Amerikaanse regering, deur USAID en ons vennote Innovation Edge en FNB, het ’n gedeelde visie met die Suid-Afrikaanse regering om die kernoorsake van sosio-ekonomiese ongelykheid te takel.

“Dié visie begin by die opvoeding van jongmense – in dié geval die jongstes. Thrive by Five se data sal ’n raamwerk aan die departement van basiese onderwys verskaf om die volgende generasie Suid-Afrikaners te help om in ’n regverdige en gelyke samelewing te floreer,” sê Andy Karas, direkteur by USAID.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Wat het geword van kinders bly kinders en moet speel!

ABDP

Hoekom moet daar gestrewe word om die gaping tussen die wat goed presteer en goed vaar te, en die wat swak preseer en stadig vorder, te verklein? Ek dink dit is reuse denkwyse fout. Daar moet gestrewe word om die wat agter is en wat stadig vorder, op die vlak te bring waar hulle moet wees en die wat wel presteer, toelaat om voort te presteer. In ons land sal hulle die wat presteer se hulpbronne van hulle wil ontneem om sodoende die wat agter te ook ‘n “gelyke” kans op prestasie te bied want regtig waar mos nie sin… Lees meer »

Grens

Ja, dis hoekom Afrika die domste mense in die wereld het.

Bella

Een van die grootste oorsake is wanvoeding. Die kinders kry gewoon nie genoeg kos om te eet en ontwikkel nie. Maar die ANC regering wil R5 miljard gee vir hul Kubaanse makkers. Skandalig.

Anel

As hulle ophou om kinder toelaes te betaal, sal daar dalk minder kinders gekry word. Want daardie toelaag word nie gebruik vir die kinders nie. Dit word opgesuip en op gerook. So begin daar. Verder beboet die lot wat kinders kry wat nie vir hulle kan sorg nie, of stuur hulle na werkskampe waar hulle kan kos plant vir die kinders. Dalk word hulle ontmoedig. Begin met minder kinders hê. Maar nou ja, dis wensdenkery!!!