Skoksyfers oor kleuters se eetgewoontes onthul

Kleuters-se-voeding-02

Helpende Hand het reeds met die hulp van ʼn dieetkundige verskeie spyskaarte opgestel wat vir kleuterskole en ouers beskikbaar gestel word om optimale voedingspatrone by kleuters te vestig. Foto: Esté Meyer Jansen.

Sowat een uit elke tien kleuters kry hulle enigste maaltyd van die dag by ʼn kleuterskool. ʼn Verdere 22,2% van kleuters kry net nog een maaltyd tuis.

Dit was van die skokkende sleutelbevindings van ʼn studie wat Markdata by 550 kleuters tussen die ouderdom van twee en ses jaar gedoen het in opdrag van Solidariteit Helpende Hand. Die studie toon verskeie skokkende feite rakende die wanvoeding van behoeftige kleuters en is vandag, met die afskop van Helpende Hand se jaarlikse nasionale Kosblikkieprojek, bekendgestel. Die Kosblikkieprojek word jaarliks by behoeftige Afrikaanse kleuterskole aangebied en bied vanjaar weer daaglikse voeding aan nagenoeg 4 400 kleuters.

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is die studie onderneem om te bepaal wat die eetgewoontes van kleuters is en om sodoende te help verseker dat Helpende Hand se voeding aan kleuters optimaal aangebied word. “Die studie toon dat wanvoeding tans ʼn groter probleem as ondervoeding is. Hoewel kleuters meestal genoeg eet, is hulle eetgewoontes uiters ongesond en ongebalanseerd.” Die studie beklemtoon dat swak voeding ʼn negatiewe uitwerking op kinders se geestelike, emosionele en fisiese ontwikkeling kan hê.

“Kleuters ontvang dikwels net die noodsaaklike, maar nie optimale voeding nie,” het dr. Elsa Thirion-Venter, ʼn navorser van Markdata gesê. “Die eetpatrone van kinders sluit groot hoeveelhede stysel en koolhidrate in en die gevaar bestaan natuurlik dat dit ook dikwels leë koolhidrate kan wees. Min van die kleuters kry genoegsame vrugte en groete, asook kalsium en proteïene in.”

Volgens Erna Jörgensen, nog ʼn navorser van Markdata, is dit juis in hierdie ontwikkelingstadium van ʼn kind se lewe waar gesonde eetgewoontes kan help om toekomstige gesonde eetpatrone te vestig. Volgens haar is elke maaltyd boonop ook ʼn geleentheid om vaardighede te leer. “Ons navorsing toon dat baie kleuters blootgestel is aan voedselonsekerheid en nie noodwendig toegang het tot genoegsame voedsel nie. Dit kan lei tot swak sosiale vaardighede en leerprobleme, ʼn verkorte aandagspan en ʼn afname in nuuskierigheid by kleuters,” het Jörgensen gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle navorsing getoon het hóé belangrik kleuterskole en voedingskemas by die skole is. “Kleuterskole verskaf ʼn positiewe, liefdevolle en ondersteunde omgewing. Dit is die een plek waar kleuters die geleentheid het om ʼn goeie gebalanseerde maaltyd te ontvang en die standvastigheid van roetine te kry.”

Volgens Michellé Burger, projekorganiseerder van Helpende Hand se Kosblikkieprojek, sal die organisasie voortaan sterk fokus op optimale voeding van kleuters. “Die Kosblikkieprojek sal ook vitamien-aanvullings verskaf aan behoeftige kleuterskole. Verder het ons ʼn hulpgids met wenke en ʼn spyskaart vir ʼn gesonde dieet vir kleuters saamgestel wat aan kleuterskole versprei sal word. In die toekoms sal ons graag groentetuine by die kleuterskole wil begin wat nie net voedselonsekerheid sal verminder nie, maar ook ʼn volhoubare en goedkoper manier is om te verseker dat kinders en hulle gesinne genoeg groente en vrugte eet,” het sy gesê. Helpende Hand sal ook opleiding aan kleuterskole en kokke verskaf en hulle meer leer van voedselvoorbereiding en bewaring met die hulp van dieetkundiges.

Helpende Hand het reeds met die hulp van ʼn dieetkundige verskeie spyskaarte opgestel wat vir kleuterskole en ouers beskikbaar gestel word om optimale voedingspatrone by kleuters te vestig. Vir meer inligting oor dié spyskaart besoek www.kosblikkie.co.za.

Lesers kan Helpende Hand se Kosblikkieprojek ondersteun deur die woord ‘bord’ te SMS na 36930 en so R5-00 by te dra tot ʼn gesonde bord kos vir ʼn behoeftige kleuter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda Blom ·

Asb mense, sms jul R5.00 vir ‘n bord kos vir ‘n klein kindjie, peuter, kleuter of jong kindertjie om net hul magies te help vul…..dit is die minste wat ons kan doen vir die swaarkry van hierdie kinders…ons toekoms!! Groot asseblief, kom ons wend ‘n poging aan….elke sms is ‘n bord kos vir ‘n kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.